Vergeetagtig? Oefen jou brein. Deur Salomé Delport. Hooffoto: Wilson Vitorino vir Pexels
Ons leef in die Era van die Ledige Intellek. Dis jou selfoon en rekenaar wat jou afsprake, spelling, resepte, telefoonnommers – kortom, al jou kennis – onthou. Ons maak net nie meer soveel op ons brein staat nie. Die gevolg? ’n Papsagte brein wat verleer het hoe om volstoom te werk.
Maar dit hoef nie so te wees nie – en op geen ouderdom nie. Daar is volop bewyse dat jou brein tot in jou laaste jare steeds nuwe neurone vorm en dus nuwe inligting kan inneem. Selfs ou honde kan nuwe toertjies aanleer én hulle onthou.
As jy ook een van die skerpste potlode in die sakkie wil wees en/of bly, moet jy jou brein (a) stimuleer sodat hy soveel neurone moontlik vorm en (b) oefen sodat hy inligting maklik stoor en oproep en (c) goed versorg.
Lees ook: Lag ’n slag
Ekstra klasse vir jou brein
Hoe meer nuwe senuweeselle in jou brein vorm en hoe meer hulle vertak, hoe meer inligting kan hy inneem, stoor en later oproep. Verbeter hom so:
- Doen dit anders. Doen doodgewone takies soms anders, soos om jou tandeborsel elke tweede dag met jou ander hand te gebruik of toe-oog aan te trek.
- Beplan ’n ander soort vakansie as die gewone. Hou vanjaar ’n winter-Kersfees saam met vriende. Probeer ’n ander soort restaurant, ’n nuwe resepteboek, ’n nuwe stokperdjie. Kyk ’n ander soort fliek of vertoning as jou gewone keuses. Verken ander musiekgenres – van rap tot klassiek.
- Wees ’n vrywillige student. Jou brein floreer as jy hom nuwe kennis voer. Anders as op skool kan jy nou enige vakgebied kies. Of almal verken. Hou die koerant dop vir gratis lesings en kursusse, van sterrekunde tot sterrevoorspelling. Die Internet is ’n wonderlike bron van inligting oor enigiets. Google die onderwerp wat jou fassineer, en jy kry binne oomblikke dosyne verwysings, menings en ervarings van mense wat ook daarin belang stel.
- Redeneer. Ingewikkelde debatte is uitstekende breinoefening. As jy ’n prater is, sluit aan by ’n groep soos Toastmasters; as jy ’n introvert is, gesels op ’n blog en verdedig ’n standpunt waaroor jy sterk voel.
- Reis. Min van ons het die geld of tyd hiervoor, maar jy kan ’n ander roete werk toe verken, in ’n ander winkelsentrum jou inkopies gaan doen en nuwe plekke in jou omgewing verken.
- Soek nuwe sensoriese ervarings. Die ervarings wat jou sintuie na jou brein voer, stimuleer die vorming van nuwe neurone. Verken dus nuwe smake, proe gereeld nuwe wyne, gaan vir masserings en refleksologie, laat ’n Power Plate jou “skud”, luister na nuwe CD’s, gaan na ’n yskroeg … enigiets wat op jou sintuie inwerk.
- Delf diep. Brei jou kennis oor ’n paar onderwerpe doelbewus uit omdat dit jou brein oefen om inligting sinvol te organiseer. Kies iets wees wat jou fassineer … boogskiet, teleskope, vuurtoringreise, tai chi, tai bo, musiek, koi-visse, kruie, vetplantjies – die spektrum van sportsoorte, stokperdjies, handvaardighede en kunsvorms is oneindig.
- Lees, lees, lees. Van hygromans en ensiklopedieë tot die etikette op jou inkopies.
- Vra uit, slaan na. Hou by deur elke keer vas te stel waaroor dit gaan as jy van ’n onbekende konsep, woord, gier of item hoor.
- Nuwejaarsvoorneme. Maak ’n punt daarvan om elke jaar ’n nuwe vaardigheid te bemeester en elke dag iets nuuts te leer. Lees byvoorbeeld elke dag by die Afrikaanse wikipedia die “Artikel van die Dag” of “Hierdie Dag in die Geskiedenis”. Die adres is http://af.wikipedia.com
- Speel elke dag speletjies van alle soorte – Rummy, brug, Rubik’s Cube, legkaarte, kaarte en bordspeletjies soos Trivial Pursuit en Scrabble – oefen jou brein om beter te onthou, logiese afleidings te maak en vinniger te werk. Ander wonderlike breinoefening is blokraaie en Sudoku – en selfs die speletjies op jou rekenaar.
- Lees moeilike inligting. Inligting soos vervat in kontrakte en wetenskaplike verklarings leer jou brein sin maak van komplekse inligting.
- Lees hardop. En dra dit voor asof jy voor ’n gehoor optree, want dit oefen jou brein om vinnig nuwe inligting te interpreteer.
- Teken van jou geheue af. Kyk na iemand se gesig en probeer hom skets sonder om weer te kyk. Dit oefen jou waarnemingsvaardighede.
- Rek jou geheue. Bejaardes herhaal hul stories onder meer omdat hul korttermyngeheue verswak het. As jy ’n nuwe grappie of telefoonnommer hoor, kyk hoe lank jy dit kan onthou.
Help hom onthou
- Papegaaie weet iets. Jy lê feite beter vas as jy hulle ’n paar keer herhaal. Op skool moes jy in die klas luister, tuis alles weer deurlees en opsom, memoriseer, huiswerk doen waarin jy die inligting toepas en nog daaroor toets skryf ook. Jy het dit dus ses keer herhaal. En nou verwag jy om ’n ding een keer te hoor en dan vir altyd te onthou!
- Skryf en sing. Die brein onthou veel beter as jy inligting op meer as een manier vaslê – skryf dit neer, sê dit hardop, teken prentjies of simbole by, stel skemas op soos die bekende spinnekopraamwerk, merk die teks met gekleurde penne … en sing dit selfs.
- Sit emosie by. Positiewe emosies, soos lag of opwinding, stimuleer die brein om feite beter te kan stoor. Kry jouself dus opgewonde en gelukkig vóór jy feite memoriseer.
- Maak ’n storie. Wil jy jou inkopielys blitsig memoriseer? String dan die items saam in ’n lekker lawwe storie. Jy sal gou in oefening kom!
- Sewe sewes. Jy kán 49 items onthou – maklik! Jou brein onthou sewe items relatief maklik; verdeel dus die groot groep in sewe groepe wat op een of ander manier saamhang, en onthou dan net die sewe groepe se name.
- Maak ’n akroniem. Nog ’n onthoutegniek is om uit die beginletter van elke item wat jy moet memoriseer, ’n woord op te maak … jy moet dus net een woord onthou!
- Maak ’n kol. As jy net een moet onthou, sit ’n kol op jou hand om jou te herinner.
- Memoriseer meer. Hoe meer jy oefen om aanhalings, grappies, Bybeltekste, gedigte, toneelstukke, wetgewing, musiek en so aan te memoriseer, hoe beter raak jy. Grapjasse ryg nie maar net sommer grappies uit nie: hulle het eers die kuns bemeester om goed te onthou en leer dan elke dag nuwe grappe by. Dit lyk maar net later maklik omdat die grappe so goed ingeoefen is.
Pas jou brein op deur
- stres te verminder
- genoeg te slaap
- fiks te bly
- minder suiker en witstysel maar meer proteïene, lae GI-stysels, vis en neute te eet
- groen tee te drink
- vyf eiers per week te eet
- aanvullers te neem soos foliensuur, vitamien B-kompleks en omega-3- en -6-vetsure
- en neurotoksiene (gif vir die senuweeselle) soos sigarette en drank te vermy.
En die belangrikste stap?
Werk aan jou brein se selfbeeld: dit maak ’n groot verskil as jy verwag om te kan onthou. Vertel dus jou brein hy kan briljant feite onthou en later oproep. En bewoord altyd opdragte aan jou brein positief: jou brein vaar beter as jy sê “ek moet onthou om petrol in te gooi” eerder as om te sê “ek moenie vergeet om petrol in te gooi nie”.