Vergelegen se kameliaversameling, wat vandag uit sowat duisend struike en vyfhonderd variëteite bestaan, is in 2010 as ’n internasionale kameliatuin van uitnemendheid erken
Sou jy op ’n wintersdag verby Vergelegen se kanferbome in die rigting van die kameliatuin loop, sal jy moontlik uit die herehuis soet klanke uit die rooshoutklavier hoor. Dit staan musikale besoekers per slot van sake vry om die antieke Broadwood-klawers van tyd tot tyd te olie. En wanneer die winterrose soos ’n tapyt onder die kamelias lê, mag besoekers ook dáárin deel.
Richard Arm, tuinboukundige by die historiese landgoed, glimlag breed wanneer hy vertel hoe die wasagtige blomme seisoenaal opdoem as koraalpienk bootjies in vywers, of in sirkels langs die paadjies gerangskik word sodat kinders met die “rosette” kan speel.
Dit is juis die gemeenskaplike erfeniswaarde van die tuin wat Richard na aan die hart lê. Hierdie historiese wisselwerking tussen Suid-Afrika en die Ooste is sigbaar in die formele dele van die tuin, met onder meer kanferbome, rose, krismisrose, bamboesriet en kamelias, terwyl inheemse spesies binne die aangrensende 3 000 ha teruggeplant is.
Vergelegen se kameliaversameling, wat vandag uit sowat duisend struike en vyfhonderd variëteite bestaan, is in 2010 as ’n internasionale kameliatuin van uitnemendheid erken met Keith Kirsten se voorlegging aan die International Camellia Society (ICS). Daar is slegs een ander voorbeeld in die Suidelike Halfrond: die Melbourne Royal Botanical Gardens met sowat 950 kamelias. Wêreldwyd is daar 34 soortgelyke tuine.
Lady Phillips het reeds in die jare twintig die eerste (tradisionele variëteite) kamelias op die Vergelegen-landgoed geplant. Verdere aanplantings het in die Barlow-era (1941-1987) gevolg.
Eric Theron is in 1987 as hortoloog by Vergelegen aangestel, en sy verbintenis met Jan van Bergen se Boskop-kwekery het indirek daartoe gelei dat Van Bergen se unieke kameliaversameling – wat hy as tienjarige in sy oupa se kweekhuis in Holland begin het – in 2005 na Vergelegen geskuif is.
Hierdie toevoeging het die bestaande kameliaversameling uitstekend aangevul en was kardinaal in die status wat die tuin vandag het.
Daar word gereeld uit verskeie oorde plante aan die versameling geskenk en besoekers is welkom om die kamelia-ensiklopedieë (wat drie volumes beslaan) in die biblioteek op die landgoed vir navorsing te raadpleeg.
Maak kennis met kamelias
Kamelia is ’n genus in die familie Theaceae met sy oorsprong in Oos- en Suidoos-Asië, wat strek van die Himalaja tot Japan en Indonesië. Die bladhoudende struike hou van diep, koel grond en genoeg vogtigheid maar moet teen die brandende namiddagson beskerm word. As dit droog word in die winter, moet hulle natgemaak word, anders gaan die knoppe nie oop nie.
Die Sasanqua blom gewoonlik eerste en dui die begin van die seisoen aan. Hulle is ook meer droogtebestand, gehard en kan direkte sonlig hanteer. Die blomme wissel van wit tot donkerroos terwyl sonderlinge kultivars met enkel-, halfdubbel- en dubbelblomme ook in baie kleure beskikbaar is. Reticulata laat ’n mens aan ’n wilgevorm dink en die blomme kan tot 140 mm in deursnee wees.
Asaleas en menige winterbol is goeie metgeselle vir kamelias. Groot bome, soos die kanfers, geelhout- en akkerbome op Vergelegen, beskut die immergroen boomstruike met hul reuse-arms. Hul blare is ideaal as grondbedekking of “green litter”, soos Richard Arm graag daarna verwys. Kamelias word selde gesnoei en verkies suur grond. In die winter, wanneer ander blomme skaars is, is die stuifmeel van kamelias ’n welkome spens vir insekte soos bye.
Vir meer inligting kyk by vergelegen.co.za of bel 021 847 2100.
Het jy geweet?
• Die beste tyd om kamelias te besigtig is op ’n grys wintersdag wanneer die helder blomme die lug laat vonk – hulle word nie verniet ook “winterrose” genoem nie.
• Een van die hibriede wat Van Bergen gekweek het, is na sy kleindogter Elizabeth Fay vernoem.
• Tradisionele Ceylontee is afkomstig van Camellia sasanqua. In die tyd toe almal tee wou kweek, het kwekers japonikas gebruik as skans teen die uitbuiting van die teebedryf.
• Camellia oleifera se saadpeule word vir kookolie gebruik.
• Kamelias word maklik 200 jaar oud, en die oudste lewende kamelia, wat in 1347 geplant is, staan in China se Panlong-klooster.
• Die Augusta Nasionale Gholfklub se tiende gaatjie heet Camellia.