Bok vir sports
Daar is iets magies aan massa-wedrenne. Dit het waarskynlik te doen met die instink van kuddediere waar almal soos een reageer om gevaar te ontkom of na nuwe weivelde te trek. Ek vermoed hierdie oerinstink loop nog sterk deur my are, want soos ’n dwelm betower dit my sodat ek myself tussen ’n groot groep deelnemers beswaarlik kan beteuel.
Verlede naweek se Cape Town Cycle Tour (voorheen die Argus) was geen uitsondering nie. Selfs die rit op ons fietse van die Waterfront se hotel tot by die begin het my klaar gaande gehad: net fietse waar jy kyk, en almal bruis van opwinding. Hoewel die roete weens die onlangse brande op Tafelberg tot net 47 km verkort is, het dit geensins afbreek gedoen aan die algemene gees nie.
My oefenmaat raak senuweeagtig in groot groepe en voel veiliger op haar eie, maar die hartklop van die kudde pols deur my are.
Die enigste klein probleempie is dat die opwinding my gewone rasionele denke na hipermodus omskakel, en dan verdwyn al my goeie voornemes en wedrenplanne om in die eerste helfte kalm en rustig te wees. Soos ’n blouwildebees wat ’n stofstreep loshardloop op die vlaktes in die Serengeti, vergeet ek alles rondom my en jaag saam met die voorbokke teen die hoogtes uit. Dan is my voete lig en kan niks my stuit nie.
Gelukkig het ek in selfverdediging ’n hartklopmonitor aangeskaf wat my spoed wys. Nou weet ek dat as ek vroeg in ’n halfmarathon opmerk ek hardloop 4min 45 sek per kilometer, dan IS DIT TE VINNING.
As daar dus in die eerste 10 km van die OMTOM (Old Mutual Two Oceans Marathon) ’n hardloper by jou verbyskiet met wilde oë en skuim om die mond, maak maar plek – maar weet ook die kuddedier-dwelm gaan binnekort uitwerk en dan gaan dit harde werk kos om die volgende 11 km op moeë bene klaar te maak!
Meer oor blogger Anet Schoeman
Ek is ’n vryskutjoernalis wat hoog raak op die energie van passievolle mense en interessante onderwerpe waaroor ek skryf.
My ander “dwelm” is oefening – enige soort – en wedrenne. Ek het ’n oefenmaat wat al daaraan gewoond is dat ons die eerste 5km van enige wedren in rekordtyd aflê omdat ek so opgewonde soos ’n Jack Russel op steroïde is. Die massa mense en die blote voorreg om gesond genoeg en fiks genoeg te wees om te kan deelneem, is vir my wonderlik.
Die Ou Mutual Twee Oseane Halfmaraton is toevallig die een wedren wat ’n baie emosionele rol in my lewe gespeel het.
Ek was van skooldae af aktief en het nog altyd iets gedoen, maar so tussen twee kinders grootmaak, ’n beroep en die lewe is dit nie altyd maklik om tyd te maak nie.
Ek het tien jaar lank die Midmarmyl geswem en renstap gedoen omdat my nek my vreeslik hoofpyne gegee het as ek hardloop. In 2009 het ek ’n sportfisiotrerapeut ontdek wat my nekprobleme met welslae kon behandel, en in 2010 het ek my eerste 21km-wedren, die Twee Oseane Halfmaraton, voltooi. Joehoeee!
’n Maand later vind ek uit ek het borskanker en moet ’n dubbele mastektomie kry.
Die blote gedagte aan hardloop en die moontlikheid om die Twee Oseane weer te kan doen, het my deur baie donker dae gekry.
Gelukkig spring ek chemo vry en hardloop my eerste sub-2 21km OMTOM elf maande later in 2011. Wat ’n emosionele geleentheid vir my! Met die besef dat die lewe dalk nie vir ewig voor ’n mens uitstrek nie (ek is gelukkig steeds na vyf jaar in remissie) het ek dieselfde jaar twee Olimpiese-afstand driekampe voltooi.
In 2014 hardloop ek en my twee broers saam die Twee Oseane Halfmaraton (die een het van Kanada gekom daarvoor) en hierdie jaar het ek ’n kwalifiserende wedloop in onder 2 ure gedoen en hoop om dieselfde op 4 April reg te kry. Op die oomblik neem ek graag deel aan 21km wedlope, fietsrenne soos die Cape Town Cycle Tour en die 94.7, en Olimpiese-afstand driekampe.