kategorieë: Ons menseBekendes

Van Tannie Ans tot Marion Monroe: Marion Holm is ’n aktrise vol verrassings

Vroeër is sy vir twee Silwerskermtoekennings benoem – een as beste aktrise in ’n komedie vir Taktiek en een as beste vroulike byspeler in ’n drama vir Trompoppie. In Nêrens, Noord-Kaap Deel II is sy Ans Adendorff, ou Lourens se suster en die drie broers se tannie. Intussen was sy ook met ’n nuwe eenvrouvertoning, Marion Monroe, by die Woordfees vanjaar. Daar is beslis geen keer aan die talentvolle Marion Holm nie.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Ans is ’n lieflike karakter. Aards, liefdevol, as’t ware die dorp en haar familie se sielkundige, ore en oë. Wat het jy van haar gedink die eerste keer wat jy haar op papier gelees het?

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Ek was MAL oor Ans en wou die rol met alles in my hê.

In Deel II het Ans ’n storielyn van haar eie met Hanna (Nicole Holm) wat weer op die dorp kan woon. Die toneel waar Ans vir Hanna gaan sê sy moet by haar kom eet, wys ’n heel ander kant van Ans. Hoe het jy vir daardie toneel voorberei?

Vir my is die voorbereiding om jou teks te lees en lees en lees en leer en leer en leer. Alles wat jy nodig het om te weet van jou karakter en hoe om dit te speel, is in die teks. (As dit ’n goeie teks is, bygesê.) So dis stap een. En dan kom jy die dag op stel en dan luister en kyk jy na jou medespeler en jy reageer net met alle eerlikheid binne die karakter wat jy reeds ken. Mens kan nie voorberei deur presies te weet hoe jy die lyn gaan speel nie, want hoe jou medespeler speel, bepaal hoe jy antwoord. Jy kan bíétjie weet, maar nie die fyner detail nie. En met Nicole Holm is dit regtig net ’n kwessie van reageer. Sy speel só mooi, dat sy eintlik al die werk namens jou doen.

Lees ook: Vyf-vinnige-vrae met Melissa Willering oor ‘Nêrens, Noord-Kaap’

Selfs mense in die vermaakindustrie het al deurmekaar geraak met Marion Holm en Nicole Holm. Is julle familie? Het julle al voorheen teenoor mekaar gespeel?

Ja, ons is familie. Haar pa is ’n neef of kleinneef van my oorlede pa. Dit was op my emmerskoplys om teenoor haar te speel en toe word dit waar. Dit was nog wonderliker as wat ek gedroom het!

Jy was ook vanjaar te sien in Trompoppie in ’n heel ander rol. Ontwerpersklere, hare en grimering perfek, iemand wat amper die hele tyd voorgee. Met ander woorde, die teenpool van Ans. Ook Taktiek wat pure komedie was. Het jy ’n voorkeur wanneer dit by rolle kom?

Vir my is dit juis die teenpole wat my opgewonde maak. Ek wil so graag nie dieselfde wees in elke rol nie; ek hoop van harte ek kry dit bietjie reg. Meg Ryan is wonderlik in elke film, ek geniet haar, maar sy speel net Meg Ryan. Sean Penn daarteenoor is twee verskillende mense in byvoorbeeld I am Sam en Milk. My droom is om eendag daarby uit te kom.

Jy doen steeds jou eenvrouvertonings by feeste en teaters en dit wys weer nog ’n kant van jou talent. Vertel ons meer van jou nuwe een, Marion Monroe, en wat jou grootste hoop daarmee is?

Ek doen my eenvrouvertonings regtig bloot om vir myself werk te skep. As ek moet wag vir die foon om te lui, gaan ek lank wag. Na my eerste rol in Dot & Kie. as Toetsie, het ek 28 jaar gewag vir Vlug na Egipte en Terug na Egipte as Dot en toe weer nege jaar voor Trompoppie as Jill.

Aanbiedinge vir verhoogwerk is nog minder. So ek móét my eie werk skep en ek gebruik bloot wat ek weet ek goed doen: stories vertel. Marion Monroe gaan basies oor die vraag: Wat maak jou jy? Natuurlik bekyk ek die vraagstuk deur komiese stories uit die alledaagse lewe. Dit was hoeka op NNK2 dat die een grip, Kaashief Tebus, my Marion Monroe genoem het en daar het ek toe die titel vir my volgende eenvrouvertoning.

Wat is jou planne vir die res van die jaar? En volgende jaar?

Mens kan planne maak, maar die lewe loop soos hy loop. So ek het my eenvrouvertoning en ek bespreek vertonings daar waar mense my vra om te kom speel. Vir die res wag ek – vir wat ookal my kant toe kom.

Wat was jou hoogtepunt(e) met die maak van Nêrens, Noord-Kaap?

Die toneel in die kombuis van Ans se huis saam met Nicole. Dit was magic vir my as aktrise om dit te beleef. Hoe dit uitgekom het, weet ek nie. Ek weet net wat ek ervaar het en dit was wonderlik.

Nêrens, Noord-Kaap Deel II wys Dinsdagaande om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144). Episodes is ook op Catch Up op DStv Stream beskikbaar.

Lees ook: Daneel van der Walt gesels oor vasbyt en ‘Nêrens, Noord-Kaap’ se sterk Suzette

Deel
Gepubliseer deur
Karlien Meiring

Onlangse plasings

MSI Vakansieverkope: Maak die Perfekte Geskenk Oop Hierdie Seisoen!

MSI is opgewonde om ons eksklusiewe vakansieverkope aan te kondig, wat van 10 Desember tot…

2 days Gelede

Maak vanjaar jou beste jaar

Die lewe is te kort om al jou eie foute te maak. Leer by ander…

3 days Gelede

Skoonheidsprodukte: foute wat almal maak

Los jy jou potjies se deksels oop of staan jou skoonheidsprodukte in die son? Dan…

3 days Gelede

Maklike gemmerbier – sonder gis

Maak hierdie maklike gemmerbier - dit bevat nie gis nie! Dis die heerlikste afkoel-drankie.

3 days Gelede

Ken jou vonkelwyn

Vonkelwyn is ryk aan geskiedenis Die tradisie om met vonkelwyn iets te vier word histories…

3 days Gelede

5 maniere om jou dag reg te begin

Met hierdie wenke sal jy soggens die spreekwoordelike gousblom eerder as die molshoop wees, al…

3 days Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.