Trauma na borskanker – vang dit jou? Deur Salomé Delport. Foto: Vesnaandjic/istock images
Trauma na borskanker – vang dit jou?
Daar is niks pienk en lekker aan borskanker nie. Dit is pleinweg erg. Daarná ook.
As jy met ervare borskankerspesialiste gesels, vertel hulle dat hulle ’n hele verskeidenheid tipiese traumas by vroue sien ná hul skermutseling met die grootste van vrouekankers.
Dr. Justus Apffelstaedt, Kaapse borskankerspesialis met meer as dertig jaar se ondervinding, meen twee uit elke drie vroue ly onder langtermyntrauma. Hy identifiseer selfs verskillende fases waarin vroue tipies spesifieke reaksies toon.
Dit laat ’n mens dink aan die tipiese emosionele reaksies ná ernstige hartsiekte waardeur mans (en vroue) gaan. Vir hartpasiënte (hartsiektes en borskanker is die siektes wat die meeste vroue eis) is daar veel meer as die basiese mediese sorg. Hulle word ingelig om bedag te wees op angs, depressie en selfs posttraumatiese stressindroom. Hul rehabilitasieprogramme rus hulle toe vir fisieke én emosionele herstel. Diagnoseer dokters dus iets soortgelyk by borskankervroue, soos “post-borskankersindroom”?
Glad nie. Glo dit as jy wil.
Al is kenners bewus van die spesifieke emosionele uitwerking van borskanker, bly die fokus op die fisieke herstel: Jou bors/borste is weg? Oukei, ons doen rekonstruksie. Jy is hartseer omdat jy nie meer tepels het nie? Oukei, ons gee vir jou kunstepels. Kan die kanker terugkeer? Oukei, ons gee langtermynmedikasie en ons volg op. Dit alles is noodsaaklik en kosbaar. Maar wat van die trauma op die ander, éwe belangrike vlakke van jou lewe?
Die trauma word gehanteer volgens wat die vrou dínk is relevant om met haar dokter te deel. En as sy nie ingelig is nie, dink sy al die emosionele dinge wat fout gaan, is haar skuld – van die depressie wat dikwels volg tot haar huwelik wat geknou word.
Hoewel dit waar is dat sommige kankerpraktyke vroue ondersteun, gebeur dit lukraak en hapoor. Een maak mooi, ’n ander een hou voorligtingspraatjies en nog een samel geld vir pruike of mammogramme in. Jy kan gelukkig wees en ingesluit word – of oorgeslaan word. Al raad wat konsekwent uitgedeel word, is om ’n antidepressantjie te sluk.
Hoekom wil ’n mens erkenning vir die emosionele trauma as ’n werklike sindroom hê? Omdat dit bemagtigend is. As jy ingelig is, verstaan jy beter wat nodig is om die brokstukke van jou lewe op te tel en ’n nuwe een te bou.
Hier is ’n lys van die tipiese “ander” traumas wat vroue tref as deel van die prys wat borskanker eis. As jy sien een van hierdie loop skeef in jou lewe, onthou dit is nie jou skuld nie. Dit is maar net deel van hierdie pakkie – ’n deel wat jy kan hanteer.
Lees ook: Wat elke vrou oor hartsiekte moet weet
Diagnosetrauma
Dit tref heel eerste, sê Dr. Apffelstaedt. Die meeste vroue voel oorbluf en neem min in van wat die spesialis sê. Party is ontsteld en neem oorhaastige besluite.
“As die spesialis jou inroep vir ’n opvolgafspraak ná ’n siftings-ondersoek soos ’n mammogram of naaldbiopsie, bring iemand saam met jou om te help luister. En onthou, jy hoef niks dadelik te besluit nie. Gee jou twee, drie weke om alles te oorweeg.”
Lees ook: Depressie en jou sekslewe
Estrogeentrauma
Sowat 70% van kankers is estrogeensensitief. Daarom word medikasie gebruik wat jou estrogeen heeltemal onderdruk. Dit stoot jou onmiddellik oor in die menopouse – ’n aanpassing wat selfs vir gesonde vroue traumaties is. Estrogeen het ’n geweldige groot invloed op jou liggaam – van jou gemoed tot jou libido, en daarom kan hierdie verlies jou onkant betrap.
Vaginale trauma
Hierdie een is estrogeen se skuld. Daarsonder raak die vagina droog, wat seks pynlik en selfs onmoontlik maak. Vir hierdie een is daar ’n maklike oplossing: lokale estrogeen en vaginale smeermiddels, wat die droogheid oorkom.
Lees ook: Die oorsake van pynlike seks – en wat jy daaroor kan doen
Libidotrauma
Sonder estrogeen verlaag of verdwyn jou libido – en verloor jy een van die diep menslike bronne van emosionele vertroosting en nabyheid. Dit vang jou man óók. As seks vir hom belangrik is – vir byna alle mans onder sestig is dit – sal julle saam doelbewus hieraan moet werk, op watter maniere julle ook al prikkelend vind. Die beste is om ’n seksterapeut te spreek.
Lees ook: Wat jy moet weet oor kanker en seks
Verhoudingstrauma
’n 2019-artikel in Cancer wys dat een uit elke vyf vroue ná ernstige kanker deur haar lewensmaat verlaat word. Dit klink na opperste verraad, en ’n skop wat niemand verdien nie.
Maar vir jou maat is borskanker ook traumaties. Die vrou hou tipies die gesin bymekaar en die huis in stand. Anders as vroue, is baie mans van nature minder daartoe in staat om te versorg en te verpleeg. Niemand vul die gaping nie.
“Daarby is is die gebrek aan seks vir baie mans ’n groot ding … Party sien ’n vrou sonder libido, om dit pront te stel, as ‘onbruikbaar’. Ander is bang om hul vrou aan iets so ‘rof’ soos seks bloot te stel,” sê prof. Apffelstaedt.
Daarom voel die mans van vroue met borskanker verwaarloos, seksueel onbevredig en emosioneel net so broos soos die vrou. Dan soek hy troos by iemand anders. Die gevolg? Maatverlating. Hoe korter die huwelik en hoe jonger die pasiënt, hoe groter is die kans op maatverlating.
Selfvertrouetrauma
Sommige vroue verander ná borskanker in ’n bang, hulpelose, afhanklike slagoffer wat alle selfvertroue verloor. Navorsing wys die lewe is vir hierdie groep vroue ook die slegste.
Die oplossing is baie logies: bou jou geknoude selfvertroue geleidelik op. Maar hóé?
Spaanse navorsing wat in Februarie vanjaar uitgekom het, wys die twee faktore wat jou die meeste hiermee help, is ’n lewensmaat en ’n werk. En wat as jy nie een van die twee het nie? Hulle sê sekere tegnieke help ook. Hulle het vroue onder meer geleer om negatiewe gedagtes te onderbreek en eerder op die positiewe te fokus. Baie vroue sukkel ook met ’n geskende identiteit en ontwikkel allerlei skewe persepsies oor wie hulle nou is, hul eiewaarde en hul aantreklikheid. Net die feit dat iemand daaroor met hulle gesels, het die vroue in hul groep gehelp om sulke wanpersepsies om te swaai na selfwaarde.
Nog ’n nuttige tegniek wat hulle ingespan het, is geleerde optimisme – dat jy letterlik soek tot jy die blink kant vind. ’n Vierde suksesvolle taktiek was om negatiewe gedagtes te smoor voor hulle oorvat. Sodra jy agterkom jy raak negatief, trek jy jou aandag doelbewus af met iets soos ’n lekker fliek, TV kyk, ’n boek, Pinterest, YouTube of Instagram of ’n entjie se stap buite.
Lees ook: Chemobrein en hoe jy kan herstel
Depressietrauma
Van 40% – 70% van vroue ontwikkel depressie in die eerste jaar ná diagnose, terwyl sowat 30% met angs sukkel, wys ’n hele aantal ondersoeke. Dit is te wagte, met alles wat tipies bydra, soos die soort chemo, vrees vir herhaling, die skending van chirurgie, finansiële stres, die gevoel dat jy jou vroulikheid verloor het, pyn, moegheid, werkstres en die uitwerking op jou gesin.
“Die angstigheid verdwyn of verminder ná sowat ses maande, wanneer die vroue agterkom dat dit eintlik met hulle goed gaan,” sê dr. Apffelstaedt. “Selfs die depressie verdwyn. Tyd is ’n groot geneser. Tog sien ek dat die vroue wat hul emosies onderdruk tien jaar later steeds sukkel om hul kanker te verwerk.”
Gesels met iemand – ’n vriendin of ’n sielkundige. Baie mense vind baat by ’n rukkie op ’n antidepressant. Praat met jou dokter oor die regte antidepressant vir jou, om te help met probleme soos moegheid of angs.
En gun jou die kans om aan te pas.
Lees ook: Homeopatie en depressie? Alles wat jy moet weet
Vra!
“Ek sê graag vir my pasiënte jy is nie alleen nie – mense besef net nie dat jy alleen is nie! En dan voeg ek by die mens het ’n ingebore neiging om ander te wil help. Dit is belangrik vir óns wat gesond is om nuttig en goedhartig te voel. Daarom doen dit ons goed om dié wat siek is te help. Vir jou is hulp nou goed. Vrá dus met groot vrymoedigheid om enige soort ondersteuning wat jy op die oomblik nodig het. Anderdag is jy die een wat kan help.
– Prof. Justus Apffelstaedt.