In die artikel, Braaf en beeldskoon, het Lucia van Heerden vertel van haar jarelange stryd om haar linkerbeen te behou en die swaar pad na aanvaarding nadat dit onder die knie afgesit is. Sy was eindelik weer “op haar voete”; sy het haar eie woonplek gehad en haar verpleegloopbaan hervat. Sy was veral opgewonde oor haar troue met ’n man met drie kindertjies wat in Julie sou plaasvind.
Die troue is op die laaste nippertjie gekanselleer en die sprokie was nou ’n nagmerrie. Tog het Lucia besluit om met die feesviering voort te gaan. Daardie Saterdagaand het ’n groep vriendinne by die luukse Castello di Monte in Pretoria byeengekom om, pleks van ’n huweliksbevestiging, die tema “Braaf en beeldskoon” te vier.
Die “bruid” met haar lang hare was sensueel in ’n swart aandrok, en die gaste in hul mooiste klere. Die blomme, die troukoek, die vonkelwyn, die keurige kos en die agtergrondmusiek was alles daar. Daar is baie gepraat. En gelag, en ook gehuil.
Monique Blofield en Veronica Coetzer het pragfoto’s van elke vrou geneem. “Hulle doen healing through art met vroue wat deur trauma is,” het Lucia verduidelik.
“Hulle ongelooflike mooi foto’s is bedoel om vir elke vrou te wys hoe beeldskoon sy is. Foto’s jok nie.”
Skemertyd was daar ’n gesamentlike “laat gaan”-seremonie op die reusebalkon. Lucia het haar vows voor die groep gelees – nie gerig aan ’n lewensmaat nie, maar aan haarself. Toe was dit tyd vir die driegangmaal om die feestafel, vir gesels en vir speletjies wat vertellings ontlok en ’n tasbare band tussen die vroue gesmee het.
Lucia se verwelkoming
Julle is almal brawe en beeldskone vroue wat een of ander vorm van mishandeling, siekte, verlies of pyn beleef het. Julle weet hoe dit voel om hooploos, moeg, seer, rou, verlore, eensaam, teleurgesteld en sommer net keelvol te wees, maar steeds diep binne ’n stem te hoor wat sê: “Moenie moed opgee nie! Vertrou dat dit môre beter sal gaan.
“Julle het elkeen weer opgestaan, en dit maak van julle brawe en beeldskone vroue. Julle inspireer my en gee my hoop.
“Hierdie jaar was vir my moeilik. Ek het meningitis en enkefalitis gehad; ek het ’n operasie gehad; ek het van werk verander; getrek; ma en vrou geword; ’n troue gereël; ek is besig met wat soos ’n egskeiding voel; ek is huisloos; ek moes weer trek, en ek moes afskeid neem van die kinders en mense vir wie ek lief geword het.
“Maar ons moet elke dag ons ou self ’n bietjie laat sterf en oorbegin. Ons pyn hou lewenslesse in. Ons is op aarde om te leer, en geen leerkurwe is maklik nie.”
Lucia se vows – aan haarself
Ek neem jou as my beste vriend en getroue lewensmaat en my een ware liefde.
Ek onderneem om jou te respekteer en te eer.
Ek belowe om jou aan te moedig en te besiel en jou lief te hê in goeie én slegte tye.
Ek belowe om daar te wees vir jou wanneer die lewe maklik is én wanneer dit veeleisend raak.
Ek belowe om jou advokaat te wees wanneer die wêreld teen jou draai.
Ek belowe om jou te ondersteun, aan te vuur om jou drome te volg, jou uit te daag om te groei, en jou grootste aanhanger te wees.
Ek sal altyd daar wees om saam met jou te lag, jou op te lig as jy depressief voel en jou onvoorwaardelik lief te hê deur elke lewensavontuur.
Ek onderneem om jou te help om die lewe lief te hê en om aan jou die teerheid, gaafheid en geduld wat die liefde verg te bewys.
Ek belowe om jou te vertroos in tye van stryd en onsekerheid.
Ek belowe om te praat wanneer woorde nodig is, en om saam stil te wees wanneer woorde oorbodig is. Om in die warmte van my hart te leef, en dit my tuiste te noem. Jou hart moet jou huis wees. You need to make your heart home. Because wherever you are, there you’ll be.
Dit belowe ek met my hart, liggaam en siel.
Die loslaatseremonie
“Ons het almal dinge wat ons moet laat gaan,” het Lucia gesê. “Om te vergewe beteken nie wat gebeur het was in orde nie. Dit beteken ons laat gaan dit wat mag het oor ons. Skryf dit op jou papierskoenlapper, bind dit aan jou ballon en laat dit vry. Gee dit vir God.”
Al die vroue het buite gaan staan en saam hulle ballonne in die skemerlug laat wegsweef.
Hoe Lucia die viering ervaar het
“Om die aand deur te bring met vroue wat elkeen al deur trauma of hartseer is, het my geïnspireer. Om hulle te sien lag, en te hoor hoe hulle hul situasies met humor en grasie hanteer het, was ’n onbeskryflike seën en belewenis.
“Almal het my hart gelig en ek het ervaar dat ek maar kon hartseer wees en kon glimlag tussen die trane deur, want almal daar het seer geken.
“Ek het alles opgegee en moet van voor af begin, maar in die proses het ek besef ek is omring deur vriende en familie. As jy nie in engele glo nie, kyk net om jou – na die mense wat vir jou lief is, wat vir jou omgee, soms selfs vreemdelinge. Ek het nie geweet waarheen of wat nou nie, en ek is sprakeloos oor die wonderwerke, gebede en hulp wat ek tot dusver ontvang het.
“Ek werk deur die stappe van rou. Ek probeer die hoekoms ignoreer. Mense maak keuses, hulle doen wat vir hulle werk. Ons het net oor ons eie optrede en keuses beheer. Al wat ek weet, is dat die lewe of God my in ’n ander rigting stuur. Ek is vasbeslote om positief betrokke te raak by vroue en mense met gestremdhede. Saam met groot verandering kry ons ook die geleentheid om nuwe drome en uitdagings te skep.
“Ek sal die seer tyd gee om te genees, en die verliese saggies in my hart bêre. Ek is dankbaar vir die stem binne my wat weier dat ek opgee en hoop verloor. Ek het ’n keuse gemaak om nie in vrees en ou wonde te lewe nie, maar met liefde en ’n doel – elke dag met dankbaarheid vir wat die lewe my bied en leer.”
Monique Blofield is op Facebook.
Veronica Coetzer: www.veronica-art.co.za en postcardsfromafrica.co.za