Hulle het die blommemeisierokke met die valle wat sy met soveel geesdrif vir hulle gemaak het, verpes. En daardie lappoppe wat sy kleintyd vir hulle gekoop het, was loshande die goorste geskenke wat hulle nog gekry het. Elma* ma van vier dogters waarvan twee gay is, glimlag nou oor hierdie yslike faux pas wat sy onwetend gemaak het toe haar twee jongste oogappels nog skaars ’n baksteen hoog was.
Maar hoe, vra sy, moes sy geweet het haar dogters is gay? Sy het nie in haar stoutste drome gedink dat haar twee mooie meisiekinders soos sy dit noem “aan die anderkant van die rivier swem nie”.
Oor potte tee gesels ons in haar ruim, moderne huis in Hartbeespoort oor hoe haar dogters se homoseksualiteit haar aanvanklik geskok het; oor die onvermydelike selfondersoek en selfverwyt waardeur sy gewroeg het; oor hoe sy nagte om gehuil het en gewonder het hoe sy dan as ma misluk het. En haar uiteindelike besluit om die pad van liefde te kies.
Elma, wat uit ’n “stoere Afrikanergesin” kom, voldoen op die oog af aan al die vereistes van ’n konserwatiewe vrou. Sy is ’n suksesvolle sakevrou, ’n bedrywige VLU-“tannie”, staatmaker in die kerk en ’n voorslag in die kombuis. Maar bowenal is sy ’n toegewyde ma.
Sy vertel: “Ek het niks van gay mense geweet toe ek grootgeword het nie. In my ouerhuis is ons nie eens oor die ‘feite van die lewe’ touwys gemaak nie. Ek was geskok toe ek hoor daar is iets soos homoseksuele mense.”
Tog maak alles nou vir haar sin, en besef sy daar is talle gays in haar familie. Sy is seker dit kan aan genetiese faktore toegeskryf word.
“My jonger broer wat nooit getrou het nie, is aan my voorgehou as ’n man met ’n gebroke hart wat die vrouegeslag weens ’n liefdesteleurstelling afgesweer het. Later, toe ek al in my dertigerjare was en hy 22, het ek besef my kleinboet is gay. Dit was nadat hy kwaai begin drink het en ek snuf in die neus gekry het dat iets hom pla. Ek het hom daarmee gekonfronteer en hy het erken dat hy gay is. My broer was gewild en het baie vriende en vriendinne gehad. Vroue was dol op hom, maar ons weet mos gay mans is ’n vrou se beste vriend.
“Dit het toe aan die lig gekom dat my gay broer se tweelingsuster se dogter ook gay is. Toe hoor ons dat my jonger suster se dogter ook gay is. Daarom glo ek dit loop in families.”
Elma se twee oudste dogters is heteroseksueel, hulle is gelukkig getroud en het kinders.
“My twee jongste dogters, Mia* en Petro*, kon in hul kinderdae in ’n mate as tomboys beskryf word, maar daar was niks wat my onraad laat vermoed het nie. Baie meisietjies gaan mos deur so ’n nerfaf-kniekoppe-fase,” sê sy. “Hulle het wel graag met karretjies gespeel, maar ek het hulle baie vroulik in die mooiste rokkies en fynste sykouse aangetrek. Hulle het ook stringe seunsvriende gehad wat kandidate vir kêrels was.”
Sy onthou wel hoe verontwaardig Mia was toe sy eenkeer vir haar ’n pienk-en-geel kortbroek gekoop het. “Ek dra nie hierdie blommemeisieklere nie,” het die kind luidkeels geprotesteer.
Verpletter
Sy vertel dat Mia ná matriek vir ’n wegbreekjaar oorsee is. Sy onthou nog die betraande afskeid op die lughawe. Dit het gevoel asof daar ’n klip op haar hart was.
“Ek het vir haar gesê ek wil haar met ’n glimlag onthou. Toe gee ek haar een punt van ’n lang papierlint en ek hou die ander punt terwyl sy deur die vertreksaal beweeg. Die oomblik sou aanbreek dat die papierlint sou breek en dit sou dan simbolies wees van die naelstring wat ‘breek’.
“Mia het ’n jaar lank in ’n hotel gaan werk. In ons gesprekke het sy voortdurend van ene Michael, ’n Australiër gepraat. Dit het deur my gedagtes geflits dat ek dalk nog eendag ’n Australiese skoonseun gaan kry. Ek het haar op haar 19de verjaardag gebel en omdat ons ’n baie oop verhouding het, het ek haar ewe vrolik gevra of sy al Engelse seks gehad het.
“Daar was ’n ysige stilte aan die ander kant van die oseaan. Die wind was uit haar seile. Toe vra sy vir my: “Moekie, wie het my grootgemaak?”
Dit was die einde van die gesprek.
Enkele maande later het haar susterskind Ann*, wat al op skool uit die kas geklim het, deur ’n moeilike tyd gegaan. Ann het gewig verloor, sy was neerslagtig en het haar van almal onttrek.
“Ek was bekommerd oor die kind. Enkele dae later hoor ek Ann se vriendin het haar vir iemand anders gelos. Ek het nog gedreig om met die vriendin af te reken. Hoe durf sy? Hulle was dan al die jare ’n paartjie.”
Daar was nie ’n einde aan Ann se trane nie en haar ma, Sanet*, het haar uit moedeloosheid na Elma toe gestuur.
“Ja kind, bring ’n bottel wyn en ek gooi vir ons ’n tjoppie op die kole,” het sy haar susterskind getroos.
Min wetende wat die ware oorsaak van haar trane was.
“Net voor Ann wou ry, het ek haar vasgedruk en gevra om my te vertel wat werklik aan die gang is, maar sy het net snikkend gesê sy kan nie. Toe kyk sy my waterpas in die oë en vra: ‘Het Tannie nie ’n idee nie?’”
Toe gaan die sluise oop.
“Mia is lesbies. En sy kan nie daarmee cope nie,” kom dit toe in ’n stortvloed uit.
Elma was stom van skok. Verslae. Verpletter.
Kan dit moontlik wees? Háár dogter is gay.
Toe word dinge vir haar glashelder. Sedert Mia terug is, het sy min huis toe gegaan. Dit was vreemd. Sy was glo altyd besig. Die waarheid was dat sy dit nie oor haar hart kon kry om haar ma oor haar gay-status in te lig nie. En hier het Elma gedink dit gaan alles oor Ann se liefdesverdriet. Die werklikheid was dat Ann rasend van kommer oor haar niggie was.
“Ek het daardie hele Saterdag en die nag omgehuil. Die Sondag het ek vir Mia gebel en vir haar gesê sy moet asseblief huis toe kom. Ons moet praat. Ek kon aan haar stemtoon hoor sy weet dat ek weet.”
Toe Mia brandmaer by die huis inkom, slaan ek my arms om haar en vra haar hoe gaan ons dit hanteer.
“Is jy gereed vir ’n verhouding? Moet ek jou na ’n sielkundige neem? Wat het ek verkeerd gedoen? Lê die fout by my?”
“Ja,” sê Elma “tipies ma.”
Die sielkundige het hulle van die wal in die sloot gehelp. Hy was glad nie hulpvaardig nie en het met vae verduidelikings oor die verband tussen drinkwater en gay-wees gekom.
Elma was ’n enkelouer en beskryf haar as “’n sterk moederfiguur wat die rots in die huis wou wees”. Dit was nou meer as ooit nodig dat haar dogter op haar kon steun.
“Ek het besluit dat ons nie ’n leuen gaan leef nie. Ek het vir my familie en naaste vriende vertel ek is die ma van ’n gay dogter. Gays word steeds so verwerp dat hul lewe hel is. En dit terwyl daar soveel liefdevolle, intelligente en diep gelowige Christene onder hulle is.”
Sy aarsel.
“Jy sal my nie glo nie, maar een van my vriendinne sê pront sy sal verkies dat haar kind dood eerder as gay is. My eksman en my kinders se pa sê ook dit sal beter wees dat ’n kind dood is, eerder as wat hy vir die volgende vrou in sy lewe moet vertel sy dogters is ‘lesbosse’. Ek haat daardie woord.”
Mia het ná die onthulling ’n paar kortstondige verhoudings gehad tot sy ’n vrou ontmoet het wat tien jaar ouer as sy was. Hulle was ses jaar lank saam. Elma was altyd welkom in hul huis.
“Hulle het my op die hande gedra. Daar was altyd ’n sepie, ’n sjokolade en ’n tydskrif op my kopkussing. Hulle wou my tuis laat voel.”
Hul paadjies het later geskei en op dertig is Mia welgesteld en suksesvol in haar loopbaan maar enkellopend.
“Sy hunker na ’n maat en ’n kind. Ja, gay vroue het presies dieselfde behoeftes en moederdrang as ons. Mia het verlede week bevordering gekry, maar sy sê sy weet nie vir wie sy al die aardse besittings bymekaarmaak as sy nie ’n gesin het nie.”
Elma sug.
“Ai tog, sy is so ’n mooi, liefdevolle en sagte mens. En ek weet sommer sy sal ’n streng maar goeie ma wees.”
Los die klippe
Wat Elma nooit sou kon voorsien nie, was dat Petro ook gay is. Dit het ook op dramatiese wyse aan die lig gekom toe Petro in graad elf en op kosskool was. Weer het Elma nie die vaagste vermoede gehad dat dit die geval is nie.
“Petro het dan die mooiste rok na die matriekafskeid gedra en ek was onder die indruk dat sy kêrels gehad het.”
Toe kry sy ’n oproep van hul huisdokter wat sê dat Petro siek is. Net daarna bel een van Petro se maats Elma met die woorde dat daar “groot fout met Petro se siel is”. ’n Voorval in die koshuis het daartoe gelei dat Petro se vriendin Elize* met ’n oordosis pille in die hospitaal opgeneem is. Dit het later aan die lig gekom dat Elize ook gay is.
“Elize se woedende pa het my gebel en gedreig om my kind dood te slaan. Hy het Petro die skuld vir sy kind se selfmoord-poging gegee. Ek het koshuis toe gejaag. Petro het in die kamerdeur gestaan. Sy was so wit soos ’n laken. ‘Gaan haal jou kussing en kombers. Jy hoef nie nou te praat nie. Ons gaan huis toe,’ het ek vir haar gesê.”
By die huis het sy vir Petro lekker warm badwater ingetap en vir haar ’n slaappilletjie gegee.
Weer het ’n onvermydelike gesprek gevolg. Die waarheid het stukkie vir stukkie uitgekom.
Elize wou ’n verhouding met Petro aanknoop, maar sy wou nie. Dit kon nie. Sy was ’n leier in die skool met ’n hoë profiel.
En ja, haar jongste het intussen agtergekom dat sy ook gay is.
Elma was uit die veld geslaan. Kan dit wees dat sy nog ’n gay dogter het?
Sy het besluit om die gebeure met kalmte te hanteer.
“Ek het na Elize se pa toe gery en vir hom gesê ons moet praat. Ek het vir hom gesê ek is reeds deur so ’n ervaring met my ander kind. Daar is niks wat hy daaraan kan doen nie. Hy kan net daar vir sy kind wees. Aanvaar haar. Sorg dat sy ’n plek het waar sy tuis voel, was my raad.”
Toe haar dogters uit die kas klim, het steun sowel as veroordeling uit onverwagse oorde gekom.
Elma het haar hart teenoor haar jong predikant oopmaak.
“Tante,” was sy woorde, “aanvaar hulle onvoorwaardelik, want niemand kies om gay te wees nie. Jy moet net lief vir hulle wees.”
“Hy het nie gesê hulle moet ’n sielkun-dige gaan spreek of reg gebid word nie.”
Elma se hart gaan uit na gay kinders wat nie hul ouers in hul vertroue kan neem nie.
“Hulle bly uit vrees in die kas; vrees dat hul ouers sal uit-freak, hulle sal verwerp, hul studie sal opskort. My verhouding met my gay dogters is hegter as ooit. Ek het besluit dat as ek myself ’n Christen noem, kan ek nie ’n leuen leef nie. Niemand gaan so dom wees om te kies om gay te wees nie.”
Sy lag.
“Die lewe met diegene wat aan die ander kant van die rivier swem, kan nogal prettig wees. En hulle is so lojaal teenoor hul geliefdes. Gesels jy eers met hulle, val die skille van jou oë af. Daar is soveel mites en stereotipes soos dat alle gay vroue butch is. Nooit gesien nie, party lyk soos internasionale modelle. My kinders lag ook vir die storie dat een kamma die man en een die vrou is.”
Gays kry swaar. Haar dogters werk in ’n korporatiewe, chauvinistiese omgewing en hulle vrees diskriminasie sou hulle hul identiteit in ’n tydskrif bekend maak.
Daarom het Elma gevra dat ons skuilname gebruik.
“Ek is glad nie skaam daaroor dat my dogters gay is nie, maar ek moet hulle beskerm. Hulle kan nie afgedank word omdat hulle gay is nie, maar die lewe kan wel vir hulle onaangenaam gemaak word.” Elma sê sy is hartseer oor die meeste kerke se hantering van gays.
“My kinders is groot Christene maar hulle woon gay kerke by omdat hoofstroomkerke hulle nie aanvaar nie. Die kerke moet vrede maak daarmee dat van hul lidmate gay is.”
Vir ’n oomblik lyk dit asof Elma haar trane onderdruk.
“Dis deur die genade van die Liewe Vader dat ek van my sussies se gay kinders geweet het voor my eie dogters uit die kas geklim het. Dit het my voorberei. Aanvaar jou gay kinders,” pleit sy byna. “Moet hulle nie met klippe bestook nie. Maak net jou arms oop.
*skuilname