Waar kom jou liefde vir kos vandaan?
Dit was maar net nog altyd daar. Ons is ’n baie hegte familie, en almal lief vir lekker kos. My ouma maak die beste waterblommetjiebredie, my pa is die beste braaier in die land en my ma se beesstert is net ongelooflik! Wanneer ons saamkuier, is daar altyd lekker kos. Met die Toptienerkok-kompetisie het ek besluit dis wat ek met my lewe wil doen, en ná matriek het ek ’n jaar lange koskursus gaan doen. Van skooldae af het ek in restaurante en hotelle gewerk – ek wou leer by die mense wat van kos wéét. Ek het só wonderlike indiensopleiding gekry.
Wat was die eerste gereg wat jy gemaak het?
Daar is ’n spesifieke plek in ons tuin, tussen ’n nartjieboom en ’n bottle brush, waar ek altyd ’n vuurtjie gemaak het. My ma het dan vir my ’n wortel, aartappel, ui en ’n stukkie spek gegee, en ek het so ’n lekker mush in ’n miniatuur-driebeenpotjie gekook. My ma was streng en het geglo jy moet eet wat jy kook. Dis seker daar waar ek besef het jy eet lekkerder as kos lekker is! Ek het ook altyd in die tuin oondjies gebou, vuurgemaak en goed daarin gaargemaak en gebak. My eerste herinnering voor ’n stoof is seker maar waar ek op ’n stoel voor die stoof staan en plaatkoekies bak. Een van die eerste tegniese goed wat ek as seuntjie geleer het, was om witsous te maak. Ek onthou hoe verbaas my huishoudkunde-onderwyseres was toe ek haar met ons eerste les sommer vinnig-vinnig gewys het hoe jy dit maak. Ek dink my ma het ’n groot rol in my liefde vir kook gespeel. Haar leuse was eenvoudig: as jy lus is vir iets, maak dit self. Sy het kleintyd ook vir my my eie kombuisgereedskap gekoop.
Wat is jou gunstelingkos?
Beslis seekos, soos mossels, kreef, perlemoen, garnale. Soesji laat my smelt! Daardie kombinasie van smake van sojasous, salm en komkommer, sulke lekker vars, gesonde smake. Toe ek klein was, het my pa graag perlemoen en kreef gemaak, sommer op die rooster. Dis so eenvoudig en maklik om gaar te maak, maar ongelooflik lekker. Aan die ander kant is ek altyd lus vir ’n lekker dik, rypgemaakte rump met ’n brosgebraaide vetjie.
En ’n eenvoudige peuselhappie?
Ek sal altyd na ’n lekker kaas, soos camembert of brie gryp. En ek kan pakke van Simba se Cheesy Cheddar-skyfies op ’n slag opeet.
Wat is vir jou die moeilikste gereg?
’n Soufflé is mos maar altyd moeilik, maar by Ouverture het ek my vrees daarvoor nogal oorkom. Eintlik is dit mos maar hoe dit werk: jy kry iets wat moeilik is, en raak dit dan deur oefening baas. ’n Mens moenie vir enige gereg bang wees nie. As jy ’n hoender ses keer ontbeen het, raak dit later soos fietsry. Min mense weet dit, maar in die Kokkedoor-episode waar ek en Mynhardt moes sorg vir ’n bordjie soet en ’n bordjie sout, het ek ewe aangebied om koeksisters te maak. Dit was die eerste keer dat ek koeksisters gebak het. Ek het nie regtig geweet hoe om dit te vleg, of hoe warm die olie moes wees, of hoe koud die stroop nie.
Dit was nie so moeilik nie, maar wat as dit ge-flop het?
Dit kon ons laat verloor het.
Watter beroemde sjef bewonder jy?
Dis seker ’n cliché, maar Jamie Oliver verstáán kos! As dit by plaaslike sjefs kom, beslis Bertus Basson by Ouverture vir die manier waarop hy kos bymekaarsit.
Was Kokkedoor pret? Wat het jy geleer?
Dit was lewensveranderend en bitter harde werk! Ons het elke dag, behalwe Sondae, geskiet. Jy is in ’n roetine van elke dag vir lang ure hard werk. Ek het in ’n stadium amper gevoel ek begin my passie vir kos maak verloor, maar iewers in my was iets wat op die TV wou wees en ’n eie resepteboek wou hê. So, ek het vasgebyt!
Was die afsondering moeilik?
Op ’n manier was dit lekker, want ons kon fokus op wat ons moes doen. Ons mag elke dag net twee minute met ons familie gepraat het. As jy moes hoor van probleme tuis of in die wêreld daar buite, sou dit jou fokus aantas. Almal het vreeslik mooi vir ons gesorg.
Wat waardeer jy van Mynhardt Joubert, jou medewenner?
Ons het vir vyf episodes saamgekook. Hy het gesien kook is my sterk punt, en ek dat stilering syne is. Hy het my vertrou, en ek vir hom. Dinge het net bymekaargekom en goed uitgewerk – dit was ’n wenresep. Ons gaan presies dieselfde doen in Makietie, ons nuwe kosreeks, en die resepteboek wat ons aan die reeks gaan koppel.
Wie was jou gunsteling onder die ander deelnemers?
Beslis Hendry Olivier saam met wie ek aanvanklik gekook het. Ek het rêrig goeie vriende gemaak – daar was ’n klomp wonderlike mense.
Het jy ’n meisie en wat soek jy in ’n maat?
Ja, en sy is wonderlik. Iemand wat die kosbedryf verstaan en wat ’n eie, vol lewe het. Dis noodsaaklik dat sy my besige leefstyl moet verstaan, want ’n sjef werk soms tot 18 uur per dag.
Wat is jou gunstelingtyd van die dag?
Ek is beslis nie ’n oggendmens nie, maar moet deesdae al vroeër opstaan. Teen twaalfuur voel dit vir my soos vieruur!
Jou gunstelingplek op aarde?
Daar’s verskeie. Bettysbaai, waar ons ’n strandhuis het, is lekker. Dis ’n heerlike wegbreek, stil, en jy is by die see. Jy kan lekker kuier en vis braai. Maar ek droom van Italië. Seker oor die kos …
Hoe lyk jou toekomsplanne?
Ek vat dinge soos dit kom. ’n Mens weet waar jy wil uitkom, maar dit neem tyd. Ek is nou besig om die Chef Tiaan handelsmerk te vestig.
Het jy tyd vir stokperdjies?
In die stadium het al my stokperdjies met kos te doen. As ek tyd het, hou ek daarvan om ’n bietjie rond te ry en ons omgewing te verken. Ek gaan graag see toe, hou van wyn proe op die wynplase, stap in die berge, piekniek … Maar my dagboek is nou ’n bietjie vol.
Die man agter die koksmes
Hy is op Ermelo gebore, maar woon sedert hy drie maande oud is in Stellenbosch. “My pa, Pieter, is ’n dosent by Elsenburg-landboukollege, en my ma, Sarene, werk by ’n ouetehuis in Stellenbosch. Sy het al die Eikestadnuus se toekenning vir mees inspirerende vrou gewen, onder meer vir haar uitreikprojekte in die Kayamandi-woongebied.” Hy is die enigste kind, en woon nou weer, ná nege jaar by hulle. “Ek is nou so baie weg van die huis, dat ek eintlik net soms ’n bed nodig het om op te slaap.”
Van seunskool toe gaan wou hy niks weet nie, want “daar was nie meisies nie!” Maar daar was ook ’n ander rede. “Die Hoërskool Stellenbosch het huishoudkunde aangebied, die seunskool nie.” Hy het hokkie gespeel vir sy skool se tweede span, maar toe “byt die kosgogga”. Hy het in graad 10 vir die eerste keer ingeskryf vir rooi rose se Toptienerkokkompetisie en was een van die agt finaliste. In 2004, toe hy in graad 11 was, het hy weer ingeskryf en gewen. “Toe het ek gedink kos maak is maklik. Maar jy kan nog nie kos maak op sestien nie, al het jy ook ’n kompetisie gewen!”
Hy het op skool al in restaurante begin werk, en ná matriek ’n loopbaan daarvan gemaak. Hy het al gewerk by van die bekendste restaurante in Suid-Afrika, soos De Volkskombuis in Stellenbosch, Le Quartier Français op Franschhoek en Ouverture in Stellenbosch. Vir ’n wegbreek het hy vir ses maande in Malawi gaan kookopleiding gee by ’n maatskappy wat lodges besit.
Kokkedoor was nie die eerste kompetisie wat hy gewen het sedert sy Toptienerkok-sege nie. In 2009 was hy ’n finalis in ’n Unilever-kompetisie vir junior sjef van die jaar. In 2012 is hy aangewys as Unilever se senior sjef van die jaar én as die Sunday Times se Young Chef of the Year. Tiaan se idee van kitskos is iets soos ’n “lekker tuisgemaakte toebroodjie, of two minute-noedels, so ’n bietjie opgejazz”. Hy koop selde kitskos. “Ek geniet ordentlike, lekker kos net te veel.”