Hoekom ek hardloop
39 dae, 21 uur, 24 min, 15 sekondes, 14 , 13, 12, 11
Ek kyk angstig hoe die minute, ure en dae aftik na die OMTOM. Ek is seker nie die enigste wat gereken het om fikser te wees teen hierdie tyd nie. 39 dae klink lank, maar omdat ek die Cape Town Cycle Race (voorheen Argus) op 8 Maart doen, moet ek ’n week voor die wedren afskaal en as ek verstandig is, ook ’n week daarna. Dit sny die 39 dae met 14. Reken die vyf dae in wat ek voor die OMTOM moet minder oefen en ek het 20 dae.
Ons gim het einde verlede jaar ’n hele studio vol Wattbikes gekry en hoewel ek veronderstel was om my nuwe Wattbike-verslawing af te wissel met twee hardloopsessies per week, het laatmiddag donderstorms my meestal gim toe gejaag. En as daar een ding is wat hardloop harde werk maak, is dit ’n trapmeul. Laat my altyd dink aan die bybelversie waar Adam en Eva uit die paradys verban is: “In die sweet van jou aangesig sal jy jou brood eet…”
Ek hardloop om baie redes, maar hoofsaaklik omdat dit my absoluut wonderlik laat voel. Selfs op die dae wat ek traag begin. Dis gewoonlik waar ek langs die rivier hardloop en die bloekomolie ruik as ek die klam blare kneus – ja, selfs in Johannesburg het ons riviere en bome – dat ek daai “die lewe is flippen awesome”-gevoel kry.
Dan voel die lewe sonniger en lyk probleme kleiner. En kry jy helderheid oor dinge wat jou pla. Dis asof jou gedagtes losgeskud word en al die onbelangrike “geraas” verdwyn sodat jy op die werklike probleem kan fokus.
Dít het ek nog nooit op ’n trapmeul in die sweet van my aangesig ervaar nie…
Dus maak ek staat op spier-geheue, positiewe gedagtes en visualisering en hoop dat ek hierdie jaar ligvoets soos ’n ribbok teen Southern Cross Drive sal uitdraf. Of so iets.