Toni Morrison is oorlede. Hooffoto: Beloved, deur Toni Morrison
Die Amerikaanse skrywer en Nobelpryswenner, Toni Morrison, is op die ouderdom van 88 op 6 Agustus 2019 oorlede. Ons onthou dié uitstekende skrywer met ’n Beeld van ’n Vrou uit ons argiewe.
Beeld van ’n Vrou: Toni Morrison dans op papier
Sy skryf oor donker dae en donker dinge, maar Nobelpryswenner Toni Morrison se prosa het vlerke …
deur Salomé Snyman
LET WEL: Hierdie artikel het oorspronklik in die Februarie 2005-uitgawe van rooi rose verskyn.
Mark Twain se klassieke verhaal Huckleberry Finn, het Toni Morrison gepla: Jim is nie as ’n volwaardige mens uitgebeeld nie. Net in een tragiese toneel kom die leser agter dat hy ’n eie lewe het wanneer hy vir Huck vertel dat sy dogter ná ’n siekbed doof geword het.
Toe besluit sy om die bordjies te verhang …
En nou, meer as ’n eeu ná dié verhaal geskryf is, het dié klein vroutjie vir swart Amerikaners ’n plek oopgeskryf.
Toni, ’n professor in letterkunde by Princeton Universiteit, is die eerste swart vrou aan wie die Nobelprys vir letterkunde toegeken is.
Maar sy hou nie van etikette soos “swart skrywer” nie en wag vir die dag wanneer mense nie meer op grond van ras onderskei word nie.
Tog is haar temas gegrond op ras: slawerny, rassehaat, die ironie van die lotgevalle van sogenaamde freedmen en hul nageslagte en die gepaardgaande maatskaplike probleme wat veral vroue raak. Maar haar unieke hantering van dié uitdagende temas plaas haar in die geselskap van die wêreld se voorste skrywers soos J. M. Coetzee en Salman Rushdie.
Vir Toni vervaag die grense tussen oorheerser en onderdrukte, oorsaak en gevolg, goed en kwaad. Maar politiek moet altyd ondergeskik wees aan die estetiese, hou sy vol: ’n storie moet altyd beautiful wees.
Sy pak wel onaangename onderwerpe, maar haar karakters is nooit tragiese slagoffers nie. Die mens se onblusbare gees vier sy in kleurryke, amper-liriese prosa wat as ’t ware op die papier dans.
Dans en musiek is inderdaad ’n groot invloed in Toni se werk.
Haar ma, Ramah Willis, se familie was musikante wat na Kentucky getrek het nadat hulle hul familiegrond in Alabama verloor het en verplig was om bywoners te word. Haar oupa was ’n violis en haar ma het klavier gespeel in stilfliek-teaters. En wás sy lief vir sing. Toni onthou: “My mother sang opera, she sang sentimental Victorian songs, she sang arias from Carmen, she sang jazz, and she sang blues, she sang what Ella Fitzgerald sang, and she sang ‘Ave Maria’.”
Die musiek wat haar kinderjare gevul het, het ’n blywende indruk op Chloe (Toni se doopnaam) gemaak. In haar roman Jazz (1992) herroep sy die atmosfeer van Harlem in die vroeë twintigste eeu: “In the T-strap shoes of Long island debutantes, the sparkling fringes of daring short skirts that swish and glide to music that intoxicates them more than the champagne. It is in the eyes of the old men who watch these girls, and the young ones who hold them up. It is in the graceful slouch of the men slipping their hands into the pockets of their tuxedo trousers. Their teeth are bright; their hair is smooth and parted in the middle. And when they take the arms of the T-strap girls and guide them away from the crowd and the too-bright lights, it is the clicking that makes them sway on unlit porches while the Victrola plays in the parlor.”
Toni het goeie herinneringe van haar kleintyd in Lorain, Ohio, waar haar pa, George Wofford, in die depressiejare moes swoeg om sy vrou en vier kinders te onderhou. Hy was onder andere karwasser, sweiser en konstruksiewerker net om die pot aan die kook te hou.
Toni het van kleins af aanklank gevind by die betowerende kultuur van die gemeenskap waarin sy grootgeword het se gospelmusiek, skinderstories, bygelowe en spookstories. Elemente van magiese realisme in haar werk en haar aangetrokkenheid tot skrywers soos Gabriel García Márquez dui op die ryke erfenis van dié kultuur wat ’n onuitputlike bron van inspirasie vir haar eie stories was.
Sy vertel dat sy eintlik in twee tale opgevoed is: boeketaal en die volkstong van familiebyeenkomste waartydens die kinders aan die lippe gehang het van grootmense wat wonderlike stories vertel het.
Maar daar was ’n skadukant …
Daar word vermoed dat ’n toneel uit haar eerste roman, The Bluest Eye, wanneer ’n swart dogtertjie lekkers by ’n wit winkelier koop, Toni se eerste gewaarwording van rassisme as kind beskryf:
“She looks at him and sees the vacuum where curiosity ought to lodge. And something more. The total absence of human recognition.”
Erkenning is iets waarvoor Toni hard moes werk. Sy het goed gepresteer op hoërskool en is na Howard Universiteit in Washington, D.C., waar sy in 1953 ’n B.A.-graad behaal het. Ná haar voorgraadse studies het sy ’n meestersverhandeling voltooi oor die selfmoord-dryfveer in die werke van Virginia Woolf en William Faulkner. Later in haar lewe het sy afkeurend daarna verwys as ’n “shaky thesis”.
Ná haar M.A.-graad het sy lektorsposte beklee by die Universiteit van Texas en Howard Universiteit, ook die plek waar sy haar man ontmoet het. Sy is met die Jamaikaanse argitek, Harold Morrison, getroud en twee seuns, Harold Ford en Slade Kevin, is uit die huwelik gebore.
Maar dié huwelik van ses jaar was bitter ongelukkig – en om te ontsnap, het Toni begin skryf …
Sy het net in haar verbeelding geleef: “I had no will, no judgment, no perspective, no power, no authority, no self – just this brutal sense of irony, melancholy, and a trembling respect for words.”
Haar skryfwerk was aanvanklik net stukke wat sy geskryf het toe sy nog op skool was – soos dié van ’n lelike meisietjie wat gewens het dat sy blou oë gehad het – ’n storie wat haar eerste roman, The Bluest Eye, geword het en waarin sy konvensionele opvattings oor uiterlike skoonheid bevraagteken het.
Ná haar egskeiding is sy sak en pak New York toe om as ’n senior redigeerder by die bekende Random House-uitgewers te werk. In dié pos het sy Afro-Amerikaanse skrywers en hul werk bevorder – en haar eie skryfloopbaan het ook momentum gekry met die publikasie van haar tweede roman Sula in 1973. Dit handel oor ’n vriendskap van veertig jaar tussen twee vroue. Toni het daarin geslaag om die wanhoop, samehorigheid en deursettingsvermoë van die daaglikse bestaan van swart gemeenskappe van die jare twintig en dertig treffend uit te beeld. Oor kritiek dat haar uitbeeldings oordrewe (‘larger than life’) is, het sy opgemerk: “There isn’t anything bigger than life!”
In haar derde boek, Song of Solomon, het sy ’n nuwe uitdaging aangepak: haar hoofkarakter, Milkman Dead Jr., is ’n man – en sy moes skielik soos ’n man dink. Daaroor sê sy: “I couldn’t use the metaphors I’d used describing women. I needed something that suggested dominion – a different kind of drive.”
Opmerkings soos dié het haar as feminis gebrandmerk.
Tog het Toni getrou gebly aan haar beginsel om albei kante van ’n saak te ondersoek.
Hoewel sy die onderdrukking en mishandeling van vroue kritiseer, was daar altyd empatie met mans se probleme en identiteitskrisisse.
Song of Solomon is in 1978 met die National Book Critics’ Circle Award bekroon.
Haar volgende boek, Tar Baby (1981), is louerig ontvang, maar toe kom Beloved (1987), wat allerweë as ’n letterkundige meesterstuk bestempel is. Dit is met onder meer die gesogte Pulitzerprys bekroon en het bygedra dat die Nobelprys vir letterkunde in 1993 aan haar toegeken is.
Dis ’n hartverskeurende ware verhaal oor ’n vroueslaaf, Sethe, wat met haar kinders ontsnap het en vir haarself ’n nuwe lewe wou skep. Maar die slawevanger het hulle opgespoor, en Sethe probeer haar kinders ’n lewe in kettings spaar: sy probeer hulle vermoor …
Toni het dié boek opgedra aan “Sixty million and more” – almal wat in slawerny in Amerika dood is.
“There are many stories told in this novel, each a testimony to a slightly different aspect of slave experience, none balking from revealing the psychic and physical horrors of slavery.” Só skryf sy die stories van mense wat deur die geskiedenisboeke geïgnoreer is …
Maar van ’n aktiewe rol as vegter vir menseregte wil sy niks weet nie: “I am active in terms of where I speak, and the things I write about.”
Dit wil lyk asof Toni ’n siklus voltooi. In haar voorlaaste roman Paradise (1998) en weer in haar laaste roman Love (2003) keer sy terug na een van haar gunstelingtemas: female bonding en konfronteer ook haar pa se meerderwaardigheidsgevoel wat gegrond was op rasegtheid, wanneer sy ’n nuwe geslag bekend stel wat nie aan haat en vergelding wil vasklou nie. [Sedert 2005 het Morrison nog drie boeke geskryf, naamlik A Mercy (2008), Home (2012) en God help the child (2015)].
Op 73 is Toni nog volstoom aan die gang: Sy skryf onverpoos, gee nog klas en lewer wêreldwyd praatjies en referate.
Maar oor haar persoonlike lewe sê sy min – net dat haar twee seuns vir haar ’n groot plesier is. Die oudste, Ford, is ’n musikant en ’n klankingenieur, en die jongste, Slade, ’n argitek.
Joernaliste vertel dat haar skerp intellek hulle intimideer, maar dat haar flambojante voorkoms (sy dra juwele en klere wat nie eintlik met ’n stywe akademiese atmosfeer versoen word nie) en haar aansteeklike lag die teenoorgestelde uitwerking het.
Dalk som die joernalis Gloria Naylor Toni en haar werk die raakste op: “ … the person that talks in a whisper is the one you always lean toward. Your books just whisper at the reader and you move in, you move in, and then you finally hear what’s being said … ”
As jy van hierdie artikel oor Toni Morrison gehou het, loer hier vir nog verhale van inspirerende vroue.