Tinarie van Wyk Loots, Johann Symington en Erns Grundling vertel oor hul reise in Japan. Hooffoto: pexels
Tinarie van Wyk Loots oor die Kumano Kodo, ’n liefdesmeditasie en Tokio
Ons het met Tinarie van Wyk Loots oor haar ervarings in Japan gesels vir ons Augustus 2019-uitgawe. Hier is ’n uittreksel uit Suzanne Kotzé se onderhoud met Tinarie oor haar belewenis. Loer hier om agter die skerms by ons voorbladfotosessie met Tinarie te kuier.
Ná ’n uitdagende jaar in 2018 waarin Tinarie baie hard gewerk het, en haar verlowing aan die akteur Erik Holm ook verbreek is, het sy vir die eerste keer in ’n dekade behoorlik gaan vakansie hou.
Japan was een van die stopplekke.
“Ek het nog altyd iets van ’n obsessie met Japan en sy kultuur gehad,” vertel sy. “Kan jy glo in die middel van Tokio is daar hierdie woud wat sowat honderd jaar oud is, en as jy daar binne is, is dit tjoepstil. Jy sou nooit kon dink jy is in ’n besige stad nie,” vertel sy.
“’n Mens is ook geneig om aan Japan as super-modern te dink, maar veral in die landelike gebiede is mense nog baie tradisioneel.”
Toe sy daar was, het sy die bekende Kumano Kodo-pelgrimstog stoksielalleen aangedurf.
“Sommige dae het baie ure verbygegaan sonder dat ek ’n enkele mens op die roete gesien het. Daar gebeur iets met jou wanneer jy stap, eers dink jy baie, want jy bring baie tyd alleen deur, en later dink jy aan niks. Dit is so stil dat jy blare hoor val en net bewus word van die natuur. Daar is ’n hele paar bedevaartsplekke op die roetes, en aangesien dit deel van die staptog is, het ek ’n liefdesmeditasie, wat ’n vriendin vir my gestuur het, by elkeen vir myself herhaal.”
Die liefdesmeditasie fokus daarop dat jy jouself eers moet liefhê en kan versorg voor jy vir ander kan sorg. Daarom begin elke mantra met “ek”. Wanneer jy selfliefde bemeester, kan jy die “ek” deur “hy/sy” vervang en aan iemand dink wat jy liefhet, daarna iemand neutraal, en heel laaste iemand wat jou dalk laat ly het.
‘Ek glo aan wabi-sabi, die Japanse filosofie dat as iets gebreek is, jy dit met goud regmaak sodat jy kan sien waar die stukkende plekke was. Omdat jy dit herskep het, maak jou foute jou mooi’ – Tinarie van Wyk Loots
Die liefdesmeditasie
Toe sy in Japan was, het Tinarie die bekende Kumano Kodo-pelgrimstog stoksielalleen aangedurf.
“Daar is ’n hele paar bedevaartsplekke op die roetes, en ek het hierdie liefdesmeditasie, wat ’n vriendin vir my gestuur het, by elkeen vir myself herhaal.”
“Dit fokus daarop dat jy jouself eers moet liefhê en kan versorg voor jy vir ander kan sorg.”
- Mag ek vredig, gelukkig en lig na liggaam en siel wees.
- Mag ek veilig wees en nie beserings opdoen nie.
- Mag ek vry wees van woede, kwellings, vrees en angstigheid.
- Mag ek met begrip en liefde na myself kyk.
- Mag ek die bronne van vreugde en geluk in myself herken.
- Mag ek leer om die bronne van angs, soeke en waan in myself te herken.
- Mag ek weet hoe om dié wat my gelukkig maak te herken en daagliks te voed.
- Mag ek vars, bestendig en vry leef.
- Mag ek vry wees van verkleefdheid en afkerigheid, sonder om ongeërg te wees.
Lees ook: Tinarie verklap haar skoonheidsgeheime
Johann en Hennie Symington vertel oor reise in Japan
Ds. Johann Symington, wat onder meer twintig jaar ’n rubriekskrywer vir ‘rooi rose’ was, werk die afgelope vyf jaar in ’n gemeente in Tokio. Jacqueline Leuvennink het op besoek aan Japan by hom en sy vrou, Hennie, gaan inloer.
Hierdie is ’n uittreksel van ’n artikel wat oorspronklik in die Augustus 2018-uitgawe van rooi rose verskyn het. Klik hier om die volledige artikel te lees.
Die taxi swenk later af in ’n klein straatjie waar ’n handeswaaiende Hennie ons tegemoet loop. Dis vir ’n Westerling haas onmoontlik om hier ’n straatnaam of adres gelees te kry. Ons is verlig om te weet ons is op die regte plek.
Johann kom op sy sokkies na ons toe aangeloop. Een van die eerste gebruike wat ’n mens hier onder die knie moet kry, is dat jy jou skoene by die ingang van die huis parkeer. En die Symingtons kon nog altyd die toets slaag van aanpas en inpas waar die lewe dit van hulle verg.
“Nie dat ons nie soms kleigetrap het nie!” vertel Johann.
“Die Japanse kultuur het baie dinge wat vir ons vreemd is. Jy snuit byvoorbeeld nie jou neus in die openbaar nie, en jy hou by baie spesifieke kuier- of besoektye. ’n Gemeentelid wat ’n kenner van die Japanse kultuur is, kon ons darem help. Die taalkwessie kan ook selfs ’n eenvoudige ding soos ’n besoek aan ’n supermark ’n redelike uitdaging maak. Jy kom by die huis met jogurt pleks van die melk wat jy eintlik wou gekoop het. En dan moet jy by geleentheid kruisbeen of op die knieë by ’n lae tafeltjie sit. Een so ’n ete van sowat vier uur het my byna dood gehad!”
Hy lag. “Twee dae ná ons aankoms hier sleep Hennie my mos dokter toe omdat ek ’n pyn op die bors het. En daar raak die vrouedoktertjie erg verleë toe sy my ondersoek. Sy ken duidelik nie ’n man met ’n maag nie, word bloedrooi in die gesig by aanskoue van die vreemde verskynsel, en lag toe maar so effens verbouereerd agter haar handjie … ”
Ons begin praat oor die huise in hul woonbuurt wat almal betreklik nuut lyk. “Benewens die skade wat die atoombomme oor Hirosjima en Nagasaki aangerig het, is groot dele van Tokio ook aan die einde van die Tweede Wêreldoorlog verwoes,” vertel Johann. “Van ons kerk het net ’n koperkollektebord oorgebly. Dit en al die natuurrampe, soos vulkaniese uitbarstings, aardbewings en tifone wat deel van hul werklikheid is, verklaar deels waarom die Japannese ondanks welvaart so hardwerkend is en spaarsamig leef. Met ’n steeds ouerwordende bevolking raak die las op die jongmense om hul bejaardes te versorg ook al groter.”
Die Symingtons het betreklik gou op dreef gekom. Japan met sy homogene bevolking is ’n ou beskawing waar waardes soos hoflikheid, eerlikheid en respek vir mekaar hoog aangeslaan word. “Dis verfynde, hardwerkende mense. En ja, ons sluit nie ons deure nie.”
Daar was ook nuwe, sonderlinge verbintenisse om te sluit. Een van die gemeentelede, die 75-jarige Janet Takeyama, is ’n Amerikaner wie se oorlede man, Yasuo, ’n oorlewende van Hirosjima was. Sy suster het op haar beurt Tokio se bombardering oorleef en is later met ’n Amerikaner getroud wat weer Japan se aanval op Pearl Harbour oorleef het. Dit was deurslaggewende gebeure in die geskiedenis van die wêreld wat die lewe van individue ingrypend geraak het. En aspekte wat vir Johann, immer geboei deur mense en hul verhale, sy taak interessant bly maak.
Om op hul ouderdom so ’n groot sprong oor die aardbol heen te maak is iets waarvoor baie mense nie sal kans sien nie. Maar die saadjie is jare gelede al by Johann gesaai toe hy in 1998 drie maande vir International Ministries by ’n gemeente in China gaan aflos het. Vanweë die nomadiese bestaan van soveel mense wat vandag oor die aardbol beweeg, is daar reeds sowat tien-
duisend soortgelyke internasionale gemeentes wêreldwyd.
“As dit net van my afgehang het, sou ek dalk ’n meer eksotiese bestemming soos ’n luilekker-eiland uitgesoek het. Tokio het trouens nie vir my baie interessant geklink nie. Dis hierdie yslike metropool – die groter Tokio-Yokohama-gebied met sy byna veertig miljoen inwoners is een van die mees dig bewoonde gebiede op ons planeet. Ek het net besluit om aansoek te doen omdat ek met my naderende aftrede besef het ek is nog nie gereed om die werk te laat vaar waarvoor ek so lief is nie.”
Die Tokyo Union Church is sedert sy ontstaan in 1872 net deur Amerikaanse predikante bedien. Maar ná Japan se ekonomiese bloeitydperk vanaf die jare sestig tot tagtig het die ekonomie (steeds naas die VSA en China die grootste ter wêreld) begin stagneer. Dit is tans ’n minder aantreklike bestemming vir internasionale maatskappye. Die verwoestende aardbewing en tsoenami in 2011 in die Sendai-gebied (sowat 350 km noord van Tokio), en die verhoogde radio-aktiwiteit weens die ontploffing van ’n kernkragstasie het ook daartoe bygedra. Die gemeente het gesukkel om ’n geskikte kandidaat te kry.
Johann het sy voelers uitgesteek. Tot sy en Hennie se verbasing is hy ’n kontrak vir vier jaar aangebied, en dis sedertdien met nog twee jaar verleng. Met ons besoek sit die kerk gepak, mense van minstens 35 nasionaliteite in die gehoor.
“Pastor Johann” het vir hom met sy taak- en veral mensgerigtheid weer ’n pad na harte gebaan. Die gemeente is onder sy leiding onder meer aktief betrokke by die heropbou van kerke in die aardbewinggebied.
Oor wat hul toekoms en ’n volgende fase gaan inhou, hang daar nog ’n klompie vrae. Dit gaan weer eens swaar wees om mense in wie se wel en wee jy belê het, agter te laat. Maar in Suid-Afrika
wag hul kinders. En nou ook kleinkinders. En ’n lewenstaak wat nooit heeltemal afgehandel is nie.
Vir die volledige storie oor die Symingtons in Japan, klik hier
Erns Grundling oor Elders, Japan, sy moet-sien-lysie en sy pelgrimstogte deur die land
Zoë Salzwedel het onlangs met die bekroonde joernalis en aanbieder van die kykNET-reeks, Elders, gesels oor hul reise in Japan. Klik hier om die volledige artikel te lees.
Wat het jou op Japan laat besluit?
Ek het in 2017 ’n eerste Elders-reeks aangepak op die Camino-pelgrimstog in Spanje. Ek het egter geweet wat om te verwag toe ons daardie reeks geskiet het, want ek was al tevore op die Camino. Toe ek begin kyk na bestemmings vir ’n tweede reeks, wou ek graag iewers heen reis waar ek nog nooit was nie en waar ek heeltemal uit my gemaksone gaan wees. Ek het ook gedink ’n reeks in Japan sal tot Suid-Afrikaanse gehore spreek, veral met die Rugbywêreldbeker om die draai en die Olimpiese Spele in Tokio in 2020 wat voorlê.
Hoe het jy die land ervaar? Wat maak Japan uniek?
Dit was eenvoudig oorweldigend, maar nie op ’n negatiewe manier nie. Japan se kultuur is baie eiesoortig, omdat dit ’n eilandnasie is wat tydens die Edo-periode (1603-1868) vir meer as 200 jaar basies geïsoleer was en bitter min kontak met die buitewêreld gehad het. In terme van wêreldgeskiedenis het hierdie redelik onlangs gebeur. Die Japannese self is wel besonder vriendelik, hoflik en behulpsaam. Dit het my opgeval hoe stil dit op die treine was – niemand praat hard op ’n foon nie, niemand eet of drink in die openbaar nie, en die strate is skoon en netjies. Veral Tokio, ’n metropolitaanse gebied met meer as 15 miljoen inwoners, is besonder ordelik, al is daar altyd baie mense op straat. Iets wat ek dikwels gehoor het in Japan is die frase “alles werk”, en dit voel regtig so.
Vertel vir ons van die twee pelgrimstogte wat jy aangepak het.
Daar is verkeie pelgrimstogte in Japan. Ek het op die Kumano Kodo besluit, aangesien dit die Camino in Spanje se susterpelgrimstog is. As jy albei voltooi, kry jy ’n Dual Pilgrim-sertifikaat. Die Kumano Kodo was baie uitdagend, want dit is in die berge van die Wakayama-prefektuur. Ek het die steiltes en terrein onderskat – dit is ’n moeiliker staptog as die Camino, maar die natuurskoon en uitsigte was werklik besonders.
Ek het ook die Nakasendo-pelgrimstog gestap, ’n ou handelsroete tussen Kyoto en Tokio. Wat die terrein betref? Wel, dit was heelwat makliker as die Kumano Kodo met pragtig gerestoureerde dorpies soos Magome, Tsumago en Narai. Die woudtonele op die Nakasendo, met die herfs in volle swang, was wonderlik.
Stel vir ons ’n lys op van die top 10 plekke in Japan wat mense beslis moet besoek as hulle Japan wil gaan verken.
- Tokyo Skytree (hoogste toring op aarde)
- Shibuya Crossing in Tokio (staan by die besigste voetoorgang op aarde)
- Osaka Castle (lieflike park en kasteel)
- Dotonbori Street (Osaka se straatkos-hoofkwartier)
- Nara Deer Park (voer bokkies in ’n park – heerlike uitstappie vir kinders)
- Hiroshima (besoek die Vredespark en museum)
- Miyajima-eiland (vaar met ’n veerboot na die eiland en kyk na die drywende torii-hek)
- Kyoto (kyk of jy ’n geisha op straat sien in die buurt Gion)
- Kumano Kodo (gaan stap die Camino se susterpelgrimstog)
- Toyota City (wonderlike natuurskoon en aktiwiteite in die omgewing)