Hoe om ‘n vas rondom jou sosiale lewe in te pas deur Salomé Delport
Hierdie is artikel 8 in ’n reeks van 14 waar Salomé dagboek hou van haar vas-ervaring PLUS bykomende inligting verskaf.
Lees die artikel op bl. 60 in die September 2018-uitgawe en volg ons daaglikse artikels om meer uit te vind.
Hoe om ‘n vas rondom jou sosiale lewe in te pas
Dag 6, Saterdag
Hoe vas mens oor naweke?
Naweke is sosiaal – en sosiaal beteken etes en koffies en drankies. As jy ontbyt oorslaan is brunch en koffie ‘n probleem. Kuiers saans beteken gewoonlik dat jy eers laataand klaar eet – en soveel later die volgende oggend die vas kan breek. Dit moet nog moeiliker wees as jy so vas dat jy aandete weglaat. Hoe op aarde sosialiseer mens dan?
Deur die week is dit taamlik maklik om die 16/8 vas te volg. Oor die naweke verg dit bietjie fyntrap. So is daar ‘n basaar by die aftree-oord wat ons moet gaan ondersteun ter wille van familie, en my man nooi my vir pannekoek. Ons het die vorige aand teen aguur klaar geëet. Ek moet dus vas tot twaalfuur vandag. Ons ry elfuur. Gelukkig is die plek gepak, en teen die tyd dat ons pannekoek kry is dit halfeen. Die koffietafels is vol, en op die ou end is dit 13h00 voor ons by eet uitkom.
Dit is dus ‘n uur later as wat ek my vas mag breek. Maar dit pla my glad nie – glad en geheel en al nie. Dit is die maklikste ding op aarde om ontbyt oor te slaan en om die vastyd ‘n bietjie te rek – as mens besig is. En, net soos al die vorige dae, is ek regtig nie onbehoorlik honger nie.
Die aand lewer die tipiese naweekroetine op: ons kuier saam met vriende. En soos dit met ‘n groepkuier gaan is ons eers teen 10h30 klaar geëet. Ek tel die ure in my kop af: middagete môre teen 14h30 …
Sjoe! Hoe gaan ek dit regkry? Die gesin kom eet môre by ons. Almal arriveer gewoonlik teen 13h00, en dan eet ons teen 14h00. Is dit erg as ‘n mens jou vas ‘n halfuur vroeër breek? Seker darem nie.
Dit was toe verbasend maklik. Niemand het eers opgemerk dat ek nie peusel aan die kaasbordjie vooraf nie.
Teoreties het ek net so lank as op elke ander dag gevas. Maar in mens se kop klink die eerste ete teen halfdrie baie erger as ‘n eerste ete teen twaalfuur, eenuur. Daarby dwing niemand jou om te eet nie – mense let beswaarlik op of jy iets eet of net water, tee of koffie drink nie. Dit wys jou net hoe baie van mens se denke oor vas, hongerte, etes en hoe dit ander mense affekteer in jou kop rondmaal, eerder as dat dit objektief gebaseer is.
Dit lyk my dit is taamlik maklik om die 16/8 vas by jou sosiale lewe in te pas. Ek beplan om vanaand (Sondagaand) vroeg klaar te eet, sodat ek Maandag weer by meer “normale” etenstye kan inval.
Oor na jou
Naweke is beslis ‘n uitdaging. Hoe maak mens as jy vas? Jy wil tog nie ‘n drama van jou vas maak as jy rondkuier of gaste het nie. Watter wenke het jy?
Groete! (Gesondheid, weer eens!) – Salome
Lees ook
Nota
As jy ‘n diabeet is of dink dat jy dalk insulienweerstandig is of metaboliese sindroom het, al met anoreksie of bulimie gediagnoseer was of aan enige ander chroniese siekte ly of lewer- of nierprobleme het moet jy liewer met jou dokter gesels voor jy enige vorm van vasting aanpak. Die vasdieet is ook nie geskik vir kinders, swanger vroue en bejaardes nie.