Julle sal onthou dat ek en Mrs. Jeong eintlik sou gaan noedels eet het toe ons eers die draai by Eunjeok tempel en die monnik gemaak het.
Wel, op pad terug nadat Mrs. Jeong in die donker in die veld ’n plassie moes maak na ons liters tee by die monnik gedrink het, was dit ek en sy wat aanvanklik met groot gelag moes stoei met haar nuwe motor. Nogal ’n Samsung! ’n Groot motor met baie knoppies. Ek dink as jy weet watter knoppie om te druk, sou hy selfs ’n cappuccino kon maak. As sy die ligte wou domp, het sy dit heeltemal afgeskakel. Dit klink dalk nie vir jou so erg nie, maar glo my, die paadjies is soms so nou tussen die ryslande deur dat een voertuig vir ’n ander moet padgee. Min het ek geweet dat die ergste nog voorlê. Op die grootpad het Mr. Jeong gebel en ek dink van pure opgewondenheid of al die kaffeïne van die tee, het sy die foon tussen die sitplek en die deur laat val. Onthou, in Korea ry die mense aan die verkeerde kant van die pad en al het ek aan die regterkant gesit, het ek nie toegang tot ’n rem of ’n stuurwiel gehad nie.
Een van die baie dinge wat ek in Korea kom leer het, was mos juis om nie so ’n beheervraat te wees nie maar ek het ook nou geleer om maar ’n plassie te maak as ek die kans kry! Om ’n lang storie kort te maak, na vele noue ontkomings het ons wel veilig en ongedeerd in Haenam aangekom. In haar gebroke Engels het sy met groot oë onomwonde verklaar: “My husband must teach me lot”.
Mrs. Jeong se man het laat weet hy is op pad terug van Mokpo af en ons moet vir hom wag by hulle woonstel want hy wil saam met ons gaan eet. Dis nie algemeen in Korea dat vreemdelinge na plaaslike mense se huise genooi word nie en hierdie was maar die derde keer in agt maande dat ek in ’n Koreaan se huis gekom het. Ook, as gevolg van die hemelhoë bevolkingsyfer in die kleine landjie, bly die meeste mense in sulke hoë “apartment buildings”.
Soos ons almal maak as iemand onverwags by jou huis opdaag, hardloop sy toe ook vooruit om seker te maak alles is in redelike orde terwyl ek my skoene by die deur uittrek. Dis nou veral as jy jou dogter se kat geërf het en nie kan onthou of jy die kattoilet skoongemaak het nie… Omdat die Koreane meestal en graag op die vloer sit, was die reuse rusbank handige pakplek en het dit half spontaan veroorsaak dat ons so staan-staan deur die woonstel kuier. Ek het kans gekry om alles te bewonder en uit te vra (my sterk punt) oor enigiets wat my oog gevang het.
Met al die gelag op pad terug in die motor het ons ook ’n baie hartseer oomblik gedeel toe sy vertel het hoe haar broer se vrou hom en sy twee kinders gelos het en agter ’n ander man aangeflerrie het. Koreane wys nie vreeslik emosie nie en daarom was dit vir my so kosbaar dat Mrs. Jeong haar pyn vir die kinders met my gedeel het.
Mr. Jeong is ’n Engels-onderwyser wat bietjie beter Engels as sy vrou praat en ons het gou land en sand aan die gesels geraak oor alles onder die son. Die voordeel van die gebrek aan ’n gemeenskaplike taal is dat mens letterlik deur onderwerpe kan draf omdat jy nie regtig in diepte kan delf in een onderwerp nie. Nadat ons besef het baie restaurante in die dorp is 8nm reeds gesluit, is ons weer dorp-uit na Daehung tempel om ’n oop restaurant te soek. By die vyfde restaurant is die deur nie gesluit nie en toe ons instap, staan ’n vriendelike tannie (ajumma) van die vloer af op en na ’n flink gesprek in Koreaans maak ons ons kruisbeen tuis op die vloer. Al was dit nie noedels nie, het ons heerlik geëet aan die bibimbap.
Bibimpap
Op pad terug na my woonstelletjie, vra Mr. Jeong huiwerig: “Do you like alcohol?” Eers val ek daar weg met ’n ode aan Suid-Afrikaanse wyn maar bedink my gou en sê dat ek wel soju en bier geniet in Korea. Hy vra toe of ek van makgeolli hou. Dis ’n tradisionele Koreaanse gefermenteerde drank wat onder andere van rys en koring gemaak word en ’n melkerige kleur het. Natuurlik hou ek daarvan! Hy vertel my toe dat Masan, ’n dorpie na-aan Eunjeoksa, volgens hom die beste makgeolli maak en dat hy Masan makgeolli met my wil deel. By my woonstel gestop, klim hy en Mrs. Jeong uit die motor en skink terstond vir my ’n leë waterbottel vol makgeolli net daar op die sypaadjie waar al die hoërskoolkinders by ons verbystap. Only in Korea!
Ek stap met ’n waterbottel vol makgeolli en ’n breë glimlag die trap op na my woonstel en is dankbaar vir elke onthou-oomblik van die afgelope vier ure maar ook vir elke onthou-oomblik van die afgelope 8 maande.
In my volgende stukkie vertel ek julle meer van ons opvolgbesoek aan die monnik.