Die 5 inentings wat jy as volwassene moet kry deur Salomé Delport. Foto: Davizro/istock images
Net soos vaksiene kinders teen masels en polio beskerm (en hierdie siektes so te sê uitgeroei het!) is daar vaksiene wat sekere volwasse siektes ook kan uitskakel.
Watter vaksien vir jou?
Vanselfsprekend het nie almal van ons elke vaksien op die mark nodig nie. Kies uit hierdie lys wat jy dink relevant is vir jou. Bespreek dit met jou dokter, en volg sy/haar aanbevelings.
1. Vaksien teen gordelroos (shingles)
Noudat ons minder kleinkinders het dus en minder blootgestel word, is ons meer geneig tot hierdie pynlike vorm van waterpokkies. As jy vatbaar is duur ’n aanval van een tot drie weke en dit kan herhaaldelik gebeur.
Vir wie? Vroue en mans bo sestig.
Hoe gereeld? Net een keer.
Lees ook: Alles wat jy van die gordelroosvaksien moet weet
2. Vaksien teen pneumonie en bronchitis
Party van ons is baie vatbaar vir longinfeksies en bronchitis na ’n verkoue. In plaas daarvan dat die verkoue binne ’n week oorgaan, raak jy ernstiger siek. Dit is regtig nie nodig om elke winter twee, drie keer met bronchitis en soortgelyke longkwale te sukkel nie. Boonop beskadig sulke herhaaldelike longinfeksies jou longe op die lang duur.
Vir wie? As jou verkoue byna altyd oorslaan na ’n longinfeksie of ernstige bronchitis kan jy gerus hierdie vaksien probeer. Dit beskerm jou teen die twaalf organismes wat gereeld voorkom wat tipies slegte longinfeksies veroorsaak.
Hoe gereeld? Die vaksien beskerm jou rondom vyf jaar lank.
3. Vaksien teen HPV (Human Papilloma Virus)
HPV word verbind aan servikale kanker en aan pynlike genitale vratte. Gelukkig kan jy jou kanse op altwee met 70-100% sny – as jy betyds vaksineer.
Vir wie? Vir almal wat seksueel aktief is. En al is jy nie, is dit eintlik die beste om voordat jy seksueel aktief raak die vaksien te kry.
As jy onder 26 is – meisies én mans – en vaksinering nie vir jou op skool aangebied is nie, oorweeg dit beslis.
Wat van vroue oor 26? Die vaksien word steeds aanbeveel, tot jy 45 is.
Mense wat opnuut enkellopend is, is in ’n spesiale situasie. Die kanse is goed dat jy vorentoe weer iemand spesiaal gaan raakloop – en dat iets soos HPV en ander seksueel-oordraagbare siektes werklikhede is wat aan jou deur kan kom klop. ’n Mens mag die lewe geniet maar dit bring ook ’n oopkop benadering en verantwoordelikhede mee. Vaksineer en wees liewer veilig as spyt.
Hoe gereeld? Eenmalig, vir alle ouderdomme. Maar hoe jonger jy is, hoe beter. As jy eers die virus opgedoen het gaan ’n vaksien agterna niks help nie.
4. Vaksien teen hepatitis A en B
Al die vorms van hepatitis tas jou lewer aan en kan permanente skade doen. Hepatitis B word deur bloedkontak oorgedra, terwyl hepatitis A van kontak met uriene en speeksel opgedoen kan word. Hepatitis A is gelukkig skaars maar dit is uiters aansteeklik. Jy kan dit opdoen deur te eet met eetgerei wat gehanteer is deur iemand met hepatitis A; jy kan dit selfs key deur ’n toilet te deel met ’n draer van hepatitis A. Jy kan ’n afsonderlike vaksien vir elkeen kry maar daar is ook ’n kombinasievaksien beskikbaar. Hierdie vaksiene is met tye uit voorraad. As jou apteek dit nie beskikbaar het nie, probeer ’n reiskliniek.
Vir wie? Dit is belangrik as jy graag reis.
Hoe gereeld? Eenmalig.
5. Vaksien teen tetanus (klem-in-die-kaak)
Jy kan kies tussen ’n gewone enkelvaksien wat jou net teen tetanus beskerm, of jy kan ’n kombinasievaksien kies wat jou ook teen witseerkeel en kinkhoes beskerm – twee siektes wat nogal nie so skaars onder volwassenes is nie. Vir ’n klein bietjie meer geld kry jy dus meer voordeel.
Vir wie? As jy ’n diep wond opgedoen het wat met grond of dieremis besmet kon raak, of deur iets soos ’n ou spyker of draad veroorsaak is móét jy binne 24 uur is ’n tetanusinspuiting kry.
Hoe gereeld? Die vaksien beskerm jou tien jaar lank. Dit is onnodig om elke tien jaar outomaties te laat vaksineer. Die aanbeveling is dat jy vir ’n vaksinering gaan “as daar ’n insident was” – met ander woorde na jy ’n diep wond opgedoen het met ’n risiko op tetanus.
PReP – nie ’n vaksien nie maar ook voorkomend
Vir wie? Vir mense wat seksueel aktief is en die kans op MIV/vigs loop.
Hoe gereeld? Jy moet PrEP net soos die Pil gebruik – daagliks, min of meer op dieselfde tyd. Jy is eers beskerm teen vigs nadat jy dit ’n maand lank gebruik het. Onthou ook jou beskerming verswak as jy ’n pil oorslaan. As jy vergeet het, drink dadelik jou pilletjie en wag met onbeskermde seks vir ’n maand.
Lees hier alles oor PrEP vir vigsvoorkoming
Maak só om jou vaksien te kry
Dit is nogals ’n beslommernis om gevaksineer te word. Eerstens is vaksiene net op voorskrif te kry. Daarby is hulle taamlik duur, en daarom hou min dokters en apteke dit outomaties in voorraad. Ek vind dit prakties om só te maak:
- Kry ’n voorskrif vir die vaksiene wat jy nodig het by jou dokter. Om koste te bespaar, vra daarvoor wanneer jy in elk geval jou dokter om ’n ander rede spreek. (As dit egter ’n noodgeval is, soos met tetanus, moenie wag nie.)
- Gaan met jou voorskrif na ’n apteek met ’n kliniek, soos Clicks en Dis-Chem, dat hulle dit vir jou kan bestel.
- Hulle bel jou sodra dit beskikbaar is en maak ’n afspraak vir jou by die klinieksuster, vir die toedien van die vaksien. Die fooi is rondom R60.
- Kies jou tyd goed – ’n rustige, stil tyd wanneer jou werksdruk minder is. Die ideaal is dat jy optimaal gesond is wanneer jy vaksiene kry, sodat jou liggaam die ekstra lading kan hanteer, want sommige mense ontwikkel ligte verkoue-tipe simptome of ’n klein swelsel op die toedienplek. Moenie gaan as jy verkoue het nie.
- Hou liewer by een vaksien op ’n slag. Daar is nou wel nie formele aanbevelings daaroor nie maar dit maak sin om nie jou immuunstelsel te oorlaai nie.
- As jy gaan reis begin vroeg genoeg met jou vaksinerings sodat jy hulle een-een kan neem, met tussenposes van twee of drie weke tussen elkeen.