Kaapse grimeerkunstenaar Gemma Dawn is ’n passievolle veganis. Sy deel haar insig oor wat die term behels en beantwoord ons vrae oor veganis-vriendelike skoonheidsprodukte.
Wat beteken veganisme?
Volgens The Vegan Society is veganisme ’n manier van leef waar jy so ver moontlik en prakties uitvoerbaar die uitbuiting of wreedheid teen diere vir kos, klere of enige ander doeleindes, uitsluit. Veganiste (oftewel “vegans” soos wat die Engelsman dit noem), volg ’n plant-gebasseerde dieet wat all voedsel afkomstig van diere soos vleis (ook vis, skulpvis en insekte), suiwelprodukte, eiers, heuning en ander produkte soos leer of produkte wat op diere getoets word, uitsluit.
Gemma Dawn oor veganisme
Dink jy veganiste moet noodwendig veganis-vriendelike skoonheidsprodukte gebruik?
Absoluut! Nie net veganiste nie, maar almal wat omgee oor goedheid en ’n minder wreedsame lewe wil leef. As veganis het ek gekies om nie die slagting van diere te ondersteun nie en dit moet deur al my besluite wat ek neem duidelik wees – van kos tot kleure en skoonheidsprodukte.
Wat is jou gunsteling veganis-vriendelike skoonheidsprodukte?
Ek hou van Lavish Natural Skin Care en Esse. Vir grimering gebruik ek Inthusiasm – dit is aanlyn beskikbaar (klik hier).
Hoe kyk ’n mens na bestanddele?
Jy moet jou eie huiswerk doen, want al word ’n produk nie noodwendig op diere getoets nie, word van die betanddele dalk wel op hulle getoets.
Ons sê: Jy gaan baie navorsing moet doen. Peta gee ’n lysie van produkte om te vermy. Selfs hier is dit moeilik om te onderskei want sommige bestanddele kan van plante of diere afkomstig wees. Al die bestanddele op die lysie is dus nie noodwendig sleg nie.