Sandi Schultz verras weer in Diepe Waters (kykNET, DStv kanaal 144), maar dié keer as twee karakters: Zelda én haar tweelingsuster, Hilda. In ’n gewaagde en spanningsvolle storielyn probeer Hilda haar suster se lewe oorneem – maar die fyn verskille is besig om ander karakters agterdogtig te maak…
In ’n verstommende wending het kykers onlangs uitgevind dat Zelda ’n geheime tweelingsuster het, Hilda – ’n rou, harde vrou met ’n baie donker verlede. Hilda, met haar dogter Kelsey (gespeel deur Robyn Rossouw) se hulp, het vir Zelda ontvoer en haar identiteit oorgeneem.

Foto: Verskaf/kykNET
Kelsey, wat onlangs by SkinInvestment begin werk het, het geleidelik Zelda se vertroue gewen – maar agter haar onskuldige glimlag het ’n donker plan geskuil. Sy en haar ma het saamgespan om Zelda te laat verdwyn. Nou, met Zelda buite die prentjie, het Hilda in haar plek gestap en probeer om elke detail van haar lewe na te boots… maar sy slaag nie heeltemal daarin nie.
Want, hoewel Hilda alles probeer om soos Zelda te wees, is sy beslis nie dieselfde elegante dame nie. Haar growwe kant begin deurskemer – en mense begin dit opmerk. Zelda se dogter, Pam (Tracey-Lee Oliver), en Gys (Justin Strydom), begin wonder hoekom ‘Zelda’ so vreemd optree.
Sal hulle agter die kap van die byl kom voordat dit te laat is vir die regte Zelda?

Foto: Verskaf/kykNET
Vir Sandi was die kans om twee totaal verskillende vroue tot lewe te bring ’n opwindende uitdaging.
“Die moeilikste deel was om vir Hilda ’n eie agtergrond, eie wrokke en oortuigings te skep,” verduidelik sy. “Zelda is ’n gesofistikeerde, stylvolle vrou, maar Hilda – wat tronk toe is – het ’n heel ander pad geloop. Hulle moes verskillend praat, beweeg en optree.”
Om Hilda ten volle geloofwaardig te maak, moes Sandi alles aan haarself verander – van naels tot haar postuur en aksent. “Hilda het hangskouers, sy rook, en sy loop en praat anders. Ek moes van my gemanikuurde naels ontslae raak. Maar die stem was die moeilikste – dit het nie natuurlik vir my gekom nie,” vertel sy.
“Die aand voor ons die eerste toneel met Hilda geskiet het, het ek begin paniekerig raak. Dit het net nie reg geklink nie. Gelukkig het my kollega, Stephanie Baardman (Lettie), 30 minute van haar aand afgestaan om my oor die foon te help om die karakter meer geloofwaardig te laat klink – dit het baie gehelp.”
Lees ook: Wilhelm van der Walt oor sy rol in Skemergrond: ‘Ek is baie ambisieus en gedrewe soos hy’

Foto: Verskaf/kykNET
Agter die skerms het regisseur Gert van Niekerk ook sy hande vol gehad.
“Hierdie storielyn het van die draaiboekafdeling af gekom – hulle werk gereeld in werkswinkels waar hulle sulke briljante idees uitdink wat ons dan op die skerm moet sit,” sê Van Niekerk. “Maar hierdie een was ingewikkeld omdat Sandi albei rolle moes vertolk. Ons het baie tyd spandeer om Hilda se voorkoms en gedrag die teenoorgestelde van Zelda s’n te maak. Selfs haar lyftaal moes verander sodra sy Zelda se klere begin dra het.”
Tonele waar albei susters saam in een skoot moes verskyn, was ’n groot tegniese uitdaging. Die aktrise, Chantal Stanfield, het ingestaan as een van die twee susters wanneer hulle in dieselfde toneel verskyn het.
“Ons het op verskillende dae geskiet – eers Zelda se kant en dan Hilda s’n,” verduidelik Van Niekerk. “Ons het ’n stand-in gebruik vir Sandi vir oor-die-skouer-skote, en alles baie fyn beplan. Die moeilikste tonele was waar Hilda moes optree asof sy Zelda is – dit moes net geloofwaardig genoeg wees sodat die ander karakters nie dom lyk om dit te glo nie.”
Al het hierdie storielyn dubbel die tyd geneem om te skiet, was die uiteinde die moeite werd – nie net vir die reeks nie, maar ook vir Sandi as aktrise.
“Die lekkerste was beslis die oordrewe tonele,” sê Sandi. “Hilda is so ’n bietjie over the top, en dit was lekker om daardie verskille in liggaamstaal en stem te bemeester.”
Skakel Maandae tot Donderdae 18:30 in vir Diepe Waters op kykNET (DStv-kanaal 144) om uit te vind of Zelda betyds gered gaan word. Episodes is ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar.