Daguitstappie na Murano, Burano en Torcello
As ’n mens nie die notas goed lees nie, betaal jy onnodiglik weer 20€ vir hierdie trippie (onthou, jy kan jou dagkaartjie van die Vaparetto gebruik). Murano, die Venesiese glas-eiland, is ’n groot teleurstelling aangesien die toergids ons almal in ’n groot, warm, warehouse injaag en ’n Italianer vinnig drie glasperdjies wat spring, uitblaas. Verder word jy deur ’n trog na die fabriek se uitstallokaal gejaag – alles is pragtig, maar waar sit ’n mens nou ’n meterhoë glashanswors in jou huis sonder om kommin te lyk?
Burano is definitief ’n hoogtepunt. Straatjies vol Smartieboks-kleurhuisies staan styf teen mekaar – ook alkant van ’n mini-grand canal. Die storie agter die kleurvolle huisies is dat die vissermanne wat hierdie eiland bewoon hul huisies so verf om dit makliker uit te ken as hulle in storm en reën huiswaarts keer. Ek dink dis eerder as die wyn praat.
Hier is die heerlikste visrestaurante, maar ons tyd is beperk (weens die drukgangtoer …) en as jy klaar teen elke moontlike kleur huisie gepose het, kan jy ook na hul bekende kant- en linneprodukte kyk. Regte outydse sakdoekies met voorletters, baie lelike, gehekelde laslaprokke en “made in China”-kantsambreeltjies, te kies en te keur. Gelukkig is ek meer ’n T-shirt girl en huil ek liewer in papiersneesdoekies.
Die laaste eiland, Torcello, is baie gewild vir troues, maar behalwe vir drie of vier verlate restaurantjies, is hierdie werklik ’n mors van tyd. Kon liewer langer in Burano gekuier het.
Iets oor die gondolas
Tensy jy pas die internasionale lottery gewen het, is hierdie ietwat geldmors. Ja, ek weet dit is so Venesies soos die Eiffeltoring in Parys, maar daar is net plek vir twee op die romantiese krulbankies en as julle vier of ses is, sit die res baie onromanties op wankelrige stoeltjies en klou verbete. Die gondoliere sing nie meer vir jou nie. Dit kos 100€ per rit van ’n halfuur, en die manne wat roei is glad nie meer so mooi soos vroeër jare nie.