“Jy weet,” spot my man een middag. “Ek het ’n foto gesien van ’n hele paar motors onder water binne-in ’n gebou. Ek wonder of een daarvan ons s’n is?”
So verdrink ons kar toe mos…nie ’n bietjie nie, baie … behoorlik.
Dié dat ek baie meer taxi gery het die laaste paar maande as in die hele drie jaar sedert ons hier aangekom het. Ja, ek weet. Taxiry is nie hoog op ’n mens se prioriteitslys in Suid-Afrika nie. In bekostigbare taxis is ’n mens nie jou lewe seker nie en ’n rit in dié waaruit ’n mens met redelike sekerheid heelhuids sal kom, kos soveel soos ’n nuwe wasmasjien.
Ghana se taxis is totaal bekostigbaar en soort van veilig – indien ’n mens nie té hoë standaarde het nie. Daar geld natuurlik die gewone reël dat jy éérs prys moet onderhandel voordat jy inklim. Indien dit te duur na jou smaak is, kan jy maar net ’n minuut of twee rondstaan voordat die volgende een naby toet op soek na ’n kliënt.
’n Baie groot verskil tussen die taxi-industrie hier en in Amerika of Europa byvoorbeeld is dat ’n mens nooit moet aanvaar dat die bestuurder weet waar jou bestemming is nie. Indien jy nie self die pad ken nie, of nie ’n telefoonnommer het om te skakel sodat hyself aanwysings van iemand by jou bestemming kan kry nie, is jy verlore, letterlik. Google Maps se straatname beteken niks vir die deursnee Ghanees nie. Generasies hier het opgegroei en oud geword sonder om te weet wat die kerk of die skool se straatnaam was. Na ’n plaaslike parlementsbesluit en heel waarskynlik buitelandse bevondsing, het straatnaamborde so ongeveer ses maande gelede op straathoeke begin verskyn. Nie dat dít ’n vreeslike verskil in ‘n mens se moontlike taxi-penarie sal maak nie, want die ouens ken nog nie die name nie en assosieer dit in elk geval nie met die plek waarheen hulle op pad is nie. Indien die straatnaamborde dieselfde geen-onderhoud-paadjie volg soos sovele ander dinge hier, kon die befondsing maar eerder vir iets anders gebruik gewees het.
Nadat ons April- en Meimaand vir ’n paar spesiale geleenthede in Suid-Afrika was en ek twee weke langer gekuier het, kom laai manlief my met die getroue 4×4 voertuig die aand by die lughawe op. Laat ek nou net eers verduidelik: in Ghana en selfs hier in die hoofstad Accra kry ’n 4×4 voertuig wérk. Die gate in die teerpaaie en erosieslote in grondpaaie maak dat die voertuig sommer net op ’n gewone rit na ’n winkel of golfbaan getoets word. Hier rond hoef ’n mens nie ’n spesiale ekskursie te bespreek om jou voertuig se vermoë te toets nie.
Een van die strate waarlangs ek weekliks stap het só erg agteruitgegaan dat die sypaadjie waarop die meeste voertuie ry om die slaggate te vermy, nou begin slaggate kry. Tydens my stappie laasweek vir groente, het ek in die middel van die stukkende pad geloop om die motors op die sypaadjie te mis. Rêrig. Maar ek dwaal af.
Die Dinsdagoggend na my terugkeer word die voertuig vir ‘n roetinediens by die handelaar afgelaai. Woensdagoggend bel ‘n kollega uit Bogosu tussen ons koffie en Cornflakes deur en vra of ons veilig is. Bogosu, in die Weste van Ghana, is ‘n klein dorpie midde-in die goudmynstreek. Die reën wat sedert die vorige middag geval het, het blykbaar ernstige skade in Accra aangerig met aansienlike lewensverlies, vertel hy ons.
Soos die dae verbygegaan het, het nuus en fotos die rondte begin doen. Die oop afvoerslote, groot en klein, word nie onderhou en skóón gehou nie, gevolglik het die groot volume water nêrens gehad het om heen te gaan nie behalwe straataf en deur huise en besighede. Mens en dier het voor die vloed geswig, motors en vragmotors is in die slote gespoel en by ‘n vulstasie waar mense teen die verskiklike reën geskuil het omdat hulle huise oorstroom het, het hulle omgekom nadat lekkende brandstof ontplof het.
Na ‘n week sonder die motor – nee, hier is dit standaard om ‘n week vir ‘n motor te wag wat by die handelaar vir ‘n diens is – hoor ons dat die betrokke handelaar tydens die vloed oorstroom het.
“Jy weet,” spot my man een middag. “Ek het ‘n foto gesien van ‘n hele paar motors onder water binne-in ‘n gebou. Ek wonder of een daarvan ons s’n is?”
‘n Paar dae gaan verby waartydens die handelaar óf nie telefoonoproepe beantwoord nie of enige oormatige reënwater op sy perseel ontken. Na ‘n tydrowende rit daarheen nóg ‘n paar dae later, word die spreekwoordelike aap uit die mou gelaat: ja, die foto wat die rondte doen ís die stoorarea waar ongeveer veertig motors verdrink het! Maar niemand word toegelaat om te gaan kyk nie!
Langsame Ghanese heen-en-weer begin totdat ons uiteindelik wél vasstel dat ons motor daarmee heen is. Grillerige dinge soos aanspreeklikheid en die uitbetaling van ‘n vreeslike klomp geld veroorsaak dat die handelaar hierdie proses so vinnig soos stroop op ‘n koue wintersoggend laat loop. Telefoniese aanbiedinge van minder as ‘n kwart van ons motor se waarde as uitbetaling toets my man se geduld en goeie telefoonmaniere tot breekpunt.
Teen middel Augustus kom die handelaar en ons versekering tot ‘n ooreenkoms en kry ons die goeie nuus dat die nuwe motor bestel kan word. Wonderlik! Manlief se gewone lang lysie spesifikasies vir motors het intussen baie kort geword:” Net nie swart nie, dis te warm.”
Soos wat ek hier sit en skryf, die laaste week van Oktober, is ons steeds sonder wiele. Ek is baie meer vertroud met die taxigemeenskap in die area en het uitgevind dat toe oë, stywe maagspiere – om my op die sitplek te hou tydens ‘n ongeluk, want die sitplekgordel werk nie – en ‘n gebed in my hart my veilig by my bestemmings bring. Manlief word soms met ‘n baie hard geveerde bakkie – wat die slaggate in die strate eksponensieel erger laat voel – of met die groepsmotor na vergaderings vervoer waarna hy, indien naby genoeg, met dapper en stapper moet terugkeer kantoor toe.
Maar, die hoop beskaam nie. Oor ‘n maand van nou af – net voordat ons Suid-Afrika toe gaan vir die Kersvakansie – behoort daar ‘n skip in die hawe aan te kom met ons Japanese 4×4 voertuig. Indien alles op ge-oliede, stadige Ghanese wiele loop, sal ons Januarie daarmee te kan ry…