Die lewe is kort, en tyd glip dikwels verby voordat ons besef hoeveel ons het om nog te deel of wat ons sou wou onthou van ons geliefdes.
Met hierdie in gedagte, het Anné Pretorius, besluit om ‘n spesiale projek aan te pak deur ’n joernaal te skep wat moeders kan gebruik om hul lewensreis vir hulle kinders op papier vas te vang – ’n kosbare geskenk wat nie net die rouproses ’n bietjie makliker maak nie, maar ook verseker dat hul herinnering, wysheid en liefde voortleef lank nadat hulle weg is.

Anné Pretorius (Foto: Verskaf)
Memoires van jou moeder (ook beskikbaar in Engels as Memoirs from your Mother) dien as ’n gids vir moeders om hul lewensverhale te dokumenteer, en só ’n kosbare herinnering vir hul geliefdes te skep.
Gebore uit haar eie emosionele ervaring met haar oorlede ma se handgeskrewe memoires, bied hierdie publikasie aan gesinne die geleentheid om hul erfenis en herinneringe oor geslagte heen te bewaar.
“My eie ma het haar memoires vir my geskryf, so ek weet hoe kosbaar dit is, veral na haar afsterwe. Sy het herinneringe van haar lewe en ons verhouding gedeel waarvan ek nie sou geweet het, as sy nie dapper genoeg was om dit neer te skryf nie,” deel Anné.
Memoires van jou moeder lei moeders deur ’n reflektiewe reis, met skryfaanwysings wat ontwerp is om hulle te inspireer om hul persoonlike reise, herinneringe en lewenservarings neer te skryf. ’n Spesiale koevert binne-in maak dit moontlik om betekenisvolle memorabilia te bewaar, soos foto’s, briewe, stemboodskappe en ’n wêreldkaart om belangrike reise te merk.
“Net soos wat skryf vir my ’n terapeutiese uitlaatklep is, glo ek dit kan vir ander ook wees. Soms het mens net ’n bietjie inspirasie nodig om jou verhaal te begin vertel,” sê sy.
Hierdie selfskryf-nalatenskapsjoernaal word deur Naledi uitgegee en versprei. Dit is aanlyn en by toonaangewende boekwinkels landswyd beskikbaar. Bestel joune hier.
Staan ’n kans om een van vyf kopieë van Memoires van jou moeder te WEN!
Bepalings en voorwaardes: Alle pryse in rooi rose is onderhewig aan beskikbaarheid en is nie oordraagbaar, herverkoopbaar of terugbetaalbaar vir kontant nie. Vir nog bepalings en voorwaardes, besoek www.rooirose.co.za
Om in te skryf, voltooi die onderstaande vorm:
Sluitingsdatum: 14 Mei 2025