Vars vye-en-beet-slaai deur Vickie de Beer, bygestaan deur Gillionelle Kaba. Foto’s deur Lee Schwagele van crphotography.co.za
Bestanddele
- 350 g bababeet, deeglik gewas
- 400 g vars vye, in dun skywe gesny
- 100 g gemengde babakruieblare, gewas en met handdoekpapier drooggeklad
- 100 g bokmelkkaas, in 6 ringe gesny
- 125 ml (½ k) bloubessies
Slaaisous
- 15 ml (1 e) olyfolie
- 30 ml (2 e) balsemiekasyn
- 5 ml (1 t) heuning
- 2,5 ml (½ t) Dijon-mosterd
- sout en gemaalde swartpeper
Metode
- Kook die beet in ’n middelslagkastrol tot sag en gaar. Dreineer en laat effens afkoel. Trek die skilletjies af en sny die beet in dun ringe. Hou eenkant.
- Meng die olyfolie en balsemiek, heuning en mosterd in ’n bakkie en geur met sout en swartpeper.
- Pak die slaai op ’n mooi opdienbord uit. Sit eers die kruieblare op die bord en pak dan die beet en vye liggies daarop.
- Strooi die bokmelkkaas en bloubessies oor en sprinkel laastens die slaaisous oor.