As jy moet aanhou en aanhou en aanhou …
Ons almal onthou ’n wedren wat ons eerder wil vergeet. Die een waar moeilikheid vanuit jou blindekol toeslaan sonder enige waarskuwing. My eerste Olimpiese driekamp was so een. Dit was my heel eerste driekamp en ek het glad nie geweet wat om te verwag nie.
Toe ek en my oefenmaat die oggend douvoordag by die Germiston-dam stop, was dit ’n skrale 8 grade C – baie ongewoon vir September in Johannesburg. Omdat ons so nuut in die sport was, het ons besluit dat ons beslis nie die uitgawe van ’n duikpak wil aangaan nie. Na jare se damswemme het ons nie maklik geskrik vir koue water nie. Dit was tot ons met die “pre-race briefing” sien dat daar tussen die groep van ongeveer 60 vroulike deelnemers net twee ander swemmers sonder duikpakke was.
Aanvanklik was die kombinasie van koue water, lug en wind so ernstig dat die organiseerders dit as ’n “duikpak-verpligtende” wedren verklaar het. Maar teen die tyd dat ons moes wegspring, het die wind bedaar en was dit net-net warm genoeg om ons sonder duikpakke te laat swem.
Ek weet Lewis Pugh swem in water wat naby vriespunt is, maar ek kan nie. Die probleem van koue is dat jy na jou asem snak en later só jou ritme verloor en naderhand ’n elegante vryslag in ’n aardige gespartel verander wat jou eerder na ’n kewer as ’n Le Clos laat lyk.
Skielik het die 1,5 km soos 15 km gevoel. Ek moet erken dit was die naaste wat ek nog ooit aan opgee in ’n wedren was. In ’n stadium het die lewensredders soos aasvoëls in die agtergrond gedraai, maar dís toe ek besluit dat elke haal my nader aan die kant gaan bring en dat ek daar sál aankom, maak nie saak hóé lank dit vat nie.
Dit was ’n baie nederige ervaring om die verlammende paniek te voel opstoot en so na aan opgee te voel. Veral omdat ek gereken het die swem gaan my sterkpunt wees. Tog het dit my geleer dat elke haal, net soos elke tree, jou wel nader aan die eindstreep gaan bring as jy bloot aanhou.
En as jy daarop fokus, vervaag die ander elemente. Ek het ten spyte van die stadige swem gemaklik klaar gemaak, maar ek sal nooit vergeet hoe na aan opgee ek was nie.