Slaaploosheid, edelstene en kondome
My eerste dag in Thailand was 35 uur lank. Ons het die Saterdagmiddag uit Johannes-burg op ons Thai Airways-vlug vertrek en vroeg Sondagoggend (Thailand is vyf uur voor SA) in Bangkok geland. Natuurlik kon ek nie op die vliegtuig slaap nie, en toe ons teen elfuur in Pattaya by die Asia-hotel aankom, was ek al 25 uur lank wakker. Ons kon nie wag om in te boek, te stort en ’n uiltjie te knip nie. Maar nee, ons kan ons kamers eers twee-uur kry – en toe gaan ons maar op ’n impromptu-stadstoer van Pat-taya. Dié gewilde vakansiestad op die ooskus van Thailand, is amper iets soos ons Margate, maar net héélwat groter.
Die humiditeit en hitte was vir hierdie Gautenger iets om aan gewoond te word. Dit voel asof jy direk in ’n sauna inloop wanneer jy by ’n gebou uitstap. Ons stadstoer het ons na die Sanctuary Temple toe gevat wat oor die stad uitkyk. Maar eers by die Gems Gallery, die grootste juwelierswinkel in die wêreld, het ek my tweede asem gekry. Thailand is bekend vir sy edelstene en goud en hier kan jy byna enige edelsteen in enige ontwerp kry. Die vertoonlokaal is sowat 15 200 m² groot en die toonbanke propvol blink skatte slaan jou asem weg – dis gewis iets wat elke vrou een keer in haar lewe moet ervaar. Daar is ook ’n kleiner tak van die Gems Gallery in Bangkok.
My hotelkamer by die Asia-hotel was ruim met selfs ’n jacuzzi op die patio waar ek my ná ’n lang, warm dag kon laaf. Ná ’n vinnige stort het ons toerleier ons na ’n restaurant met die ongewone naam van Cabbages & Condoms geneem. By die ingang word jy verras deur winkelpoppe wat van kop tot tone uitgerus is in klere wat van kondome en ander voorbehoedmiddels gemaak is, en daar is ook heelwat ander “versierings”. Maar moenie dat die ligsinnige dekor jou flous nie, die kos is so Thais soos kan kom en van die boonste rakke.
Olifante, lady boys en koraaleilande
Op dag twee het ons by die Pattaya Elephant Village met Thailand se olifante kennis gemaak. Ons het twee-twee op die olifante geklim en het al jillend deur die woud (en ’n rivier!) geskommel. Ons groepie het dit genadiglik oorleef en kon hierna op ons eie twee voete ’n entjie deur die bos stap.
Toe terug: Eers op ’n groot vlot terug oor die rivier en toe op ’n ossewa tot by ons beginpunt. Hier kon ons ook sien hoe sywurms spin en die bekende Thai-sy geweef word.
Die aand het ons een van Thailand se besienswaardighede van ’n heel ander aard beskou: die lady boys. Hulle het hul talente in die kabaret Tiffany’s Show ten toon gestel. Die “dames” tree op in die blinkste, kitsch uitrustings, maar hulle is beeldskoon en dis moeilik om te glo hulle is nie wat hulle voorgee om te wees nie.
’n Dagtoer na Coral Island is ideaal as jy wil swem, snorkel, valskermsweef, op die bodem van die see loop, of op die strand lê en ’n goedkoop massering kry. Ek het dapper gevoel en my vir die “see-loop” aangemeld. Jy kry ’n groot helm om jou kop wat aan suurstof gekoppel is sodat jy op die bodem van die see kan rondstap en vissies voer.
Die aand wou ons Pattaya se naglewe sien en het deur die stad gaan stap, ook vinnig gaan loer na Walking Street, hul rooiligdistrik. Skokkend en hartseer. Die prostitusiebedryf in Thailand, en veral in Pattaya, is sterk en meer as op dreef.
Drywende markte, piesang-fritters en crunchy rubies
In Bangkok, die hoofstad van Thailand, bly sowat 10 miljoen mense en verkeer is die stad se grootste probleem.
As jy hier bly, moet jy jou lewe om die verkeer beplan. Inwoners eet gewoonlik by een van die stalletjies op straat omdat hulle nie tyd het om by die huis te eet nie. En dis nie ongewoon dat mense glad nie kombuise in hul huise het nie. Elke moontlike gaatjie langs die strate word opgeneem deur kos-stalletjies, blomme, vrugte, klere – enigiets wat gesmous kan word.
As jy op openbare vervoer moet staatmaak, is ’n gewone taxi die beste keuse, of een van die driewiel-tuk-tuks wat vreesloos deur die strate jaag. Maar wees op jou hoede dat die taxibestuurder jou nie op ’n onbeplande toer neem nie. Daar is ook motorfiets-taxi’s en ek het my verkyk aan die meisies wat so netjies oorlangs agterop die motorfietse sit sonder om vas te hou of af te val, maar dis glad nie veilig nie en word nie vir toeriste aanbeveel nie.
In Bangkok het ons by die luukse vyfsterhotel die Amari Watergate gebly. Hier is alles wat jy kan nodig kry: ’n spa en haar- en naelsalon, baba-oppassers, restaurante, ’n gim, en is naby verskeie winkelsentrums.
Die bekende Siam Niramit-opvoering was die aand op ons lys. Die opvoering neem jou op ’n visuele toer deur die geskiedenis en kulturele erfenis van Thailand, en jy staan verstom oor alles wat hulle op die verhoog regkry – van die drywende mark (met ’n regte rivier wat oor die verhoog vloei), lewendige diere en ondersese tonele. Die verhoog is volgens die Guinness World Records die hoogste ter wêreld.
Op ons eerste oggend in Bangkok het ons ’n Thaise kookklas by die Baipai Thai Cooking School gekry. Dié pragtige kook-skool het hul eie kruietuin waar hulle al die kruie oes wat hulle in hul resepte gebruik. Ons het geleer om golden bags, geurige hoendermaalvleis-slaai, pad thai-noedels en crunchy rubies vir nagereg te maak. Die crunchy rubies is waterkastaiings wat in grenadien geweek word, met tapiokameel bedek word en dan vinnig gekook word. Die “robyne”(lyk nes granaatpitte!) word in ’n kokosneutmelk-mengsel saam met ys voorgesit. Baie ongewoon, maar lekker.
Op dag ses het ons die bekende drywen-de mark buite Bangkok besoek. Dit duur sowat twee uur om daar te kom en op pad het ons eers by ’n orgidee- en kokosneut-plaas gestop waar ek ’n hele botteltjie saffraan vir omtrent R40 gekoop het! Agt mense kan saam in ’n bootjie ry, af met die kanaal en deur die mark. Jy moet net mooi sit en jou mond toehou, want die water spat as die motorbootjie spoed optel en dié rivierwater … Die boot vat jou verby die mense se huise, en die armoede val ’n mens op.
Op die mark kry jy alles – van vrugte, gebraaide piesang-fritters, klere, juwele, soeweniers. Die middag het ons by die Rose Garden gestop, ’n park met luukse Thai-huise waar toeriste kan bly, ’n restaurant en teater. Ons het na ’n vinnige opvoering oor Thai-kultuur gekyk en ons aan die oulikste olifante se toertjies verkyk.
Teen dié tyd was ons nogal uitgeput om-dat ons die oggend al vyfuur moes opstaan, maar toe kondig ons toerleier aan dat ons nie die nagmark, Asiatique at the Riverfront, mag misloop nie. Dié mark maak eers vieruur oop en sluit omtrent twee-uur in die oggend. Ons was sleepvoet, want ons moes eers ’n entjie loop en dan met ’n boot ry om daar uit te kom. Vinnig het al die moegheid verdwyn toe ons voor die imposante mark staan wat uit omtrent agt reusagtige pakhuise propvol boetiekwinkeltjies en restaurante bestaan. Dis baie netjies en skoon en ’n groot plesier om in te verdwaal. Die gulde reël is: koop as jy iets sien waarvan jy hou, want ons kry dit nie weer nie! Ons was omtrent net by ’n kwart van al die winkels, want jy het minstens twee aande en baie energie nodig om by alles uit te kom. Die pryse is ’n bietjie hoër as by sommige ander plekke, maar onthou om die prys af te stry – dis jou plig!
China Town, dim sum en ’n blommemark
Op ons voorlaaste dag is ’n reusestorm voorspel, die wolke het dreigend bly hang en die humiditeit was hemelhoog, maar die storm het gelukkig nie opgedaag nie. Ons het die oggend besluit om die Grand Palace en tempel van die Emerald Buddha, die heiligste Boeddhistiese tempel in Thailand, te besoek. Die groen Boeddha-beeld is gekerf uit ’n soliede blok niersteen (jade) en is sowat 66 cm hoog. Toeriste word nie oral toegelaat nie, maar die indrukwekkende argitektuur en standbeelde is ’n besoek werd.
Middagete was by ’n tipiese Thai-restaurant, Malika’s. Jou eerste indruk van die restaurantjie is dat dit nie na veel lyk nie, maar moenie dat dit jou flous nie. Die tafeltjies het vinnig vol geraak nadat ons ons sit gekry het, soos wat die plaaslike inwoners vir hul middagete nader staan. Malika het een na die ander gereg na ons tafel toe gebring waarvan die een lekkerder as die vorige was. Hierdie was sekerlik een van die beste etes van my lewe. Ons was trommeltjievol, maar moes net ’n draai by die groot MBK-winkel-sentrum gaan maak. Na my mening is die Platinum-winkelsentrum, oorkant ons hotel, heelwat beter en het ’n groter verskeidenheid, maar dit het ons nie gekeer om geld uit te gee nie. Net toe ek dink my vakansie is verby, wag daar ’n groot verrassing op my. Die aand voor ons vertrek het ons in China Town by die Shanghai Mansions, ’n Chinese boetiekhotel, gaan oorbly. China Town is ’n ander wêreld, en skielik is dit asof jy jou in Hongkong bevind. Alles lyk anders. Die Thai-kennisgewings maak plek vir Chinese skrif; die mense lyk anders; die kos smaak anders. Perlemoen en haaivinne staar jou by elke restaurant aan. Skielik mis ek die kruie en rissies van die Thai-geregte en is die Chinese kos effens smaakloos en oninteressant. Die boetiekhotel gee baie aandag aan detail, en die kamers is betowerend.
Die oggend het ons kans gehad om dumplings of dim sum vir ontbyt te eet voor ons ’n draai by die blommemark gaan maak het. Ons moes vir oulaas by die Platinum-winkelsentrum stop vir die laaste inkopies. Ek het vir die soveelste keer oorweldig gevoel, want jy weet nie waar om eerste te kyk nie. Doen jouself ’n guns en spaar behoorlik voor jy Thailand toe gaan!
Ons Thai Airways-vlug huis toe was eers geskeduleer vir 1:15 die Maandagog-gend, maar ons kon gelukkig rustig inpak en in ons hotelkamers rus voor ons later kon uitboek. Hierdie keer het ek pootuit, maar gelukkig, dadelik op die vliegtuig aan die slaap geraak.