Hy was nog ’n pikkie toe Arnold Swart die rol van klein Lourens in Nêrens, Noord-Kaap gekry het, maar as daar ’n jong akteur is wat homself in die harte van kykers gespeel het, is dit die talentvolle Arnold.
As jy terugdink aan die oomblik wat jy gehoor het jy het die rol van klein Lourens gekry, wat is die eerste ding waaraan jy dink?
Wel, ek was maar net 11 jaar oud, so my kop het dadelik gegaan na “ek gaan op TV wees!”
Klein Lourens gaan deur geweldig baie in die tweede reeks. Hoe het jy voorberei?
Ek het gehoor om die draaiboek ’n paar keer deur te lees nie ’n slegte idee is nie. So, dis presies wat ek gedoen het. Ek het seker gemaak ek weet waar Lourens sy highs en lows deur die 13 episodes tref. Ek was op daardie stadium besig met my laaste graad 8-eksamen – ek kry tuisonderrig – so om die draaiboek te lees was natuurlik baie beter as om vir wiskunde te leer. Haha!
Wat het jy die meeste uit die hele proses geleer?
Daar’s so baie goed wat ek geleer het! Ek het maar net weereens besef dat hierdie is wat ek vir ’n lewe wil doen; enige iets te doen met stories.
Wat was vir jou die hoogtepunte met die maak van Deel II?
Om almal van Deel I weer te kon sien en as een groot familie weer te kon saam wees. Dit was ook baie lekker om saam met die nuwe spelers in Deel II te kon speel.
Wat het jy by die ander akteurs geleer?
Ek het orals iets gesteel, maar ongelooflik baie by Albert Pretorius en Daneel van der Walt geleer. By Albert het ek geleer hoe belangrik dit is om jou karakter goed te ken. Hy is letterlik die koning van improvisasie en hou jou altyd op jou tone. By tannie Daneel het ek geleer hoe om te luister. Hoe om te jou mede-akteur in die oë te kyk en net in die oomblik te wees en te reageer op wat hulle sê en doen. Albei van hulle is amazing en ek’s baie dankbaar dat ek weer saam hulle kon speel.
Lees ook: Daneel van der Walt gesels oor vasbyt en ‘Nêrens, Noord-Kaap’ se sterk Suzette
Watter graad maak jy hierdie jaar klaar en wat is jou stokperdjies?
Ek maak nou klaar met Graad 9. Swem, branderplankry en skubaduik som my basies op. Ek is mal oor alles wat met die see te doen het. Ek speel ook klavier.
Droom jy daarvan om akteur te word?
Definitief! Die gogga het my gebyt. Ek wil ook graag eendag ’n skrywer word.
Wat is die belangrikste dinge wat jy by die skrywer en regisseur Nico Scheepers geleer het?
Hoe om die waarheid te praat. Ek het by hom geleer hoe om nie te act nie, maar om met eerlikheid en rou emosie Lourens se storie te vertel. Hoe om my karakter se situasie en gevoelens vir my werklik te maak en net ’n natuurlike reaksie daarop voor die kamera te gee. Ek kan nie beskryf hoe baie ek by Nico geleer het nie. Hy is nie net ’n ongelooflike skrywer en regisseur nie, maar ook ’n amazing mens na wie ek baie opkyk. Ek sal vir altyd dankbaar wees vir die geleentheid wat hy en Nagvlug Films my gegee het om Lourens te kon vertolk.
Herken mense jou? Wat is hulle reaksie?
Nogals! Dis altyd lekker om te hoor as iemand van die storie hou. Die meeste mense se reaksie is gewoonlik: “Kyk hoe groot het jy geword!”
Wat is jou planne vir Desember?
Swem, branderplankry en baie roomys eet!
Nêrens, Noord-Kaap Deel II wys Dinsdagaande om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144). Episodes is ook op Catch Up op DStv Stream beskikbaar.
Lees ook: Nege ‘Suidooster’-sterre praat oor nege jaar se drama