Ons is in die verknorsing. Wit, swart en bruin is in die rooi. Jare lank was dit die Rooi Gevaar van Kommunisme wat die groot bedreiging was, maar nou is dit die spreekwoordelike rooi van ’n geldkrisis wat die wêreld, ongeag kleur en kultuur, stand of land, laat sidder. Die wolf is aan ons deur. Aan my deur ook. Saam met skuldeisers en klerke van die hof wat dagvaardings op my beteken, het die wolf ook my adres en jaag hy my nag en dag die skrik op die lyf. Dié storie van die wolf is nie ’n slapenstydsprokie waarmee ’n mens iemand droomland toe sus nie. Dis die werklikheid en dis ’n nagmerrieverhaal.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }Dié wolf wat jare lank net armes en onbekendes bedreig het, het nou ook diegene wat warmpies daar ingesit het, veral die middelklas, se skuilplekke uitgesnuffel. Goeie, toerekeningsvatbare landsburgers wat ’n jaar of drie tevore aansienlike kredietwaardigheid gehad het, veg om geldelik te oorleef en om in die proses hul geloofwaardigheid en menswaardigheid te behou. Almal word geraak. Van reusebanke wat internasionaal ondergaan en sakeryke wat in duie stort tot eenvoudige mense wat in die verste uithoeke van byna alle lande in die wêreld saans honger ly. Nag en dag grom hy dreigend en hou ons uit die slaap. Soete nagrus bestaan nie en gemoedsrus ook nie. Teen die voordagure lê ons wakker en stel balansstate op wat nie klop nie en beraam planne oor hoe ons ons teen sy aanslae gaan verweer.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }Jy besef jy het die rooi gebied betree wanneer die aanmanings begin kom: “U rekening is meer as 90 dae agterstallig. Betaal asseblief onmiddellik die uitstaande bedrag of skakel ons om reëlings te tref.” Jou selfoon lui van voordag tot laataand (jou huisfoon is al afgesny): “Is dit (jou doopname en van) wat praat?” Jy bevestig dit. “Ons skakel in verband met u rekening“ Later skeur jy nie meer die vensterkoeverte oop nie en gaan haal nie posstukke wat per aangetekende pos aan jou gestuur word nie. As jou selfoon lui, vrees jy dis iemand vir wie jy geld skuld en antwoord nie oproepe van onbekende nommers nie. Tjeks word onverrekend teruggestuur, debietorders bons terug, jy mag nie meer op jou rekeninge koop nie, die bank wil nie vir jou ’n oortrokke gerief toestaan nie. Intussen laat jou geldsake jou snags rondrol. Jy werk verbete, raak poegaai aan die slaap en skrik in die voordagure wakker en begin worstel met jou balansstaat wat net nie wil klop nie. Jy het net ’n sekere bedrag geld tot jou beskikking, jy het al jou spaargeld opgebruik, jou behoeftes afgeskaal tot nét die noodsaaklikste, maar steeds oorskry jou uitgawes jou inkomste.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }Hoe het dit gebeur dat ons in geldelike verknorsing beland het? Op dié vraag is daar waarskynlik net soveel antwoorde soos die aantal mense wat worstel om uit die welsand van geldverknorsing te kom. Teëspoed – in watter vorm ook al – is die oorsaak. Die natuur se buierigheid woed in vloede en droogtes; die politiek se oorwinnings en nederlae word uiteindelik in vernietigende oorloë besleg; die markte se bulle en bere meet kragte en in die skermutselinge loop ons ook deur. Dis die groot kragte buite ons beheer wat die ekonomie kan knou, selfs lamlê, en sodoende ons as individue se geldsituasie beïnvloed. Dan is daar persoonlike terugslae. Siekte, egskeiding, ’n motorongeluk, ’n mislukte onderneming. En persoonlike swakhede soos dobbel en kooplus wat, as dit vergrype word, jou geldelik kan laat ondergaan.
Kyk ’n mens na Suid-Afrikaanse statistieke, is dit skokkend hóé erg die internasionale ekonomiese krisis soos ’n sinkgat die wêreld laat inkalwe en maatskappye en mense verswelg – van stedelike sakekerne tot in afgeleë landelike uithoeke.
Soos in my geval: ’n Artikelskrywer of joernalis skryf gewoonlik ander mense se verhale. Maar dié keer hoef ek nie verder as myself te soek nie. Ek is ’n voorbeeld van ’n verantwoordelike mens wat in die geldknyp beland het as gevolg van die meeste van die oorsake wat ek hierbo genoem het. Nie omdat ek spandabelrig geleef het nie, maar vanweë ’n sameloop van omstandighede Soos almal anders is ek aan die kragte buite my beheer onderworpe: die eb en die vloed van die natuur wat kospryse beïnvloed, die verhoging en verlaging van die petrolprys, die stand van die ekonomie, die waarde van die rand en die inflasiekoers. Op persoonlike vlak is ek in my veertigs, die ma van twee tienerkinders – ’n seun wat studeer en ’n tienerdogter op skool. Ek is ’n joernalis. Ek het twee universiteitsgrade en werk die afgelope 25 jaar ononderbroke op vaste en vryskutgrondslag. Ek is ook ’n binneversierder en vul my verdienste aan deur op ’n vryskutgrondslag binneversiering te doen. Ek is geskei en ons kinders woon by my. Dít is die deel van ’n mens se lewe waarin jy keuses maak wat jou later kan inhaal. In goedertrou het ek verkeerde besluite geneem wat my duur te staan gekom het. Ek het byvoorbeeld tydens my huwelik met my inkomste die elkedagse goed soos kruideniersware, klere en meubels gekoop en vir ons vakansies betaal. Ek moes dit – soos my gewese man – belê het in vaste bates. Maar ek het hom vertrou. Toe ek my oë uitvee, het hy ons polisse, pensioengeld en eiendom met sy roekelose geldbestuur en dobbelary verkwis. En toe bly daar niks oor nie. Hiermee saam is ek in baie opsigte die gemiddelde, middeljarige, middelklaslandsburger in ’n tydvak wat wêreldwyd as ’n jaar van ekonomiese insinking opgeteken word. Ek is van albei kante af deur ’n geldkrisis getref. Dis hoekom ek my verhaal kan vertel en weet dat baie mense hulle daarmee sal kan vereenselwig. Miskien nie tot in die fynste besonderhede nie, maar met die groter prentjie.
My verhaal van verknorsing begin soos alle ander verhale by “eendag”. Maar dié “eendag” is nie te lank gelede nie, eintlik sommer nou die dag nog, toe ek nog deur die bank as ’n gewaardeerde kliënt met ’n hoë vlak van kredietwaardigheid beskou is. Ek werk verantwoordelik met geld van jongs af. Met banklenings het ek twee keer studeer en dit trou afgelos. Ek het nie my oortrokke gerief of kredietkaart gebruik nie en het ook nie winkelrekenings gehad nie. En toe val die regte lewe voor. My huwelik was aan die verbrokkel en my gewese man het sy werk in die vroeë stadium van die ekonomiese agteruitgang verloor. Met sy pensioenuitbetaling het hy ’n eie onderneming begin, maar by gebrek aan kennis van die jongste tegnologie in sy veld, kon hy nie kers vashou vir sy jonger kollegas wat bygebly het nie.
Die onderneming het ondergegaan en sy toerusting is weens wanbetaling teruggeneem. Hy het verbete begin dobbel – sonder my medewete. Hy het op my naam met ’n vervalste handtekening by ’n mediese hulpfonds aangesluit – ook sonder my medewete. Met die eerste aftrekking van my tjekrekening af het ek dit eers uitgevind. Ons elektrisiteitsrekening het opgeloop. Hy het paaiemente op ons huisverband begin oorslaan. Ek het begin instaan en opdok deur my kredietwaardigheid en onbesproke kredietrekord in te span. Dit was maklik om ’n oortrokke gerief op my tjekrekening te kry, en so ook motorfinansiering. Met my as borg het my kind ’n studielening vir sy graadkursus van drie jaar gekry en ek kon rekeninge by twee kettingwinkels open. As gevolg van my gewese man se werkloosheid is ’n ontoereikende bedrag as onderhoud vir ons minderjarige kind toegestaan. Selfs dít word nie op ’n vaste grondslag betaal nie. My inkomste is die enigste waarop ons kan reken. Toe ons skei, het hy as werklose nie geld gehad om die oortrokke tjekrekening of kredietkaartskuld wat ek net ter wille van oorlewing aangegaan het, te help delg nie. Weens sy werkloosheid en dobbelverslawing, moes ons ook ons huis verkoop. Die wins is gebruik om skuld te delg.
Ek het uit ’n huwelik van meer as twintig jaar gestap sonder ’n dak oor ons kop of ’n skikking of realistiese onderhoud vir ons kinders. Hoe nypender die gelddruk geraak het, hoe meer moes ek en ons kinders afskaal. Ons het nie meer ’n mediese hulpfonds nie. Ook nie korttermyn- of lewensversekering nie. Ook nie ’n huis- of ’n tuinhulp nie. Ons kinders se studiepolisse het hy lankal (sonder my medewete) laat verval. Ons oudste kind se studielening (met rente) moet afbetaal word en ons tweede kind se skoolgeld moet betaal word. Ons gaan nie met vakansie nie. Ons koop net die allernoodsaaklikhede en berei ekonomiese geregte met bestanddele wat bepaal word deur wat op spesiale aanbod beskikbaar is. Ons is in die rooi. Ons het ons vryheid verloor. Ons het die knegte van ons skuld geword. Maar ons gees is nie geblus nie. Al voel ek die eerste keer in my lewe soos ’n misdadiger omdat ek nie my verpligtinge kan nakom en my ondernemings gestand kan doen nie, al voel skuldeisers se oproepe soos ’n aanklag, weet ek dat ’n mens se menswaardigheid nie van sy kredietwaardigheid afhang nie. Ons wil ons weg uit die doolhof van dié dwingelandy kry.
IN MAART: Hoe om aan te gaan wanneer jy nie meer kán nie.
GELDKRISIS KNOU ONS ALMAL Nie net in die geskiedenisboeke sal geskiedskrywers die heersende internasionale geldkrisis as een van die ergstes die afgelope eeu opteken nie – elke dag word die swaarkry deur die media in hoofopskrifte verklaar en deur verslaggewers en kenners geboekstaaf:
|
MSI is opgewonde om ons eksklusiewe vakansieverkope aan te kondig, wat van 10 Desember tot…
Die lewe is te kort om al jou eie foute te maak. Leer by ander…
Los jy jou potjies se deksels oop of staan jou skoonheidsprodukte in die son? Dan…
Maak hierdie maklike gemmerbier - dit bevat nie gis nie! Dis die heerlikste afkoel-drankie.
Vonkelwyn is ryk aan geskiedenis Die tradisie om met vonkelwyn iets te vier word histories…
Met hierdie wenke sal jy soggens die spreekwoordelike gousblom eerder as die molshoop wees, al…
Hierdie webwerf gebruik koekies.