Soveel boeke, soveel flieks. Die afgelope paar jaar is ons oorval deur boek-na-silwerdoek-aanbiedings. Wat ’n mens soms laat wonder of draaiboekskrywers nog oorspronklike stories kan uitdink? Leun hulle dalk alte gemaklik op die res van die skrywerskorps om hul verhaallyne vir hulle te skep?
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }’n Verontwaardigde snork sou nou van pas wees …
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }Daar was, om sommer vinnig ’n paar te noem, onlangs verskeie geliefde boeke wat na flieks en deesdae ook TV-reekse omgewerk is, met wisselende sukses: The Life of Pi van Yann Martel, The Hunger Games-trilogie deur Suzanne Collins, F. Scott Fitzgerald se The Great Gatsby, Lord of the Rings en The Hobbit van J.R.R. Tolkien, Les Misérables deur Victor Hugo, The Lorax (Dr. Seuss), We can Remember it for You Wholesale, as Total Recall deur Philip K. Dick. Daar was ook die hartverskeurende Extremely Loud and Incredibly Close oor die nawerking van 9/11 deur Jonathan Safran Foer, en dan seker een van die koelste antiheldflieks die afgelope dekade: Lawless (vanaf The Wettest County in the World) deur Matt Bondurant. So ’n lekker mengseldrama wat hom in die jare dertig afspeel met die Mafia, die drankverbod, Western-aksie en korrupte polisiemanne. Die nuwe Mad Max-held, Tom Hardy, en ’n briljante Guy Pearce speel in die fliek.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }Onder die gewilde boek-tot-TV-reekse staan die über-gewilde Game of Thrones (nie gelees nie), Orange is the New Black en The Slap. Fluisteringe van mense wat drie dae siekteverlof neem en binge op ’n volle seisoen van één so ’n reeks is niks nuuts nie …
Trouens, dis asof televisiereekse die rolprentbedryf verbygesteek het in die verwerking van goeie boeke na uitstekende skermverhale (dalk vanweë die genade van meer tyd en karakterontwikkeling wat vervaardigers gegun word).
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }Onvermydelik dan, volg die ewige gestryery: Wat is beter, die boek of die fliek/reeks?
Vir gewoontelesers wen die boek, meestal. Want in jou kop lyk Rhett / Mr Darcy / Edward / Heathcliff só, en praat hy só. En dit is eenvoudig en beslis nié soos Clark Gable, Colin Firth, Robert Pattinson of Laurence Olivier nié.
Maar ons moet tog bely, Lord of the Rings, met al sy aanpassings, was darem goeie diens van die boeke. En dan ook: Viggo Mortensen as Aragorn was eenvoudig vol.in.die.kol. Selfs nie eens jou eie verbeelding sou dié beeld kon optower nie. Tolkien sou waarskynlik in sy stoutste drome nie die Strider so kon verbeeld nie.
En só raak ons visueel verlief op die hoofkarakters in die boek – te meer nog as hulle perfek of gepas gestalte op die silwerdoek kry. Maar, belangrik, dit is beslis nie slegs die rolverdeling of SFX wat die fliek vanaf die boek ’n goeie een maak nie.
Dit is meestal, of veral, die wyse waarop die draaiboek vanaf die oorspronklike storie gelig is. Anthony Minghella het dit so ontroerend reggekry met Michael Ondaatje se The English Patient. Hy het ’n hoofelement gekies, een tema in die verhaal, en daarop gefokus: Die liefdesverloop tussen graaf László Almásy en Katharine Clifton, die vrou van sy kollega, Geoffrey. Die verhaal ontvou hom wanneer hy jare later as verbrande oorloggevangene deur die verpleegster Hana versorg word, en hy sy storie vir haar vertel. Wie sal ooit die gesig van die wroegende, gefolterde Almásy vergeet wat vir sy goeie vriend Peter Maddox vra wat ’n mens die kuiltjie in ’n vrou se nek noem? Net om maande later, toe alles reeds te allerlaat is, die leë antwoord te kry: “The suprasternal notch” – daardie kuiltjie van Katharine waarteen hy nooit weer sy lippe, of sy duime, lig sal kan druk nie.
Die boek fokus sterk op die rol van die Indiese bomopruimers, maar dit speel ’n sekondêre rol in die fliek (wat nege Oscars gewen het, terloops). Die fliek en boek is twee verskillende entiteite, maar saam maak dit steeds die aanvanklike geheel.
The English Patient is maar net een van die vele boek-tot-silwerdoek-suksesse.
Meer onlangs was daar The King’s Speech deur David Seidler, 2002. (Dis aanvanklik teruggehou tot die koninginmoeder se dood. The stuttering king was haar man). Maar in 2010 is die ongelooflike stuk werk deur Colin Firth en Geoffrey Rush verhef tot een van die gewildstes van die jaar. Ook by die Baftas, Golden Globes en die Oscars …
Maar daar is ook net soveel grillers daarbuite.
Is daar ’n towerformule?
Ons het vir Leon van Nierop, resensent en ook ’n boek- en draaiboekskrywer (Ballade vir ’n Enkeling het onlangs die land se skerms suksesvol getref), gevra wat hy as “die towerformule” beskou om ’n goeie boek na ’n goeie fliek te ontplooi.
Hy het nie getwyfel nie, was skoon onversetlik: “Maak die boek tóé nadat jy dit minstens vyf keer gelees het. Skryf dan die filmiese weergawe in préntjies. Moenie paragrawe of dialoog net so uit die boek neem nie, selfs al skryf die romanskrywer goeie dialoog. Dra daardie boodskap in visuele formaat oor en bly getrou aan die skrywer se bedoeling. Wees altyd bewus van die kamera as verteller en nie die woord nie.”
Sallas de Jager, vervaardiger van onder meer Roepman van skrywer Jan van Tonder, Verraaiers en Musiek vir die Agtergrond, is ’n kranige draaiboekskrywer (én regisseur én akteur), en hy stem heelhartig saam met Leon. Hy voeg ’n element of twee by:
“Hou by die werklike aksie en moenie verstrengel raak in die karakters se eie denke nie. Dwing jou om te fokus op die kousale verband tussen die karakter se werklike aksies (nie wat hy/sy dink nie, maar hy/sy dóén) en die gevolglike reaksie of interpretasie van die ander karakters in die wêreld van die storie.”
Leon, Sallas en Anel Alexander, laasgenoemde ’n akteur en draaiboekskrywer van onder meer Semi-Soet, wys die slaggate uit in die omskakeling van boek na fliek.
Leon: “Mense is te bang om tonele te verander om visueel aan te pas en hulle skryf dialoog net so uit die boek, wat dan styf en onnatuurlik klink. Skryf dieselfde storie in nuwe formaat oor. Stroop dialoog en maak dit minder, want ons kan mos nou sién wat gebeur. Baie tonele speel hulle in karakters se koppe af, in hul interne landskap. Daardie tonele moet filmies oorgedra word.”
Sallas: “’n Mens is ook soms geneig om jou gunstelingkarakters se swak punte te verskans en dit is juis ’n karakter se swak punte wat hom/haar mens maak.”
Anel: “Dit is onmoontlik om ’n boek van vierhonderd bladsye in ’n rolprentteks van negentig bladsye te probeer inprop. Jy moet keuses maak en sekere karakters kies en sekere punte identifiseer wat jy in jou fliek gaan ondersoek en die res laat gaan.”
Anel het pas klaar verfilm aan haar derde rolprent waarvan sy die vervaardiger ook is, Sink.
“Dis gebaseer op die roman Rachel Weeping deur Brett Michael Innes wat ook die regisseur en draaiboekskrywer was. Dit was ’n baie interessante, unieke proses. Brett het ’n eerste draft van die boek en die draaiboek gehad en toe het ek en Corine du Toit aan boord gekom as script editors. Soos ek en Corine die draaiboek herskryf het, het Brett die roman aangepas en andersom.
“Met my eerste twee films, Discreet en Semi-Soet, het ons die tekste heeltemal nuut geskryf, so Sink was die eerste keer wat ek met ’n teks wat gebaseer is op ’n boek, gewerk het. Uit die aard van die saak kan mens baie meer detail in ’n boek vasvang, en dit het gehelp om meer subteks en agtergrond aan die situasies/tonele in die filmteks te gee, asook meer vleis aan die karakters.
“As aktrise was dit ook vir my interessant om die boek as ’n bron te hê om te help met die voorbereiding.” (Sy vertolk een van die hoofrolle in Sink.)
Ons wou by Sallas weet hoe hy met Roepman se verhaal omgegaan het. Wat moes hy opgee of sny, en wat was essensieel om te behou?
“Die belangrikste was om te besluit wat die tema van die draaiboek sou wees. Ons was bevoorreg om saam met skrywer Jan van Tonder te kon werk. Ons het besluit dat Timus se verlies aan onskuld die tema sou wees. Met daardie bril het ons na elke gebeurtenis in die boek gekyk en besluit of dit die tema dien.”
Ek het dié drie kenners ook gepols oor watter boek-na-silwerdoek hulle as suksesse beskou en watter misluk het.
Leon se eerste antwoord is Gone Girl:
“… (die boek) het uitmuntend gewerk van boek na draaiboek, maar die skryfster Gilian Flynn het dit self geskryf. Sy het daarin geslaag om die innerlike wêrelde van haar karakters visueel oor te dra.”
Anel is entoesiasties oor veral twee redelik onlangse flieks, Lord of the Rings en The Hunger Games:
“Gollum (LotR) het vir my presies gelyk soos ek hom in my verbeelding gesien het en die wêreld en mense van The Hunger Games is soos ek dit ge-picture het – en beter! Wat natuurlik bydra tot die feit dat hierdie films werk, is dat die vervaardigers gekies het om ’n trilogie of vier films uit die boeke te maak, want die storie is eenvoudig net te groot om in een film vas te vang.
“Groot teleurstellings waaraan ek nou kan dink, was The Lovely Bones en Ender’s Game.”
Sallas sê dis ’n moeilike vraag, want die mediums verskil so. “Forrest Gump (Winston Groom) was ’n beter fliek as die boek waarop dit gegrond was. Tom Hanks se interpretasie van die karakter was beter as die karakter wat ek in die boek gelees het. Ek dink The Notebook (Nicholas Sparks) is ook ’n goeie voorbeeld van ’n suksesvolle draaiboek wat op ’n roman gegrond is.”
Sallas raak ’n interessante punt aan: Daar ís flieks wat beter as die boek is. Die onlangse Divergent: Allegiant met die stralende Shailene Woodley en hartebreker Theo James is ’n uitstekende voorbeeld. Soos The Washington Post dit verwoord: “Die fliekweergawe van Veronica Roth se distopiese romans is gewaagder, vinniger en baie suksesvoller as die boek … ”
Eina.
Dit wil wel soms voorkom of kortverhale beter in draaiboeke omgeskakel kan word as epiese romans. Dink maar aan Philip K. Dick se Do Androids Dream of Electric Sheep? wat verwerk is na die kultus-sci-fi-fliek, Blade Runner. Of Annie Proulx se onthutsende Brokeback Mountain. En The Living Daylights en Octopussy – ja, dié twee 007-flieks was eers kortverhale wat James Bond se penpa, Ian Fleming, geskryf het.
Nog grotes sluit in: Total Recall (vanaf We can remember it for You Wholesale, ook Philip K. Dick); die stylvolle Audrey Hepburn se klassieke Breakfast at Tiffany’s (Truman Capote); en die vader van alle oorlogdramas, Apocalypse Now, wat aangepas is vanaf Joseph Conrad se ontsetelende (sic) novelle, The Heart of Darkness.
Leon dink ’n goeie draaiboekskrywer sal albei gemaklik kan doen. “Die draaiboekskrywer moet sorg dat daar genoeg storie is om die rolprent te dra, soos met Brokeback Mountain. Sekere temas moet uitgebou word, of as daar temas / gebeure bykom, moet dit verrykend wees, karakteriserend met subteks eerder net as gebeure wat uitgerek of herhaal word.”
Anel is dit met hom eens: “In die rolprentwêreld praat ons van ’n ‘log line’, daardie een reëltjie wat jou hele fliek aan ’n vreemdeling kan verduidelik. Nie drie nie, nie sewe nie, net één. Draaiboekskrywers wat nie ’n boek se essensie in daardie reëltjie kan vasvang nie, moet oorweeg om eerder ’n mini- of dramareeks uit die boek te maak.”
Sallas: “Ek verkies vir seker ’n kortverhaal, want dit gee jou die struktuur en tema van die storie en daar is nog ’n bietjie artistieke vryheid om die karakters te ontgin. Shawshank Redemption (Stephen King) is ’n goeie voorbeeld van ’n sterk kortverhaal wat in ’n fantastiese rolprent omskep is.”
Hoe ook al, die kenners stem saam: Om ’n boek, hetsy ’n reeks, roman of kortverhaal, in ’n goeie fliek of reeks te ontwikkel, benodig jy ’n sentrale tema, kennis van die oorsprongstuk, eie strukture, inkleding en konteks wat deur die kamera geskiet word, harde sny- of byvoegwerk en dan daardie een enkele loksin wat die hele konsep kan saamvat.
En voilà!
Geen leser-kyker gaan ná die tyd vir jou kwaad wees nie.
Wenners
Daar is eenstemmigheid: Goeie omskakelings sluit in: The Unbearable Lightness of Being van Milan Kundera, Fiela se Kind deur Dalene Matthee, Girl with the Dragon Tattoo, die Sweedse én Amerikaanse weergawes van Stieg Larsson, en Boris Pasternak se Dr. Zhivago.
Rampe
Maar rampe is meer algemeen. Die eerste – en enigste – keer wat ek Love in the Time of Cholera van Gabriel García Márquez gesien het, wou ek letterlik huil. Ek het. Een van my heel gunstelingboeke was visueel vermink. Ditto Life of Pi (Yann Martel) – my opinie, Silk van Alessandro Baricco, Triomf deur Marlene van Niekerk, Die Twilight-reeks deur Stephenie Meyer, Captain Corelli’s Mandolin van Louis de Bernières en die Johnny Depp-Alice in Wonderland deur Lewis Carroll.
As Karlien van Jaarsveld die horlosie kon terugdraai, sou sy dieselfde keuses gemaak het, want…
Resep: 'Dairy Gives You Go' Bestanddele 2 koppies koekmeel ¾ koppie Amasi ¼…
28-dag oefenprogram vir beginner-fietsryers deur Salomé Delport. Hooffoto: zozzzzo/istock images As jy na veertig begin…
Ek het my verhouding met kos verander en jy sal nie glo wat volgende gebeur…
Hy is in 1989 op Springbok gebore en hierdie uitsonderlike deel van ons land was…
Dit help as jy weet watter detail van ’n swembroek jou op jou beste kan…
Hierdie webwerf gebruik koekies.