Veg of vlug? Deur Leandri de Kock
Ons gesels met kliniese sielkundige Nicole Jansen van Rensburg oor wat ’n mens oor stres en angs moet weet.
Wat is stres?
Stres is die liggaam se reaksie op gevaarlike situasies hetsy óf dit werklik óf waargeneem is. As jy bedreig voel, vind ’n chemiese reaksie plaas wat jou toelaat om op ‘n sekere manier op te tree wat beserings kan help voorkom. Hierdie reaksie staan as “veg of vlug” bekend.
Wat gebeur met my liggaam as ek stres?
Stres is soortgelyk aan die gevoel van bedreiging, wat dan veroorsaak dat jou senuweestelsel streshormone soos adrenalien en kortisol vrystel. Dit maak jou liggaam reg vir noodaksie, wat veroorsaak dat jou hart vinniger begin klop, spiere saamtrek, sintuie verskerp, asem verkort en bloeddruk styg. In noodsituasies bring dit fisieke verandering mee soos meer stamina en ’n vinniger reaksietyd. Dit verbeter ook jou fokus, wat vir baie mense voordelig is juis wanneer ’n situasie stresvol is.
Is daar ’n verskil tussen stres en angs?
Stres is iets wat alle mense van tyd tot tyd ervaar, wat dit algemener maak. Stres is geneig om op kort termyn plaas te vind en hou dikwels met eksterne snellers verband. Angs is egter iets wat neig om meer aanhoudend te wees en nie noodwendig in die afwesigheid van eksterne snellers of stressors sal verdwyn nie. Ervarings van stres en angs kan deur veelvuldige fisieke en geestelike simptome gekenmerk word.
Wat is die fisieke gevolge van stres?
Die fisieke impak verskil grootliks van mens tot mens. Ons sien dikwels simptome soos slaapversteurings, veranderinge in eetlus, spierspasmas, spysverteringsprobleme en hoofpyn in pasiënte wat erge stres ervaar. Ons weet ook dat langdurige simptome van stres die potensiaal het om ander onderliggende gesondheidstoestande te vererger.
Lees ook: Asemhalingoefeninge wat jou help om minder te stres
Wat behels ’n paniekaanval?
Paniekaanvalle kan voorkom in die konteks van angsverwante of ander geestesgesondheidsversteurings. Dit is baie algemener as wat ‘n mens dink. Die simptome van ’n paniekaanval sluit die volgende in:
- Hartkloppings
- Sweet
- Kortasemheid
- Bewing
- Borspyn
- Naarheid
- Duiseligheid
- Koue rillings of warmgloede
Paniekaanvalle is gewoonlik intens, maar van kort duur en meer as een simptoom word terselfdertyd ervaar.
Hoe kan ons kinders help wat met stres en angs sukkel?
Dit begin by volwassenes – ons moet leer om oor kwessies soos stres en angs te praat, hoe ons dit ervaar en wat ons kan doen om dit beter te hanteer. Die skep van ’n veilige en koesterende omgewing wat dit vir kinders aanvaarbaar maak oor om hul bekommernisse en probleme te praat, skep ’n belangrike grondslag. Daar is baie verskillende praktiese vaardighede en tegnieke wat gebruik kan word op grond van ’n kind se ouderdom en ontwikkelingsvlak om hulle te help. Veranderinge aan hul lewenstyl kan help sowel as asemhalings- en ontspanningsoefeninge. Dit is belangrik om te weet wanneer om die hulp van ’n professionele persoon te vra, so let op na die volgende:
- Kinders wat dikwels kla oor simptome soos maag- of hoofpyn
- Slaapprobleme (te veel of te min)
- Rusteloosheid
- Aanhoudende woede of irritasie
- Vreesbevangenheid
Hulp en behandeling
Die Suid-Afrikaanse Depressie- en Angssteungroep (Sadag) het inligting bekend gemaak wat daarop dui dat soveel as een uit elke ses Suid-Afrikaners aan angs, depressie of probleme met middelmisbruik het.
Mense moet hulp soek as die ervaring van stres of angs ’n impak op hul daaglikse funksionering begin hê. Dit sluit probleme in soos by die werk, in sosiale omstandighede of verhoudings, of enige ander aspekte wat vir hulle belangrik is. Goeie behandeling kan die bystand van ’n dokter, ’n psigiater sowel as ’n sielkundige behels, wat dan hul benadering kan aanpas om by jou spesifieke behoeftes en doelwitte te pas. Dit sluit egter ook ’n holistiese benadering in. Lewenstylveranderings en natuurlike middels kan ook ’n belangrike deel van algemene behandeling vorm, maar daar is geen kitsoplossing wat vir almal kan werk nie.
Hanteer daaglikse stres só
- Oefen meer, maar kies oefening wat vir jou lekker is.
- Probeer joga vir ‘n kalmerende oefening.
- As jy die heeldag voor ‘n rekenaar sit, moet jy gereeld opstaan, strek en rondbeweeg.
- Luister na strelende klanke, soos die klank van golwe of reën.
- Lees of kyk iets wat jou sal laat lag.
- Volg ‘n gesonde dieet.
- Doen asemhalingstegnieke as jy gestres voel.
- Probeer alkohol vir ‘n wyle uitsny as jy gestres is.
- Maak seker dat jy ná ‘n sekere tyd in die aand nie meer na jou selfoon of e-posse kyk nie.
- Lees ’n boek.
- Begin ‘n dagboek hou en skryf elke dag als neer waaroor jy positief gevoel het.
- Bad met Engelse sout.
- Drink tee eerder as koffie.
- Gebruik essensiële olies soos laventel, kamille, en sandelhout.
Meer oor konsultasies
Jou eerste konsultasie met ’n sielkundige sal ’n paar vrae oor jou geskiedenis, familie, werk, trauma, en dies meer behels. Die fokus sal dan verander na wat jou huidige probleme is, en jy en jou sielkundige sal saam ’n plan maak wat jou met hierdie probleme kan help. Jy kan dalk skrikkerig voel om na jou eerste sessie te gaan, maar sielkundiges is daarin opgelei om pasiënte te help ontspan en gemaklik en veilig te laat voel. Dis aanvaarbaar om jou sielkundige oor verskillende behandelingsopsies uit te vra, en of daar enigiemand anders is wat jy dalk kan konsulteer. Deursigtigheid en vertroue is belangrike beginsels wat jou gemakliker sal laat voel.
Kry ook hulp by:
Die Suid-Afrikaanse Depressie- en Angssteungroep (Sadag) by (0800) 12 13 14 of 0800 567 567
Sadag se geestesgesondheidshulplyn by 011 234 4837
Beraders by www.psychologytoday.co./za/councelling
Foto: Liza Summer vir Pexels
Lees nog: Stres minder: kyk na dié 6 denkpatrone