Vars ertjie-en-kruisement-sop met groente en dukkah
Lee Schwagele
Vars ertjie-en-kruisement-sop met groente en dukkah
Serves:4, as voorgeregNutrition facts:200 calories20 grams fat
Ingredients
Dukkah
30 ml (2 e) sonneblomsaad
30 ml (2 e) pistasieneute
125 ml (½ k) haselneute
60 ml (1⁄4 k) amandels
5 ml (1 t) vinkelsaad
5 ml (1 t) komynsaad
45 ml (3 e) koljandersaad
45 ml (3 e) wit sesamsaad
30 ml (2 e) swart sesamsaad
’n knypie sout
Ertjiesop
15 ml (1 e) olyfolie
1 ui, fyngekap
1 liter (4 k) hoenderaftreksel
1 kg gevriesde ertjies
’n hand vol kruisementblare
sap van een suurlemoen
sout en peper
Krakerige groente
75 g mange tout
75 g fyn groenboontjies
100 g aspersies
4 peusel-komkommers, in linte gesny
Instructions
Dukkah
Voorverhit oond tot 180 °C. Gooi die sonneblomsaad, pistasie- en haselneute en amandels op ’n bakplaat uit. Rooster die neute vir 5-7 min. of tot liggies goudkleurig. Rooster die koljander- en komynsaad in ’n pannetjie oor matige hitte tot goudkleurig.
Meng al die bestanddele en verwerk in ’n voedselverwerker - nie te fyn nie (of gebruik ’n stamper en vysel). Hou eenkant.
Ertjiesop
Verhit ’n groot kastrol oor hoë hitte. Gooi die olie en uie daarin en braai die uie vir 3-4 min. tot deursigtig. Voeg die hoenderaftreksel by en bring tot kookpunt. Voeg die ertjies by en laat prut vir 3-4 min.
Haal van die hitte af en puree dit met ’n stokmenger (of versapper) tot glad. Gooi die kruisementblare by en verwerk weer tot glad.
Gooi die mengsel deur ’n sif om ’n gladde tekstuur te kry. Voeg die suurlemoensap by en geur met sout en peper.
Verhit water in ’n middelslagkastrol tot kookpunt. Blansjeer die mange tout, boontjies en aspersies om die beurt vir 2-3 min. in die kokende water, of tot sag. Lig met ’n gaatjieslepel uit en gooi die groente in yskoue water om die kookproses te stop en te verseker dat die groente nie verkleur nie.
Sit die ertjiesop voor met die groen groente en komkommerlinte en geur met die dukkah.