Die duisende bome in die kamferboomwoud het as’t ware hulself geplant en is die nageslag van die reusagtige kamferbome wat Goewerneur Willem Adriaan van der Stel meer as drie eeue terug voor sy huis (nou die historiese opstal), geplant het. Die oorspronklike bome is reeds in 1942 tot nasionale gedenkwaardighede verklaar.
Van November tot April word die stylvolle pieknieks by gedekte tafels met stoele, eetgerei en glase in tradisionele piekniekmandjies in die woud bedien. Die kulinêre span bewerk hul eie vleis en maak hul eie piekels.
Roostuin
Langs die woud lê die nuwe roostuin met meer as 1 500 nuwe rose. ’n Mens loop deur die roostuin om by die piekniekarea uit te kom.
Die roostuin vorm deel van die enorme tuin van ongeveer 10 hektaar wat ook ’n wêrelderkende Camelia-versameling insluit. Vir die roostuin is 1 200 ton nuwe grond aangery en ’n verdere 40 ton kompos en 40 ton perskepitte om as deklaag te gebruik.
Die nuwe roostuin is in die oktagonale vorm ontwerp en uitgelê soos die bekende kruietuin by die proelokaal. Die kamferboomwoud vorm die perfekte agtergrond vir die skouspel van kleure in die roostuin. Aan die rand van die roostuin is gemengde beddings met inheemse struike en bolplante aangeplant wat dan stelselmatig oorloop na die kamferwoud waar die ontvangsarea vir die pieknieks is. Links van jou is prieële met rankrose om die tuin af te rond en regs voltooi ’n laning van avokadobome en persimmon-bome teen die rand aan die noordekant (langs die historiese opstal), die prentjie.
*Pieknieks word bedien vanaf 12:15 tot 13:30 en verdaag om 16:30. Die koste is R235 per volwassene en R95 vir kinders en sluit nie wyn en drankies in nie. Besprekings is noodsaaklik by 021 8472131 of www.vergelegen.co.za.