Verdrinking: feite en steun deur Lynette Strydom. Versorg deur Mariette Snyman. Hooffoto: iStock/undefined undefined, ander foto’s verskaf
Ses jaar gelede belewe ons die ondenkbare en onbeskryflik stresvolle verdrinking van ons seuntjie. Iets wat mens nooit kan dink met jou sal gebeur nie. Na ’n groot wonderwerk stap hy met sy rugsakkie by die hospitaal uit waar hy veronderstel was om ten minste sewe dae te bly. Sedert daardie dag in 2012 het ek geleer om in skoene te stap waarin ek nie voorheen kon nie.
Lees hier om meer oor die verhaal van Petrus-Hugo – en sy herstel – uit te vind
Die stille dood
Verdrinkings is geweldig traumaties, veral omdat dit verreikende gevolge het. Te min kinders word sonder skade gered. Wanneer ’n kind gestremd gelaat word, plaas dit geweldig spanning op die gesin asook die huwelik. Finansiële kostes is uitmergelend, en terapiesessies neem baie tyd in beslag. Selfs in ons gesin waar ons seuntjie gered is, het ons besef hoeveel skade die trauma doen.
Daar is soveel onwaarhede, byvoorbeeld dat jy sal hoor wanneer ’n kind in die swembad val. Ons het almal verby ons kind gehardloop, want daar was geen geraas nie. Kinders kan saggies in die water val.
Binne oomblikke is hulle longe vol water en sink hulle. ’n Volle 70% van alle swembadverdrinkings kom voor in ten volle omheinde swembaddens, en 90% gebeur onder toesig.
Ek het nooit besef dat soveel verdrinkings plaasvind en hoe groot die behoefte aan ondersteuning is nie. Daar is altyd skuldgevoelens betrokke. Ek het ’n groep gestig, “2-walk-on-water” (kontakdetail hieronder), wat ondersteuning bied aan ouers ten tye van die ongeluk asook in die tydperk daarna. Ons probeer graag kontak hou.
’n Storie van hoop
Min mense dra kennis van wat werklik tydens ’n verdrinking gebeur, veral gedurende die herstelperiode. Ons het soveel versoeke vir ’n boek ontvang dat ons later vanjaar een met die volledige verhaal van ons seun, Petrus-Hugo, beskikbaar sal hê. Almal wat betrokke was, deel hulle harte oor wat in daardie tyd gebeur het en hoe dit hul lewens geraak het. Daar is ook getuienisse van ouers wat ’n verdrinking beleef en kinders verloor het, en ouers wat met ’n gestremde kind voortleef. Sommige situasies laat jou eenvoudig in verwondering.
Mense wat foto’s sien van Petrus-Hugo ten tye van die verdrinking en van wie hy vandag is, kry dikwels nuwe hoop.
Lees ook: Madelein Rust: Boekuittreksel uit Kanker Schmanker
Beanies-4-Babies
Aangesien ons nie oor ’n mediese fonds beskik nie, het die hulp by die Dora Nginza Staatshospitaal in die Oos-Kaap waar Petrus-Hugo ná die verdrinking uitgestap het, my diep geraak. Uit dankbaarheid daarvoor het ek in Augustus 2018 ’n “Beanies-4-Babies” projek begin.
Soveel babas word prematuur gebore en verloor 70% van hulle liggaamshitte deur hul koppe. In die Dora Nzinga Hospitaal benodig ongeveer 350 babas maandeliks intensiewe sorg, waarvan ongeveer 150 se gewig minder as 2 kg is. Jaarliks word daar ongeveer 1 800 babas met ’n massa van minder as 2 kg gebore en ongeveer 2 800 babas met ’n massa van minder as 2.5 kilogram.
Wanneer ons beanies aan sulke babas kan voorsien, maak dit die dokters se lewe makliker en voel die mammas gelukkiger omdat hulle babas mooi lyk. Almal poseer vir foto’s en die glimlagte strek van oor tot oor. Die maatskaplike werker sê dit lig die gees van die personeel.
Dis ongelooflik hoe bereid mense regoor die land is om te help brei en hekel. Uit ’n bol wol maak ons ongeveer sewe beanies. Een beanie kos tussen R2.00 en R4.00 om te maak en ’n bol wol of ’n klein bedrag maak reeds ’n verskil.
Lees ook: Met liefde gemaak: “Angels Gowns” vir babas wat kort voor of na geboorte sterf
Ons gaan jaarliks op die datum van my seun se verdrinking na die Dora Nginza Hospitaal waar hy behandel is om dankie te sê vir die noodpersoneel.
In Desember 2018 het ons ons eerste oorhandiging van klere, gebreide truitjies, speelgoed, kombersies en 1 107 beanies gaan doen.
Petrus-Hugo het gevra dat hulle hom sy bedjie moes gaan wys en ook die dokters in die intensiewe eenheid gaan groet. Almal was aangeraak deur die spontane seuntjie en sy dankbaarheid teenoor die lewe, en die feit dat hy gesond en normaal is.
Die maatskaplike werker het bewoë genoem dat niemand ooit kom dankie sê nie, en Petrus-Hugo versoek om eendag in hospitale lewens te red soos wat hulle deel van sy redding kon wees.
Die waarde van omgee
Dit tref my hoe party mense wat met die beanies help, skielik weer ’n doel in die lewe het en uit hulle harte gee. Mense leer selfs om te brei en te hekel om deel te word van die projek.
Een van ons jongste lede is Joy (20) wat self ’n premature baba was. Haar gesiggie straal van opgewondenheid oor die projek. Die 14-jarige Kiana oorhandig met my besoek ’n boks vol beanies en wys opgewonde na ’n oorvol laai met wol waarmee sy nog beanies gaan maak.
Mense met kanker spring in en help, en my eie ma het na my pa se afsterwe verlede jaar begin brei. So kring die positiewe gevolge van ’n tragiese ervaring stadig maar seker uit.
Lees ook: Lori-Ann is “Bald and Beautiful”
Mense wat betrokke wil raak by die steungroep “2-walk-on-water”, of by “Beanies-4-Babies”, kan Lynette Strydom kontak by 082 786 6785.