Dis verbasend hoe jou skoene die vermoë het om met jou uitrusting te toor, maar om gemaklik te voel én stylvol te lyk, is makliker gesê as gedaan. Ons het egter goeie nuus: met 2017 wat op ’n eksotiese noot afgeskop het, kan ’n mens nie anders as om plek te maak vir ’n paar buitengewone tekkies nie.
Bring die tuin na jou tekkie
Kry ’n “tuin”-voorkoms met ’n paar kleurvolle blompatrone of bring die kind in jou na vore met ’n speelse afdruk vanuit jou gunstelingstrokiesprentboek. Voel jy kreatief? Niks keer jou om hierdie jaar jou verbeelding vrye teuels te gee en jou tekkies as skilderdoek te gebruik nie; gryp daardie verfkwas en spog met jou tekkie, enig in sy soort. Ander gewilde style sluit in geometrie, Afrika-inspirasie en ietsie blink. Bont en besonders – dís die pad om te loop.
Ons is veral versot op die nuwe Toy Story-skoenreeks van Vans wat afdrukke van al die gunstelingkarakters uitbeeld. Ikoniese figure soos Buzz Lightyear en Woody pronk regoor jou skoen wat jou sommer kinderlik opgewonde op enige dag sal laat voel. Verder oortref hierdie skoen jou verbeelding deur die seunskarakter “Andy” se naam in ’n kinderhandskrif op die sool te teken.