Versorg deur Mariette Snyman. Foto’s deur Henry O Photography en verskaf.
Die ontwerper Marlize Coetzee Boshoff, eienaar van Immagika Creative Designs in Pretoria, is vanjaar genooi om twee Suid-Afrikaanse operasangeresse wat in Wene woon en werk vir die VN-bal aan te trek. Só het dit gekom dat sy en haar man, Carl, die aand kon bywoon. Marlize beantwoord ons vrae.
Lees meer oor Marlize se verbeeldingryke aanslag in die artikel Kreatiwiteit wat Werk in die Mei 2018-uitgawe van rooi rose.
Wat behels die Verenigde Nasies-bal?
Die Internasionale Atoomenergie Assosiasie (IAEA) van die Verenigde Nasies hou jaarliks ’n bal in die Hofburg-paleis. Vanjaar is Megan Kahts en Bongiwe Nakani, Suid-Afrikaners wat albei in Wene woon en werk, genader om by die openingseremonie van die bal op te tree. Bongiwe is vir vyf jaar as mezzo-sopraan by die Weense Staatsopera gekontrakteer en Megan werk as vryskutsopraan by onder meer die Teatro Barocco.
Besoek hierdie blad vir meer inligting oor Bongiwe, en hierdie blad vir meer inligting oor Megan. Verdere inligting oor die Assosiasie kan hier gevind word en besoek gerus Immagika se webblad hier.
Megan, Marlize en Bongiwe
Is die bal ’n groot geleentheid?
Ja, daar is 4000 gaste! Drag is streng formeel met swart aandpakke, wit aandhemde en swart strikdasse of formele volksdrag soos ’n Skotse kilt vir die mans, en vloerlengte balrokke of formele aandrokke vir dames. Sou ’n dame volksdrag kies, moet dit ook lank en formeel wees.
Vertel ons van Megan en Bongiwe se rokke.
Die tema van die bal was “Kleure van Afrika.” My inspirasie was geologies: die juweelkleure, metale en edelstene van Afrika. Ek het ook opgekyk na die lug, sonsondergange en die sterre. Ek wou raak aan die kulturele, maar ek wou nie ’n spesifieke stamkultuur gebruik nie, aangesien Afrika groot en divers is.
Ek wou Megan se rok ryk, romanties en feestelik maak; ’n spieëlbeeld van die passievolle musiek wat sy sing. Die resultaat was ’n balrok met ’n korsetlyfie. Bietjie Slawies, Balties, maar met ’n Afrika-warmte.
Megan se rok is gemaak van kleurryke, handgeweefde sy in die ryk, donker bessiekleur van die Afrika-sonsondergang. Geen tekstiel weerkaats kleur soos die sagte glans van sy nie. Dis versier met geborduurde kant-appliekwerk, krale en kristal, en baie spesiale handgemaakte rose uit Immagika Creative Designs se opleidings- en opheffingsprogram.
Vir Bongiwe wou ek graag ’n rok maak met ’n kulturele verbintenis met Afrika, ’n rok wat haar as ’n koninging van haar kunsvorm sou identifiseer. Die kleur van haar rok en die blink kraletjies het my laat dink aan ’n sterbelaaide uitspansel oor Lady Frere in die Oos-Kaap, Bongiwe se familietuiste waarna sy so baie verlang.
Hoewel ek haar nie voorheen ontmoet het nie, het ek na elke opname van haar geluister en haar op facebook bevriend om ’n idee van haar persoonlikheid te kry. Haar rok is ook van handgeweefde sy. Die spandrade en weefdrade is kontraskleure van mekaar, wat aan die sy ’n lewendige, veranderlike kleur gee. Die kralegedeelte van Bongiwe se rok is met die hand in blinkertjie- en glaskrale gekraal en verder met kristal versier.
Jenna Clifford het die pragtigste juwele saamgestuur om die twee sangeresse se rokke te komplementeer.
Het die rokke aandag getrek?
Eerstens was albei die sangers heeltemal verlief op hulle rokke en ’n mens kon sien hoe mooi hulle voel en dat die rokke tot hulle optrede bygedra het. Megan se vriend, Berndt, was heelaand deur haar betower.
Almal wat hierdie twee vroue gesien het, het komplimente uitgedeel. Ek het selfs ’n pragtige kompliment gekry van Dr Regina Kartner, die kurator van die Modeversameling van die Weense Museum!
Ek is baie dankbaar vir Henry Oechler wat ’n uur nadat hy in Wene geland het by die Hofburg-paleis was om verruklike foto’s van Megan in haar rok in die Radetsky-vertrekke te neem, en ’n paar uur later saam met ons deur Wene gejaag het om die asembenewende foto’s van Bongiwe in die luukse Weense Paleis van Gerstner Café, Restaurant en Konditorei te neem. Die arme man het eers die aand tot ruste gekom, en was weer op sy beste met die oorsig van die bal, wat hy met soveel atmosfeer vir ons op film vasgelê het.
Hoe verloop die aand van die bal?
Daar was musiekopvoerings in verskeie sale. Mense het sale gewissel. Daar word ook kaartjies sonder tafelsitplekke verkoop wat “floaters” genoem word. Dis mense wat heelaand en heelnag rond beweeg en oral feesvier. Daar was tot ’n casino in die Radetsky-sale.
Met die openingseremonie het baie mense in die hooffeessaal op die vloer om die kante gesit om die debutantedansers, operasangers en hoofsprekers te sien. As gaste van die organiseerders was ek en Carl so bevoorreg om kaartjies te kry in die hooffeessaal, waar al die belangrike en tradisionele seremonies plaasgevind en waar die Weense fees-orkes, dansers en natuurlik Megan en Bongiwe opgetree het. Megan en Bongiwe het onder meer Xhosa-liedere en Phatha-Phatha van Miriam Makeba a cappella, dansend en ritmies uitgevoer.
Daar was ’n baie groot verskeidenheid musiek: van Vivaldi se Vier Seisoene en die Vienna Pipes and Drums se tradisionele Skotse marsmusiek, tot Argetynse tango-musiek en die tipiese Strauss-walse waarop die debutantedansers gedans het. Daar was soveel aan die gang in die Hofburg-kompleks dat niemand naastenby alles kon beleef nie.
Tot middernag is daar toesprake, erkennings en vertonings. Om middernag roep iemand “Alle Walzen!” en dan is letterlik almal op die dansvloer in ’n lyndans, waarna daar nog lank gedans word. Die Weners het nie einde nie: toe ons om 04:00 die volgende oggend vir ons Uber wag, lyk dit nog soos Menlyn op Oukersdag.
Was die kos besonders?
Die spyseniers vir die bal is die bekende Gerstner restaurant en koffiehuis wat oorkant die Staatsoperahuis geleë is en al van 1847 af bestaan.
’n Kelner het ons spyskaartbestellings by ons tafel geneem. Ek en Carl is vegetariërs, en het ’n geurige groente- en rysdis gekies.
Vir my was die hoogtepunt van die maal natuurlik die nageregtafel met ’n hele verskeidenheid Weense konditorei (gebak) en lekkernye, alles in klein formaat sodat ’n mens ’n klompie verskillendes kon kies – insluitend Mozartkugeln en Sachertorte, om van die bekendes te noem.
Het julle interessante mense ontmoet?
O ja, ons het! Om net ’n paar te noem:
- Die organiseerder, Fabien Petit, ’n Fransman wat vir die IAEA in Wene werk
- Imed Zabaar, gebore in Tunisië en president van die IAEA se personeelvereniging, ons gasheer en die hoofspreker by die bal. Ons het ook Imed se vrou, Lydia, ontmoet. Sy is redakteur, webmeester en sosiale media-redakteur van die IAEA. Lydia is Suid-Afrikaans gebore en is ’n gereelde besoeker aan Suid-Afrika. Imed en Lydia is sewe jaar gelede in die bosveld by Mpumalanga getroud.
- David Flloyd, ’n Britse skrywer wat in Wene woon, het in die jare sewentig in Johannesburg gewoon wat hy sy Oostenrykse vrou ontmoet het en met haar getroud is.
- Petra Opperman, beroepstileerder van die Weense Opera, is nou Immagika Creative Designs se agent in Wene.
Wat het die geleentheid vir jou beteken?
Ek kan met groot dankbaarheid sê dat die geleentheid om Suid-Afrikaanse operasangers vir die VN-bal aan te trek, die reis na Wene, die mense wat ons ontmoet het en geleenthede wat daardeur vir ons geskep is, alle menslike verwagting oortref. Dit was ’n heerlike ondervinding met verreikende gevolge.