Inglipskoene
Mansskoene is meer bonkig as ooit en daar word op detail soos tossels, gespes en stikwerk gefokus. Inglipskoene sal jy nog baie dra, al is jy eerder ’n veterskoen- of tekkieman. Dit kan saam met amper alles in jou klerekas gedra word – saam met jeans vir naweke of chino-broeke vir netjiese geleenthede.
Die nuttige hemp
’n Gemaklike en klassieke hemp, gekenmerk aan sy knopiesflapsakke op die bors. Mosgroen is veral een van die kleure wat jy hierdie seisoen nog baie gaan sien.
Rolnektruie
Die rolnektrui het die afgelope paar jaar weer sy opwagting gemaak en kan as stylvol bestempel word. Dra dit onder ’n baadjie en saam met ’n denim of waag ’n bietjie en dra dit saam met ’n netjiese pak.
Kameelkleur
Kameelkleur is voorheen meestal beperk tot jasse en baadjies. Hierdie winter kan jy dit egter van kop tot tone dra in verskillende skakerings en patrone. As die effekleur vir jou te eentonig is, kan jy dit met vlootblou of roomkleure afwissel.
Geruite patrone
Geruite patrone werk goed in tradisionele kleure soos rooi, groen en blou om ’n klassieke gevoel te behou. Eksperimenteer met ’n dikker en meer helder weergawe van die patroon vir ’n lewendiger gevoel. Mosterdskakerings en heldergroen is voorbeelde van meer gewaagde kleurkeuses wat ’n indruk sal maak.
Die nie-so-smal das
Hoewel die dun das steeds hoogmode is, is die dikker ontwerp die beste keuse vir ’n gesofistikeerde gevoel. Pas jou das by die seisoen aan, byvoorbeeld tweed– en woldasse werk goed vir die winter. Indien jy nie seker is nie, is ’n soliede kleur altyd ’n wenner, omdat dit net so goed saam met ’n patroonhemp werk as saam met ’n eenvoudige wit hemp. Let ook op die lengte van die das: Maak nie saak hoe lank jy is nie, maak seker jou das se punt raak altyd op jou gordellyn.
Badsakkie met pa se voorletters
Verpersoonlik die geskenk met die toevoeging van sy voorletters op die badsakkie. Wys vir Pa hy is spesiaal met hierdie bietjie ekstra moeite. Die voorletters word op ‘’ tradisionele hand-deboss-tegniek geskep waar die letters verhit en diep in die leeroppervlak gestempel word vir ’n duursame gehalte. Dit is ’n meer tydrowende proses, maar lei tot ’n veel duideliker monogram as ander metodes.
Klassieke horlosie
Hierdie horlosie bemeester die balans van vintage-inspirasie en moderne ontwerp. Dit vertoon die minimalistiese estetika van sy skoon gesig tot sy afgeronde raamwerk wat gemaklik om die pols sit.
Kleurvolle sokkies
Sokkies hoef nie saai te wees nie en het die vermoë om ’n voorkoms op ’n eenvoudige manier indrukwekkend te maak. Falke se herfs/winter 2017-reeks word herken aan sy topkwaliteit sokkies wat deur alombekende modegiere met ’n unieke Suid-Afrikaanse interpretasie beïnvloed word. Die nuutste tegnologie word tydens hierdie reeks se produksieproses gebruik en sorg vir ’n nommerpassnit. Die Quantum-reeks word gebrei met ingevoerde Italiaanse gemerseriseerde katoen en is beskikbaar in moderne kleure om ’n tikkie kleur aan jou pa se klerekas te gee. Die verskeie ontwerpe is deur geologie, botaniese invloede en astrologie geïnspireer, wat ’n aardse gevoel met ’n kinkel skep.