Dit maak nie saak hoe jy 750 km sê nie – dit bly 750 000 m. Heelpad van Knysna tot in Franschhoek. Op ’n trapfiets. In ’n snikhete Februarie. Oor berge en dale. Veral berge, sien ek toe ek aan die einde van November tussen werk en wedrenne deur uiteindelik tyd het om behoorlik te kyk wat die wedren behels.
Dag een van die TransCape-bergfietsmarathon strek van Knysna tot in George; 109 km waarin jy 2 716 m klim. Die res van die roete klink na ’n fyn beplande marteltog. Op dag twee trap jy 121 km en klim 2 100 m.
“Hulle sê dís die moeilikste dag,” kondig my dogter met die wedrenprofiel in haar hand bekommerd aan. Ek wonder kort-asem hoe enigiemand 2 716 m se heuwels in een dag kan uitry.
Dis die ou Epic-roete, laat weet my fietsrybroer opgewonde per e-pos.
Toe ek ’n uitnodiging vir die TransCape kry, was ek in die sewende hemel. Jy slaap elke aand in sagte beddens in gastehuise en eet fynproewerskos, het Lenore Collett, die organiseerder, trots verduidelik. Hoewel ek al vier jaar padfiets ry en fiks is, het ek geen bergfietservaring nie, en hier is mos die ideale kans om die skuif te maak …
“Het jy hierdie wedren goed deurdink?” vra my geduldige man. Hy is gewoond aan een wat koorsagtig opgewonde raak oor uithourenne en nuwe avonture. Hy moes al saam met my Kilimandjaro uitklim omdat ek twee weke voor die ekspedisie ’n uitnodi-ging gekry het en ewe “gaaf” vir hom ook ’n plek losgepraat het.
Miskien hét ek nie mooi hieroor gedink nie, want die prentjie van my wat deur fraai dorpies ry en vrolik vir die inwoners wuif, het pas ’n lelike knou gekry.
Die dorpies sal steeds fraai wees, maar ek vermoed daar gaan niks vrolik aan my wees wanneer ek verbysukkel nie. “Toemaar, jy kan op die bystandvoertuie klim as jy moeg raak,” paai ’n oud-kollega wat al twee keer die Epic gery het, toe ek haar in blinde paniek bel.
Hoewel dit soos ’n gawe uitkoms klink, gooi ek nooit tou op weens swak beplanning en te min deursettingsvermoë nie, en dit gaan ook nie nou gebeur nie.
Ek het twee maande gehad (wat die Desembervakansie ingesluit het) om die padfiets te los en ’n gesoute bergfietsryer te word. Vir die eerste keer in my lewe het ek besef ek het my moses teëgekom. In eenvoudige Afrikaans: Ek’s in my maai (en meer).
Ek sal kortpad vat verby die koue sweet, paniekaanvalle en trane van bittere spyt. Gelukkig lees ek in my klubnuusbrief van Cycle Lab van gratis vaardigheidslesse vir vrouelede by die PWC Bike Park.
Hoe moeilik kan dit wees? Dis steeds net ’n fiets, dink ek toe ek my op die eerste Vrydagoggend in Desember met ’n blinknuwe 29ner-bergfiets in Nicolle van der Greft se klas bevind. Weliswaar ’n baie groot fiets, besef ek toe ek op my ryperd spring. Nie omdat ek mateloos opgewonde is nie, maar omdat ek so ver van die grond is.
Ek is so onhandig dat ek meer tyd langs die fiets as op die fiets deurbring. Skielik klink agt weke baie kort vir die wonderwerk wat gaan nodig wees vir my transformasie. Maar soos altyd kom spyt te laat.
Toe Nicolle hoor wat my uitdaging is, lewer sy ’n Oscar-vertoning en verduidelik sonder om haar oë te rol of histeries te lag dat sy private lesse aanbied en ook dat ’n fiets sonder dubbel-suspensie die 750 km soos 1 500 km gaan laat voel. Dis toe ek die vriendelike mense by Cycle Lab oortuig om vir my ’n fiets met ’n dubbelsuspensie vir die fietsren te leen.
Dit het intense oefening gekos (drie lesse per week) en baie ure se oefening alleen, maar dit was bevredigend om week na week te sien hoe ek vorder.
Daar was ook dae van diep vertwyfeling. Op my tweede klub-bergfietsuitstappie in Desember val ek met my kop teen ’n rots en kraak my helm. Jy kan vir jou morsdood val, het ek angstig gedink.
Tog was daar ook oorwinnings. Soos toe ek stil op my fiets staan en balanseer, of by ’n houtbruggie afspring en teen ’n duiseling-wekkende afgrond afjaag. Hoe meer mense verstom was oor my uitdaging, hoe meer vasbeslote was ek om suksesvol te wees.
Bergfietsryers is ’n vriendelike spulletjie, tog is daar ’n donker kant aan wedrenne waaroor niemand voor die tyd praat nie, maar op ’n wedren is dit omtrent ál waaroor hulle praat: boude. Hoe voel jou boude? Hoe lyk jou boude? Wat smeer jy aan jou boude? Ek was te bang om te vra, maar vermoed wildvreemde kamermaats het waarskynlik saans mekaar se agterstewe inspekteer en salf aangesmeer. Voor die tyd kon geen mens my vertel wáár ek dit moet aansmeer nie. “Smeer waar dit skaaf,” gee die een raad. Maar hoe weet jy waar as jy nog nooit geskaaf het nie?
Maar op die eerste dag is my agterstewe die laaste ding wat pla. Ons is nog net 12,5 km in ons reis van 750 km en ek is gereed om te begin stoot. My rug is so seer dat ek bang is ek kreun hard en my bobene brand so dat ek seker is ek kan ’n braai aan die gang kry met nat hout.
Maar my medetrappers trap met vrolike gesigte teen die bult uit en ek kners op my tande en veg voort. Laat ek net asseblief die eerste dag oorleef … Op 60 km gee iemand by ’n waterpunt my fiets een kyk en sê my saal lyk te laag. Met die vervoer van die fiets het die saal op ’n manier afgeskuif en dit verklaar my rugpyn. Daarna voel die rug baie beter, maar die opdraande bly net so steil.
Toe ek ’n bergfiets wou koop, gee my fietsrybroer raad: “Koop een wat maklik stoot.” Ek het lekker gelag, maar nou is dit glad nie snaaks nie. Dis deksels moeilik om ’n halsstarrige fiets teen los klippe uit te stoot as dit so steil is dat jy die rem moet trek om te keer dat jy terugrol! En dit met fietsryskoene wat omtrent so gepas is vir bergklim soos klompe.
Maar ek verbaas myself (en heelwat ander) en oorleef dag een, en twee, en drie en vier … tot op dag sewe by die eindpunt by La Couronne in Franschhoek. Wat na ’n onmoontlike uitdaging gelyk het, het hanteerbaar geword met die regte afrigting, oefening en baie vasbyt. Wat amper meer fassinerend aan die reis was, was die kopskuif wat dit verg as jy iets heeltemal nuuts aandurf wat oënskynlik bo jou vuurmaakplek is.
Jy leer soveel van jouself en besef dat al dink jy jy’t die einde van jou kragte bereik, kan jy nog bitter ver aanhou as dit nodig is. Die bevrediging om ’n onrealistiese uitdaging te oorwin was vir my een van die mees bevrydende ervarings en een van die beste geskenke wat ek vir myself kon gee.
Nou sien ek geen grense nie.
Lees ook Wees aktief saam met jou kinders