Die 18de Julie 2002 het soos enige ander dag begin vir Jenny Viljoen, ’n opgeleide Vanderbijlparkse pastoor en berader. Sy het haar dogter by die skool gaan aflaai en na die gemeente waar sy gewerk het, gery vir ’n vroegoggend-biduur. Haar man, Henna (toe 44), ’n konstruksiewerker, is reeds kort ná sesuur weg om werkers in die swart woonbuurt te gaan oplaai.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }Toe Jenny by die kerk opdaag, het haar kollegas en haar swaer, destyds die polisiehoof in Vereeniging, haar ingewag. Hulle het skoknuus gehad: vyftien minute nadat hy by die huis weg is, is Henna trompop by ’n stopstraat doodgeskiet. Later sou dit blyk dat dit deel van ’n bende-inlywing was. As Jenny se dogter nie daardie oggend daarop aangedring het dat hulle ’n ander pad skool toe ry nie, sou ma en dogter van die eerste mense op die moordtoneel gewees het. “Die Here het ons dit gespaar,” onthou sy.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }My eerste onderhoud met Jenny was in 2004, twee jaar ná Henna se dood. Haar lewensblyheid en warmte was opvallend, al kon sy daardie onheilsdag nog goed onthou.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }“My eerste woorde was dat ek nie die krag gehad het om daardeur te gaan nie. Tog het ek myself ook dadelik hoor sê dat ek, ondanks alles, steeds die Here sou dien. Ek glo dit was die krag van God. Hy het gehoor ek sê ek sal dit nie kan doen nie, en Hy het my woorde dadelik gekorrigeer. Hy het geweet ek sou daardeur kón gaan.”
Sy onthou hoe duisende gedagtes deur haar kop gemaal het, soos of Henna in die bittere koue sy trui aangehad het, hoe sy hul kinders (destyds in graad 12 en 24) sou moes vertel.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }“En natuurlik wou ek weet hoekom juis hy. Hy was dan ’n kind van God. Maar toe onthou ek dat Henna altyd gesê het hy wil nie ouer as veertig word nie. God het hom vier ekstra jare vir ons gegee.” (Later het sy ook onthou dat hy die week voor sy dood dikwels gesê het hy wil graag by God wees.)
Sy was nooit kwaad vir God nie, sê Jenny, maar sy wou tog weet hoekom haar gebede om haar man te beskerm, dan nie beantwoord is nie. “Ek het immers elke dag die bloed van Jesus oor hom afgebid.” Toe sy haar kinders die skoknuus vertel, het sy dit benadruk dat hulle almal die moordenaars moes vergewe ter wille van die gesin se langtermyn emosionele welsyn.
“Ons seer was onbeskryflik, maar ons moes hulle vryspreek, dit was makliker gesê as gedaan. ’n Mens se wil bots dikwels met dit wat die regte ding is om te doen.”
Jenny se besluit om nie op enige manier by die ondersoek na Henna se dood betrokke te raak nie, en ook nie die verhoor van sy moordenaars by te woon nie, sal baie mense dalk laat frons, maar vir haar was dit die regte ding om te doen. Sy glo dit sou geen doel dien nie, en dat dit net onnodige pyn sou veroorsaak.
“Ek weet mos ek gaan my man eendag weer sien,” sê sy met ’n breë glimlag.
Sy weet nou, tien jaar ná Henna se dood, glad nie wat intussen van haar man se moordenaars geword het nie, maar sy bid steeds vir hul siele.
“Ek kan dit nou met my hele hart doen, anders as aan die begin toe ek dit gedoen het omdat ek geweet het dit is die regte ding om te doen. Nie dat dit beteken ek wil nou saam met hulle gaan vakansie hou nie, hoor.”
Jenny glo onwrikbaar dat God genees en dat jy Hom moet vertrou vir genesing, maar sê ook dat dit ’n mens se eie keuse bly of jy wil voortgaan en genees, en of jy in die pyn van onvergifnis wil bly leef. Die dekade sedert die moord was nie aldag maklik nie. “Natuurlik het ek ook soms gevoel die Here het my vergeet. Ek het, met respek, gevoel soos Jesus seker die aand voor sy kruisiging moes gevoel het. Ek het bloed gesweet, maar my oog op die einddoel gehou. Vergifnis is iets wat jy nou moet doen ter wille van wat ná die aardse lewe op jou wag. Ek het geleer dat dit maklik is om te sê ek vergewe, maar dat dit iets heeltemal anders is om vergifnis te lééf. Dis nie ’n gerieflike situasie nie, as ek dit so kan stel. Maar dis beslis ook nie onmoontlik nie.”
Vergifnis het haar ook nie gevrywaar van al die normale emosies, soos ontkenning en woede, wat saam met ’n geliefde se dood gaan nie. Sy was woedend omdat hy gesê het dat hy wou sterf en omdat hy daardie oggend juis daardie pad gekies het.
“Beslis! Maar ek het ook sedertdien geleer dis ’n proses, ’n massiewe ding, ’n keuse wat jy oor en oor maak. Ek het dit destyds onmiddellik gedoen, want ek het geglo dis wat God van my verwag. Maar elke keer as ek hoor van iemand wat doodgeskiet word, spring daar steeds maar ’n ding in my op, want ek weet wat wag op die familie. Jy ken die chaos, die pyn, die ‘wat as’ … ”
Tog, sê sy, sy haat steeds nie. “God het elke mens met ’n gewete geskape en ek weet Henna se moordenaar se gewete sal hom iewers aankla.”
Jenny glo onwrikbaar in die krag van woorde. “Dit staan so in die Woord. Die mag van lewe en dood is in jou tong. Jy word wat jy glo. As jy heeltyd vir ’n kind sê hy kan nie wiskunde doen nie, sal hy dit nooit kan doen nie. Wat jy glo gaan gebeur, sal gebeur.”
Daarom is dit vir haar so belangrik om oor vergifnis te praat. “Jy sal die vrug van wat jy sê, beleef. As Christen glo ek dis ’n opdrag van God om te vergewe. Lees maar Mattheus 18. Dis nie ’n versoek nie, maar ’n opdrag.” tyds. “Toe was dit ’n keuse; nou het dit vir my ’n leefstyl geword.”
Sy beklemtoon dat die een wat die meeste by vergifnis baat sal vind, die een is wat vergewe. “As jy in jou kop iets teen iemand hou, bly jy op ’n emosionele vlak verbind aan die mens wat jy nie wil vergewe nie. ‘n Tronk het nie noodwendig tralies nie – jy kan jou eie tronk skep omdat jy nie bereid is om iemand of iets te vergewe nie. Stel daardie mens vry, want jy bly die slaaf van die mens aan wie jy iets skuld, veral as jy hom of haar vergifnis skuld.”
In haar berading sien sy dikwels hoe mense – sommige deur dokters na haar verwys – se bitterheid en onvermoë om te vergewe as depressie en angs en ander gesondheidsprobleme manifesteer.
“As negatiewe emosies jou lewe regeer, gaan jy nooit gesond word nie. Ek sê altyd vir mense die feit dat jy dalk nie aan swaartekrag glo nie, nie beteken dat dit nie bestaan nie. Net so met vergifnis. Dit werk, al glo jy dalk nie daarin nie. Daar is geen ander genesing vir ’n tragedie as vergifnis nie.”
“Onthou, vergifnis is ’n wilsbesluit. Dit kan moeilik wees om daarby te bly wanneer gevoelens van skok, woede en bitterheid weer opvlam. Maak dit vir jouself makliker deur hoe jy dink en praat. Navorsing wys dat ons iets meer negatief beleef as ons dit op ‘n negatiewe manier beskryf, en dit maak vergifnis moeiliker. Kies elke dag om jou gedagtes en woorde aktief te beheer:
1 Dink aan jouself as iemand wat ‘n slegte ervaring beleef het, maar nie as ’n slagoffer nie. Moenie sê “ek kan net nie vergeet wat hy aan my gedoen het nie”. Sê eerder: “dit was verskriklik, maar ek beweeg aan en gaan voluit leef”.
2 Dink aan jou as iemand wat die mag het om te kies om te vergewe. In plaas van “ek sal hom nooit kan vergewe nie”, sê “ek kies elke dag om hom te vergewe”.
3 Moenie die mens wat die onreg teen jou gepleeg het, met negatiewe woorde beskryf nie. Pleks van name soos “vark”, “barbaar” of “moordenaar”, gebruik liewer meer neutrale woorde, soos “man”, “mens” of die persoon se naam.
Vergifnis is ‘n proses, en ’n mens gee soms twee treetjies vorentoe en dan weer een of twee terug. Gee jouself genade as dit gebeur, en op ’n dag sal jy agterkom jou gevoelens het jou wilsbesluit ingehaal en jy kan uiteindelik vóél asof jy vergewe het.”
Marianne Louw is ’n gekwalifiseerde lewensafrigter en ’n dosent in kommunikasie by Monash South Africa. Kontak haar by marianne@masterkeysolutions.co.za
“Vergifnis behoort nie net geassosieer te word met geloof nie, maar ook met jou gesondheid,” sê Nellie Prinsloo, ’n sielkundige van Johannesburg.
“’n Mens moet kan vergewe om met jou lewe te kan aangaan.” En, waarsku sy, dis nie net ’n intellektuele besluit en woorde wat jy met jou mond praat nie. “Jy moet met jou hart vergewe. As jy nie al die emosie rondom vergifnis hanteer nie, gaan dit jou in die vorm van angs, depressie en woede inhaal. Jy vergewe in die eerste plek vir jouself – dis nie iets wat jy vir iemand anders doen nie. Dis noodsaaklike selfsug.”
Ware vergifnis sal jou emosioneel beter laat voel, met minder simptome van depressie, angs en woede en dit hou meetbare gesondsheidsvoordele in. Navorsing het bewys dit kan jou bloeddruk, cholesterolvlakke en selfs hartritme laat daal. Nog resultate bewys dit verbeter die gehalte van jou slaap en verhoog selfs die immuniteit van MIV-positiewe pasiënte.
Vergifnis lei tot beter mense-verhoudinge, en jy gaan gelukkiger en meer optimisties voel. Die Amerikaanse sielkundige Robert Enright, skrywer van The Forgiving Life, skryf: “Elke mens op hierdie planeet is al seergemaak deur ’n ander se onreg, en hoe ons daarop reageer, maak die verskil. Vergifnis help om woede stil te maak en te keer dat dit na onskuldige mense oorspoel.”
Onvergewensgesindheid beïnvloed ook jou ander verhoudings, want jy kan die verlede nie vergeet nie, en dit keer jou om die hede te geniet. So waarsku Frank Luskin, sielkundige en direkteur van die Stanford University Forgiveness Project en skrywer van Forgive for Good. “As ons nie verby ons verlede kan kom nie, bly ons gevangenes van ons ergste ervarings.”
Genoeg vir 4. Bestanddele 10 ml (2 t) elk olie en botter 1…
Vandag is dit steeds een van die gewildste plaaslike produksies wat kykers saam laat swets,…
Kan my kat of hond ook Alzheimersiekte kry? Dis wat jy moet weet oor "canine…
Sodra jy dink jy het al die voorskrifte onder die knie, hoor jy daar is…
Het jy geweet jou baba of peuter moet letterlik leer om sintuiglike inligting te filtreer…
Hierdie webwerf gebruik koekies.