Herken “donker bemarking” (dark marketing)
Noudat die sigaretmaatskappye nie in die media mag adverteer nie, gebruik hulle bemarkingstaktieke soos om sigarette en ikone te verbind. Dit het begin met gratis sigarette aan al wat Hollywood-ster is. Plaaslik word bands, raves en so geborg, en/of die sangers word gratis van rookgoed voorsien, wat hierdie rolmodelle dan op die verhoog rook.
Nog taktieke is om ’n sigaret aan onskuldige modes te koppel. Camel het destyds Urban Wave-branderry-, skaats- en ontspandrag geskep om die jong mark mak te maak; en die sigarettoonbanke bied allerlei “koel” items wat tieners lok.
Keer vroeg al
Sigaretmaatskappye en navorsers is dit oor een ding eens: Jy begin as tiener rook. As jy nie op skool (en baie ouers sal byvoeg die eerste jaar ná skool) begin nie, sal jy waarskynlik nooit nie. Dis waarom die donker bemarkers tieners en die “koel beeld” teiken.
Maar jy kan hulle voorspring, want jy is vóór hulle op die toneel. Teen tien kan jou kind deeglik bewus wees van die nadele van rook, weet dat dit nie rêrig cool is nie en weet dat jy net so min daarvan dink as van dronkenskap en dwelms.
Oefen hóé om nee te sê
Jou kind wil genooi word na partytjies en dinge. Daarom moet hy kan nee sê sonder om aanstoot te gee, met antwoorde soos: “Nee dankie man, ek rook nie, maar dis oukei as jy wil.” Leer jou kind om dadelik oor iets anders te gesels om ongemaklikheid te keer. En oefen met rolspel. Hoe meer hy dit doen, hoe makliker raak dit vir hom.
Koester sy emosionele behoeftes
Plaaslike navorsing wys kinders wat baie stres, sosiaal lomp voel, of terneergedruk/depressief is, is baie meer geneig om te rook. Ander faktore is die berugte groepsdruk, nuuskierigheid, rebellie, ’n behoefte aan onafhanklikheid en om homself te bewys. Skep ontsnaproetes en kom ooreen dat as jou kind onder druk is, hy ’n boodskap aan jou kan stuur om hom vroeg te kom haal, met een of ander gepaste verskoning.
Verkla handelaars
Die Staat is so ernstig oor sigaretverkope aan minderjariges dat dit ’n kriminele oortreding is. Waar kla jy? By die naaste polisiekantoor – en kry ’n saaknommer sodat jy kan opvolg of dit wel ondersoek word.
Lees ook: Tieners op tiermelk: Wat ouers moet weet