“En toe sit my verbeelding op loop.”
Dis nou die soort frase wat niks beteken as jy nie weet wié dit met wátter stemtoon in wátter konteks kwytgeraak het nie.
Dis ook die soort frase wat kinders se verbeelding aangryp as ’n grootmens dit gebruik, sê maar ’n oom met ’n stout uitdrukking in sy oë, en hy op die daad ’n waarskuwende blik kry van ’n ander grootmens, sê maar die tannie wat getroud is met die oom met die stout uitdrukking in sy oë.
As kind het ek gereeld in so ’n situasie beland. My pa was ’n opperste terggees, alombekend vir sy vermoë om lekker te lag. My ma het self ’n sin vir humor gehad, maar ook besliste idees oor wat Ordentlik is. ’n Goeie aantal grappies wat my pa vertel het – of op die punt was om te vertel – het duidelik die Ordentlikheidstoets gedruip. As die waarskuwende blik nie gehelp het nie, het my ma op haar mooi manier gesê: “Nie voor die kinders nie.”
Ek dink ek het op ’n kol hieroor begin neul. By my pa natuurlik; kinders weet mos instinktief watter ouer om eerste sag te maak. My pa het gesê sodra ek 21 word, vertel hy my alles. En omdat hy altyd ’n belofte gehou het, was ek tot met my mondigwording tevrede met dié antwoord.
Vandag is ek al dubbel so oud (goed, dubbel so oud plus ’n paar ou jaartjies) en ietwat wyser. Maar ek wonder steeds wat my pa my alles wou vertel; hy is kort na my mondigwording dood. Ek vermoed hy sou my sy uitkyk wou gee op die dinamiek tussen man en vrou, die taboes wat die samelewing op verbeeldingrykheid plaas, en die vermoë om pret te hê en báie grappies te maak.
Vandag se 21-jariges kort seker nie sulke gesprekke met hul ouers nie. Hulle het Google, die sosiale media, TV-reekse, flieks en wat weet ek alles. En dalk is dit ’n goeie ding.
Maar soms verlang ek na die liefdesverhale van my tienertyd, boeke waarin die romantiesste tonele afgesluit is met drie sterretjies, ewe ver uit mekaar. Ek mis die vonkeling van daardie sterretjies. Dis al asof dit die soort ding was wat ’n onskuldige verbeelding op loop kon sit.