Toeval, Vlam, Hoofstuk 29 deur Martie Swanepoel
Om op te vang met die vorige hoofstukke van Vlam, klik hier
Toeval
“Waar is die stilste deel van die stad waar ek in vrede kan gaan eet?”
Die hotel se toonbankklerk se oë vertel haar dat hy weet sy is die vrou is wat vandag op al wat ‘n voorblad pryk.
“Wil jy wegkom van al die rolprent- en persmense?”
Niekie hang aan sy lippe.
“Ja, asseblief. Net vir ‘n paar uur wil ek normale mense sien.”
Die klerk maak ‘n oproep.
“Ek het ‘n taxi bestel en hy sal jou na ‘n stil deel van die stad neem waar die locals uithang. Daar is ‘n klein village met winkeltjies, koffieplekke en boekwinkels. Ek kan jou verseker geen Hollywood-ster sal daar uithang nie.”
Sy woorde val soos lawende salf op haar rou senuwees. Wie het kon dink so ‘n blink storie vir ‘n vrouetydskrif sal haar so ontsenu? Nee, hel, dan liewer plekke waar sy ten minste weet die mense is gewapen. Hier in die glanswêreld sien mens nie die wapens nie. Jy voel net die dolke in jou rug!
Die village lyk of dit nie eens op dieselfde planeet as die Franse Riviera is nie. Dis die tonikum wat Niekie se gemoed nodig het. Sy snuffel en koop allerlei gemorsies vir Pieta, Henk en haar pa. ‘n Nogal heel skaflike serp vir Claudia. Laasgenoemde is darem ‘n soort anker in haar huidige woesterny.
Die hamburger-restaurant verskyn soos ‘n baken van hoop in haar visie. Sy is moeg vir ontwerpershappies. Sy smag na ‘n groot, vet burger.
Die restaurantjie is knus en gesellig. Die locals lyk stylvol, maar darem meer gewoon.
Die burger, wat die kelner voor haar neersit, is dik en sappig. Die sous loop behoorlik uit. Die patty lyk na regte vleis en die aroma laat haar na braaivleis verlang. Sy hap. Die hemelse geure speel op haar tong. Die bekende. Die veilige.
“Ek dog ek sien gesigte. Niekie? Of is dit Vlam?”
Die sous loop in ‘n dik straal oor haar ken. Die tamatiesous en mosterd vorm ‘n gesellige snor onder haar neus.
Van alle mense, hoekom moet die toeval Duard Wayne na haar stuur as sy in vrede aan ‘n hamburger wil smul?
“Wag, ek kry vir jou ekstra servette. Louis, bring nog serviette na hierdie tafel! Hier is ‘n noodgeval!”
Louis? Nee! Ken hy dan almal in die stad?
“Ek neem aan jy wou kom wegkruip na jou spectacular voorblad-debuut? Jy is mos net gewoond om ander mense op die voorblad te sit? Hoe voel dit om self daar te pryk?”
Voor sy die homp hamburger in haar mond kan kou en wegsluk, gaan hy voort.
“My persoonlike gunstelingfoto tussen die spul is die een waar ek jou soos ‘n knight in shining armour ophelp. Jou cleavage wys so mooi op daardie een!”
Niekie stik byna. Haar oë boor kwaai deur die man se vermakerige glimlag.
Uiteindelik sluk sy die homp kos weg.
“Of, Mej. Branders, het jy ‘n groter hap gebyt as wat jy kan kou toe jy hierdie storie kom doen het? Dis nou, if you will excuse the pun?”
As Niekie uiteindelik ‘n spreekbeurt kry, spoeg die vulkaan weer vuur.
“Jy het my laas beskuldig van ‘n speletjie wat ek speel om jou aandag te kry? Nou is dit my beurt om te vra, Watter spel speel jy? Hoekom het jy doelbewus dieselfde rok vir my gegee as die een wat jy sekerlik geweet het Melissa gaan dra?”
Duard glimlag soos ‘n stout seun.
“Ek neem aan julle onderhoud vanoggend was nogal opwindend? Was daar ‘n cat fight? Ek het die hele oggend aan julle twee gedink. Ek het so gewens ek kan by wees as julle mekaar pak. “
Niekie wonder hoe ver die limiete is waartoe hierdie man haar woede kan dryf.
“So, jy erken jy het die rok met ‘n doel vir my gegee? Hou jy daarvan om met mense se gevoelens te speel?”
Duard lyk nog meer onnutsig.
“O, het ek met jou gevoelens gespeel toe ek die rok vir jou gegee het? Moenie vir my sê ‘n tawwe koekie soos jy het ‘n romantiese rilling gekry toe jy die rok gekry het nie?”
Dit voel vir Niekie of sy in stadige aksie begin beweeg. Sy neem die plastiekhouer met tamatiesous voor haar. Sy lig dit op. Sy mik. Sy spuit. Met genoegdoening sien sy hoe sy haar teiken tref. Reg in die middel van Duard Wayne se selfvoldane gevreet!
Louis en sy span hardloop opgewonde rond om lappe te gaan haal om hul beroemde klant te help skoonmaak. ‘n Paartjie by die tafel langsaan lag kliphard.
Duard vee sy gesig stadig skoon. Hy trek sy gevlekte hemp uit en gee vir Louis geld om vir hom ‘n hemp by ‘n naburige stalletjie te gaan koop.
Daar heers ‘n paar minute stilte. Niekie kyk doelbewus weg van die netjiese torso en sespak. Sy neem haar handsak en wink die kelner nader sodat sy kan betaal.
Duard neem haar hand.
“Wag, sit eers. Ek neem aan jy voel nou beter? Hel, jy is ‘n dramatiese mens! Eers die episode in die reën, toe gisteraand se spectacular val op die rooi tapyt, en nou die woede-uitbarsting. Genade, mej. Branders, ek het altyd gedink die ding oor rooikoppe is ‘n mite, maar nou sien ek. Jy is ‘n kwaadkat. Vlam is die regte naam vir jou. Kan ek jou van nou af Vlam noem?”
Niekie gluur hom net aan. Sy kyk weg as hy die bont toeristehemp aantrek.
“Toe? Wat dink jy van my nuwe voorkoms?”
Sy kyk na die bont blomme van die goedkoop hemp wat sekerlik uit ‘n massa-fabriekslyn in China kom.
Hy glimlag en poseer kamma vir haar.
“Jy kan my nou maar afneem en die foto aan die modepolisie verkoop. Dan is ons quits?”
Hy vra haar nie eens of sy nog wil bly nie.
“Louis, bring vir my en my vriendin ‘n bottel van jou goedkoopste beste wyn.”
“Vriendin? Ek is beslis nie jou vriendin nie. Vriende doen nie wat jy gisteraand aan my en Melissa gedoen het nie!”
Duard lag heerlik.
“Maar dit was skreeusnaaks!”
“Het jy daardie verslaggewer omgekoop om my te pootjie?”
Hy lyk kamma ernstig.
“Wraggies! Het iemand jou gepootjie?”
Na die tweede glas wyn is Niekie minder kwaad. Teen die derde glas roep sy halt.
“Ek moet vanaand weer gaan werk. Gaan jy ook na The Mission se première?”
Duard wink Louis weer nader.
“Bring my motofietshelms, ou pel, ek moet hierdie meisie terugvat na haar hotel. Sy moet nog ‘n uitrusting gaan uitsoek waarmee sy moles kan maak.”
Het jy geweet?
Ons het ’n GRATIS voorlesing waarna jy enige tyd kan luister van ’n ander vervolgverhaal uit die pen van Martie Swanepoel. ’n Nuwe episode van Botox, Barbies en Bietse word elke Donderdag om 09h00 vrygestel. Voorgelees deur Elize Cawood. Dis groot pret – begin sommer nou luister.