Hoe voel dit as ’n terroris jou reg in die oë kyk terwyl hy met ’n masjiengeweer op jou en ander mense losbrand wat saam met jou op ’n museumvloer lê? Hoe voel dit as jy ure lank op hulp moet wag en in ’n hospitaal in ’n vreemde land om jou lewe moet veg?
Toe Estelle en Johan du Preez van Centurion op 16 Maart 2015 in Rome aan boord van die MSC-passasierskip Splendida gaan, het hulle na ’n besonderse bootreis uitgesien.
“Daarna sou ons saam met ons seun Chris en skoondogter Carla wat in Londen woon deur Skotland toer. Dit was ons laaste vakansie voor ek in November (2016) ná 25 jaar as maatskaplike werker by die Weskoppies-psigiatriese hospitaal sou aftree. Johan, vroeër in die motorvervaardigingsbedryf, was reeds met pensioen.
“Die Splendida het die Middellandse See na Tunisië oorgesteek en ons was opgewonde oor die daguitstappie op 18 Maart 2016. Dit sou ’n besoek aan die Bardo Nasionale Museum in Tunis en die ruïnes van Kartage insluit.”
By die museum was daar tientalle toeristebusse. Binne het Estelle, Johan en ander MSC-passasiers hulle op die eerste verdieping aan die Romeinse mosaïekwerk verwonder.
“Ons het uit ’n groot saal in ’n syvertrek uitgestap,” vertel Estelle. “Skielik sê ’n Franse vrou: ‘He’s got a gun!’ Die museum is langs die parlementsgebou, en in die tuin aan daardie kant sien ons toe mans wat op mekaar skiet. Ek sê nog: ‘Hier is ’n jong oorloggie aan die gang,’ toe ons geweervuur in die gebou hoor. Die skote het by die trappe opgekom. Ons het almal teruggebondel in die saal en instinktief platgeval.
“’n Terroris met ’n AK-47 het ingestorm. Ek was reg voor hom. Hy het met swart, yskoue oë na ons gekyk en sy geweer heen en weer geswaai terwyl hy die magasyn leegskiet.”
“Die skote het oor my kop gegaan,” sê Johan. “Estelle het op haar maag voor my gelê. Ek het gesien hoe haar lyf met die geweld van die skote ruk en omkeer. Haar voet het eenkant toe geswaai en is deur nog ’n koeël getref. Die soldaat en sy maat het omgedraai en is vort. Op ons vloer het dit stil geraak. Die geweervuur is af ondertoe.
“Verskeie mense was dood. Ander het begin kreun of kerm van die pyn. Ek wou weet of Estelle kon opstaan. Sy kon nie. Ek het gevra: ‘Waar het jy seer?’ Sy het gesê: ‘Orals. Trek uit jou baadjie en druk dit op my wonde. Ek bloei uit.’
“Ek het my baadjie in haar jeans gedruk. Eensklaps was daar ’n vreeslike slag. Ons weet nou nog nie of dit ’n skokgranaat was nie. Ek het paniekbevange begin rondhardloop om hulp vir Estelle te kry. Niemand kon my verstaan nie. Hulle het óf Arabies óf Frans gepraat.”
Intussen het Estelle met haar kop teen dié van ’n Japanse vrou, ook van die skip, gelê. “Ons het ons koppe teen mekaar gedruk. Toe sy ophou druk, het ek besef sy is dood. Johan het teruggekom en ons het mekaar vasgehou en gebid. By tye het ek my bewussyn verloor.”
“In ’n stadium het Estelle gesê: ‘Sê vir die kinders ek is lief vir hulle, maar hiér gaan ek nie doodgaan nie,’” onthou Johan.
Intussen het ’n gyselaarsdrama hom buite op die parkeerterrein afgespeel. Sowat drie uur later het Johan gesien hoe mense met AK-47’s, gasmaskers en vuurvaste baadjies die saal binnekom.
“Ek was vol bloed en hulle wou my wegneem, maar ek het my teëgesit en geskree: ‘My wife! Doctor! Doctor!’ Drie mans het my na die hoofingang gesleep waar dit van die weermagsoldate en polisiemanne krioel het. Hulle wou weet: ‘Het die terroriste baarde gehad? Hoe het hulle klere gelyk?’
“Hulle wou almal wat kon beweeg van die perseel verwyder, maar ek het geweier. Daar binne was Estelle besig om dood te gaan. Sy was op die vyfde draagbaar wat by die trappe afgekom het en ek kon saam met haar in die ambulans ry. Die paramedikus wat haar ’n binneaarse drup moes gee, het so van die skok gebewe dat hy vier gate in haar arm gesteek het. Sy het ’n suurstofmasker gekry. Ek het by haar kop gesit en bly sê: ‘Haal asem!’
“Ons is na ’n staatshospitaal – die private hospitale was vol – en dit was weer ’n gesukkel met die Engels. Toe Estelle op ’n trollie verdwyn, het ek besef ek moes ons besittings op die skip gaan kry. Daar het ek gehoor dat 16 van die 24 mense wat dié dag omgekom het van die Splendida was. ISIS het skynbaar die parlementsgebou geteiken waar daar ’n bespreking oor terrorisme sou wees, en toe hulle nie toegang kon kry nie, het hulle die museum aangeval.
“Laataand was ek weer by die Habib Thameur-hospitaal. Ons selfoon het net SMS roaming gehad en ek het gesukkel om die kinders in die hande te kry. Toe ek Chris uiteindelik opspoor, het ek gesê: ‘Ek laat weet môre of Ma leef.’
“Estelle het drie skote dwarsdeur haar onderlyf gehad. Een wond was so groot dat ek my hand daarin kon steek. Daar was inwendige beserings aan haar dunderm, blaas en heup, en haar voet het ernstige ligamentskade gehad. Die chirurg wat die noodoperasie gedoen het, het genadiglik in die weermag ervaring van koeëlwonde opgedoen.”
“Estelle was aan lewensondersteunende masjiene gekoppel en voorlopig in ’n medies geïnduseerde koma geplaas sodat haar liggaam kon rus. Sy sou die volgende vyf weke in die waakeenheid bly en tien keer narkose kry. Sy sou komplikasies soos inflammasie, die opbou van vloeistof in haar buik en infeksie in die longe moes oorkom. Tydens ’n voetoperasie het sy ophou asemhaal, maar hulle kon haar na ons toe terugbring.”
Die dag ná die terreuraanval het Chris en Carla bleek van die skrik in Tunis geland. Johan het vir hulle verduidelik dat Estelle “logies gesproke dood moes gewees het. Dis ’n wonderwerk dat sy nie in die museum doodgebloei het nie.
“Dit was ons grootste frustrasie dat Estelle so seer daar lê terwyl ons niks kon doen nie. Normaalweg praat besoekers deur ’n venster met pasiënte in die waakeenheid, maar ons kon elke dag van agt tot agt by Estelle sit. Carla was bang sy word uit die koma wakker terwyl ons nie daar is nie. Ons het vergrotings van gesinsfoto’s op die muur langs haar bed geplak.”
“Die hospitaalpersoneel was ongelooflik,” vertel Carla. “Omtrent agt dokters en twee verpleegsters het deurentyd na Ma omgesien. Binne tien dae het sy ons herken en grootliks op haar eie begin asemhaal. Maar sy kon nie praat nie, en die pynmedikasie het haar soms deurmekaar gemaak.”
Estelle onthou die drogbeelde wat sy in die koma gesien het – “waarskynlik die gevolg van die trauma en sterk verdowing. Ek was doodbang vir ’n lig in die kamer. Ek het ervaar hoe ek geskiet word en ek wou hê Chris en Carla moes weggaan, want ek was bang hulle word ook geskiet.”
Estelle het weke lank ’n pyp in die keel gehad. “Toe ek bykom, kon ek nie woorde vorm nie. Ek het gevrees ek sou nooit weer kon praat nie. Carla het ’n alfabet gemaak, en ons het ook met die oë gekommunikeer tot alles eindelik weer normaal was.”
“Estelle se herstelproses het nie glad verloop nie,” sê Johan. “Sodra ons een struikelblok oorkom het, was daar ’n volgende. Ek het gesukkel om positief te bly wanneer ek gesien het hoe swak sy was.”
Estelle onthou Johan het op ’n dag gesê sy moenie oor hom bekommerd wees nie, hy sou oukei wees.
“Hy het gedink ek gaan sterf. Soms het ek gevoel as ek my oë toemaak, sou ek sommer net wegwaai. Maar dan het ek na Johan, Chris en Carla gekyk, en ek kón nie. Ek was dit aan hulle en myself verskuldig om te herstel.”
Lees ook: Estelle du Preez se herstelwenke ná ISIS-aanval
Soveel liefde
Die Tunisiërs en MSC het uit hul pad gegaan om die slagoffers van die aanval te help.
“MSC het hotelverblyf verskaf en topbestuurslede gestuur om verskillende taakgroepe te koördineer,” sê Johan. “Estelle het ’n skaars bloedgroep en toe daar nie bloed beskikbaar was nie, het ons bestuurslid dit gereël. Hulle het my van ’n selfoon voorsien en ook ’n sielkundige uit Rome gestuur.
“Die minister van toerisme het almal by die hotel kom ontmoet, en ’n bestuurder verskaf om ons elke dag hospitaal toe te neem. Die hotel het vir ons middagete gestuur én kos vir Estelle – hospitaalkos bly maar hospitaalkos! Estelle het maklik 15 kg verloor.”
Toe Estelle beter was, sê Carla op ’n dag haar skoonma haat vuil hare. “Vyf dokters, almal vroue, het hul werk net so gelos en my in die motor geboender om droë sjampoe te gaan koop.”
“Ek is dikwels gevra of ek my aanvaller haat,” sê Estelle. “Hy is later doodgeskiet, en kon nie meer skade aanrig nie. Dit is so dat radikale Moslems die aanval uitgevoer het, maar dit was ook Moslems wat ons met die onbeskryflikste liefde omring het. Ons moet ontslae raak van die boksies waarin ons mense plaas.
“Die sekuriteitswag by die hospitaal het gehuil toe hy hoor wat met ons gebeur het. Die skoonmaker het soms haar kop op my bors kom sit en gesê: ‘We pray.’ Onbekende Tunisiërs het blomme gebring. ’n Ou vrou in swart klere het deur ’n tolk kom sê sy vra om verskoning dat dit in hulle land gebeur het.
“Ek het een keer genoem ek het ’n ‘ding met engeltjies’, en die volgende dag het die fisioterapeut ’n ring met engelvlerkies aan my vinger kom sit. ’n Dokter het vir my ’n Hamsa aan ’n kettinkie gegee – ’n amulet om my te beskerm. ’n Ander het weer van haar ma se tradisionele kos gebring.”
“Die personeel het gesê hulle kon sien ons is baie lief vir mekaar,” vertel Carla. “Hulle het gevra tot wie ons bid. Ons het gesê ons is Christene, en interessante gesprekke oor geloof gehad.”
Huis toe
Op 23 April 2016 was Estelle en Johan terug in Pretoria. “Estelle is per kommersiële vlug op ’n draagbaar vervoer, ’n uitmergelende tog wat altesaam 23 uur geduur het,” vertel Johan. “Sy is in Unitas-hospitaal opgeneem en weens infeksie dieselfde nag teater toe. Haar wonde is nog twee keer onder narkose skoongemaak en twee verdere operasies het gevolg.”
Estelle praat met lof van die spesialiste en die verpleegpersoneel. “Ek was maar broos. Een dag was daar ’n voorval in die hospitaalgebou; ’n afkondiging het gelui dat almal vir instruksies moes wag. Ek was angstig omdat ek heeltemal te swak was om op te staan. Gelukkig was alles in orde.”
Op 10 Junie 2016, presies 100 dae ná die Bardo Museum-voorval, is Estelle huis toe. Ironies genoeg was daar dieselfde dag ’n tweede terreuraanval in Tunis.
Estelle kon nie teruggaan werk toe nie, en vandag lê een of meer operasies steeds voor. Maar sy voel sy het “die uitdaging emosioneel oorkom en oorwin. Ek kyk met ’n ander bril na die lewe. Ek waardeer élke nuwe dag!
“Ek weet nou dat nie net die beseerde persoon nie, maar ook dié wat vir hulle lief is deur die trauma gaan. Ek het dikwels gedink Johan, Chris en Carla kry swaarder as ek wanneer hulle so magteloos langs my bed staan.
“Twee aspekte het my deur alles gedra: eerstens, my geloof in God. Die feit dat jy gelowig is, keer nie dat slegte goed met jou gebeur nie. Ek het immers gebid dat ons vakansie geseënd moes wees. Maar wanneer slegte goed gebeur, is Hy daar. Jy kry elke dag letterlik die regte hoeveelheid krag om die uitdagings te hanteer. Hy stuur sy engele op die mees onverwagse maniere om jou te ondersteun. So het ’n vriend van my seun, ’n mediese dokter, my een aand laat onverwags besoek en my help begryp hoe noodsaaklik ’n operasie was waaroor ek bang en onseker gevoel het.
“Tweedens verwonder ek my aan die mense in my lewe. My man het my soos ’n baba versorg. My kinders, familie, vriende, kollegas, versorgers en die gebedsgroepe was eenvoudig daar. Ek het gewéét ek is nooit alleen nie. Die band tussen my en my mense is mateloos versterk. Bowenal het ek nou die seker wete dat ons in die moeilikste uur die meeste genade ontvang.”
’n Viering!
“Sedert die terreuraanval was ons weer oorsee,” sê Estelle. “Ek is nie bang om te reis nie, hoewel ek lande met hoë veiligheidsrisiko’s sal vermy. Voor die terreuraanval was ons in ’n hotel in Rome langs die Basilica Santa Maria Maggiore. Daar was nie tyd om dié kerk te besoek nie, maar ek het my voorgeneem om later daar ’n kers te gaan aansteek. Terwyl ek baie siek was, het ek geweet ek moes gesond word om my voorneme uit te voer.
“Op 18 Maart, presies ’n jaar ná die aanval, het ek ’n kers gaan aansteek om dankie te sê dat ons lewe. Ons en die kinders het ook ons eie klein ‘Camino’ gestap tussen die klein dorpies Corniglia en Vernazza in die Cinquaterre-streek in Italië. Dit was nie ’n maklike stappie nie, maar Chris het my gehelp. Dit was ekstra spesiaal omdat ons besef het ons kon dood gewees het. Dis so belangrik om voluit te lewe en te doen wat jy werklik wil!”