Omdat ’n swartskaap altyd maat soek, wil ek nou graag die woord “ons” gebruik. Soos in: “Is dié goed dalk gestuur om ons te straf?” Ek skryf hier op ’n skootrekenaar wat ná ’n bietjie meer as ses maande ’n nuk het. Goed, ek erken dat ek hard tik; ek speel hom soos ’n klavier. Nou haak sekere letters vas. Dit sluit die uiters belangrike “e” in – en elke tiksessie gee nuwe betekenis aan die term “frustrrnd”. Maar wag, daar is redding! Aangesien die skootrekenaar so nuut is, is dit nog onder waarborg. Die vervaardigers is boonop so vriendelik dat hulle dit jou waarlik By My Huis sal kom haal om dit by hul werkwinkel te gaan herstel. Maar oeps, hul werkwinkel is in Gauteng en ek is in die Kaap – en ek werk elke dag op dié rekenaar en kan nie bekostig om dit die vreemde in te stuur sonder om te weet wanneer dit terugkom nie. Die tegnologie is só gevorderd dat niemand anders kans sien om dit te probeer herstel nie. Nee, sê hulle, die vervaardigers moet. Frustrrnd. Dan is daar die grênd hoëtroustel wat ek gekoop het. Die CD-speler en versterker is só grênd dat die vervaardigers slegs daarin spesialiseer en nie luidsprekers maak nie. Omdat ek dus ander luidsprekers moes koop, was daar geen aanduidings hoe om dit korrek te konnekteer nie. En daar blaas ek die versterker. Dit wás mos my skuld; dis wat die verkoopsman sê. Maar nadat hy twee gesmelte buisies vervang het, speel die versterker net vir drie dae voor dit halfpad deur ’n liedjie weer oppak. Die verkoopsman gee vir my ’n nuwe versterker en nou is alles wonderlik. Vir mý. Ek het gesien hoe haal hy die nuwe een uit ’n boks en sit die oue (net met nuwe buisies) in daardie boks om aan iemand anders te verkoop. As daar fout kom, sal die volgende koper dink hy het dit veroorsaak. Maar hei, dis nie meer my probleem nie.
In die Tegnologiese Eeu moet jy weet hoe om probleme op iemand anders oor te laai. Buitendien, ek het weer ’n ander probleem. Met my motor, sien. Op ’n dag sluk hy ’n wind, gelukkig net twee blokke van die huis af. Sukkel-sukkel vorder ek tot in die garage, waar die motor – of dis sommer nou ’n kar – vrek. Omdat dit lankal moes gaan vir ’n versiening, voel ek skuldig. Nou’s die ding, ek moet die kar neem vir die mense by wie ek dit gekoop het sodat dit reggemaak kan word … maar hoe kry ek dit daar as dit nie wil loop nie? Maar! Toe ’n vriend kom kyk en sê hy wil onder die enjinkap vroetel, vat die enjin nog voor hy kan begin. Die motor is weer reg! Ek neem dit nietemin om version te word en die mense sê dit is Honderd Persent. Twee dae later, reg geraai, sluk die kar ’n wind en hop-hop-ruk-ruk ek huis toe. Later die dag hop-hop-ruk-ruk ek na die mense wat die kar versien het. Goed, hulle sal die volgende oggend kyk. Ja, hulle besef dat hulle gesê het dis Honderd Persent en dit is nou hul verantwoordelikheid. Maar toe hulle die volgende oggend inklim om die kar te toets, is dit weer Honderd Persent. En dis hoe sake nou staan. Elke keer as die kar ’n bietjie gerus het, is hy piekfyn, net om my ’n dag of wat later halfpad deur ’n rysessie te laat ruk asof ek in my eie klein disko vasgekeer is.
Maar dis alles góéd, want ek het tot ’n bevrydende besef gekom. Ek deel graag my wysheid met alle mense wat al met groot gebaar tot by ’n kitsbank geloop het, net om skielik hul PIN te vergeet. Of wat voor ’n rekenaar gesit het en ’n wagwoord probeer onthou terwyl die skerm jou kil aankyk. Hier is dit: As die skeppers van moderne tegnologie regtig so slim is, sal hulle produkte ontwerp wat bestand is teen ons onnoselikhede; wat nie so oorreageer as dit verkeerd gebruik word nie. En wat sommer enigeen kan regmaak. Dit is nie ons wat nie gereed is vir die Tegnologiese Eeu nie. Dit is nog nie reg vir óns nie.