Tydmors is ’n salige gedagte – mits jy jou eie tyd mors. Ander moet liewer nie aan jou tyd raak nie.
So kom hierdie punt met mening onder my aandag terwyl ek laas week oudergewoonte deel word van die Johannesburgse verkeer. En sommer ook, voor ek my kom kry, voorsing in die “daai dekselse taxi’s”-koor.
Ek weet nie wat ís dit met Jan Smutslaan nie. Dis of alles op wiele en almal agter stuurwiele in hierdie straat ’n merkbare adrenalieninspuiting kry. Dit geld veral die bussies vol passassiers. Geen draai is te skerp, geen gaping te klein om te vat nie. En vir elkeen wat ’n voorsprong kry, moet ’n ander noodwendig die aftog blaas. Soos die week vorder, voel ek al meer na ’n aftogblaser.
Ek raas en blaas oor (ander) mense se gebrek aan respek vir hul medebestuurders. Ek kóók oor die algehele afwesigheid van bedagsaamheid. Op ’n kol onthou ek dat hoë bloeddruk ’n prominente posisie in ons familiegeskiedenis beklee. Ek trap daar en dan my emosionele rem, luister na kalmerende klanke, doen ’n diepasemhalingsoefening en tel my seëninge.
Met my ekwilibrium min of meer herstel, cruise ek rustig deur Jan Smuts. Tot ek ’n slag hoor soos wat iets my tref. ’n Taxi! Sterretjie kolletjie strepie uitroepteken. Voor my geestesoog sien ek hoe ek ure op die telefoon met my versekeringsmaatskappy deurbring en weke lank sonder ’n kar klaarkom.
Die taxibestuurder stop sowaar, klim uit en kom takseer die skade. Hy het net my spieëtjie skrams getref. Hy lyk allermins na ’n wildewragtig of ’n boef.
’n Wyse man met wie ek later hieroor gesels, gooi ’n paar klippe in die bos. Taxibestuurders leef op die broodlyn en meer spoed = meer passassiers + meer geld, sê hy. Hulle benader die verkeer soos ’n tiener sy rekenaarspeletjie – met die klem op fyner navigasievaardighede en in ’n speelse kompetisiegees. “Hoekom kan jy hulle nie maar laat wen nie?”
Hy was so oortuigend dat ek nou nuut besluit het oor tydmors. Voortaan sal ek vrygewig minute aan taxibestuurders afstaan. Maar ek dink nog na oor die telefoonoperateurs by sekere instansies wat ewe vriendelik antwoord, my vra om te wag terwyl ek na strelende musiek luister, en dan van die aardbol af verdwyn …