Tieners en slaap: Wat jy moet weet

Deur Mariette Snyman

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Een van die kwessies wat ’n gereelde toutrekkery tussen ouers en tieners veroorsaak, is slaap: Hoeveel, hoe laat, met of sonder ’n selfoon, noem maar op.

“Hoewel die slaapwetenskap betreklik jonk is, is daar reeds baie navorsing oor tieners en slaap gedoen,” sê Tanya Muir, ’n Johannesburgse arbeidsterapeut met ’n spesiale belangstelling in slaapgesondheid. “Ouers kan gerus van dié bevindings kennis neem en dit met hul tieners deel. Die beste motivering vir gesonde keuses is immers om te verstaan wat in jou beste belang is!

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

“In die algemeen word individue van 12 tot 20 jaar as tieners beskou. Vir dié groep word agt tot tien uur se ononderbroke slaap per nag aanbeveel. Kry hulle dit? Nee! Die meeste tieners slaap ses tot sewe uur per nag, of minder.

“Slaapdeprivasie beteken jy kry te min slaap of lae gehalte-slaap en dat dit die manier waarop jy bedags funksioneer, benadeel. Dit kan op kognitiewe, emosionele of fisieke vlak uiting vind. By tieners sien ons dit onder meer in ’n afname in akademiese prestasie, swak oordeelsvermoë of geïrriteerdheid.

“Slaap is noodsaaklik vir inligtingsverwerking en onthou. Leer het nie net te doen met die bou en versterking van neuronetwerke nie, maar ook met die wegsnoei van ou konneksies om vir nuwes plek te maak. Dié snoeiproses vind plaas terwyl ons slaap.

“Ouers bekommer hulle dikwels oor tieners se oordeelsvermoë. Breinontwikkeling word eers teen ongeveer 25 jaar voltooi. Die voorkant van die brein wat onder meer met impulsbeheer, komplekse denke en langtermynbeplanning te make het, ontwikkel heel laaste. Slaapdeprivasie kan tieners se bestaande besluitnemingsvermoë benadeel.

“Ons weet hoe intens tieners emosies kan ervaar. Emosionele regulering vind hoofsaaklik tydens REM-slaap plaas en ’n goeie nagrus help om buierigheid te beperk.

“Slaapdeprivasie kan geestesgesondheidstoestande soos depressie vererger, en andersom – depressie kan tot slaapdeprivasie bydra.”

“Op fisieke vlak maak slaapdeprivasie mense meer vatbaar vir gewigskwessies, hoë bloeddruk, kardiovaskulêre siekte en kanker.

“Soos ons weet, kenmerk hormoonskommelings die tienerfase. Die regulering van hormone gebeur hoofsaaklik terwyl ons slaap. Slaapdeprivasie kan fisieke groei of herstel ná beserings belemmer. Dit kan ook tot ’n insulienwanbalans lei, wat die risiko van diabetes en obesiteit verhoog. By meisies kan slaapverlies tot swaarder menstruasie of ongereelde maandstondes bydra. Dit word ook met inflammasie en laer pyntoleransie verbind.

“Aan die ander kant kan te veel slaap op ’n slaapstoornis of ‘n geestesgesondheidstoestand soos depressie of bipolêre siekte dui. Hou in gedagte dat individue verskil en dat siek mense meer slaap nodig het.”

Lees ook: Tieners en stilstuipe

Tieners se slaapritme en die skoolstelsel

Tanya vertel om ’n rede waaroor wetenskaplikes nog onseker is, verskil tieners se sirkadiese ritme of natuurlike slaaphorlosie van dié van kinders en volwassenes.

“Hulle is gerat om tot twee uur later as volwassenes te gaan slaap en op te staan. Waar volwassenes byvoorbeeld om 22:00 slaapgereed sal wees en geredelik tussen 05:00 en 07:00 sal opstaan, word baie tieners eers teen middernag vaak. Omdat skoolure vereis dat hulle tussen 05:00 en 07:00  opstaan, lei dit tot slaapdeprivasie,” sê sy.

“Ouers mag voel tieners wat later wil wakker bly, is net moedswillig, maar hulle word werklik eers later vaak. Hul voorliefde vir aanlyn kuiers en -speletjies of faktore soos huiswerk, studie of ’n deeltydse werk kan hul slaaptyd natuurlik nóg verder uitskuif.

“Sekere Amerikaanse state het tieners tegemoet gekom deur hoërskole soggens later te laat begin. Dié skuif is aangevuur deur studies wat getoon het slaapdeprivasie hou verband met swakker akademiese prestasie, ’n hoër ongeluksyfer en ’n groter voorkoms van selfdood en depressie by tieners.”

Stimulante, skermtyd en musiek

Slaapdeprivase moedig die gebruik van stimulante soos kafeïne aan. Tieners drink byvoorbeeld energiedrankies, koladrankies en koffie om wakker bly. Soms raak dit ’n bose kringloop; kafeïne belemmer hul vermoë om aan die slaap te raak en die volgende dag neem hulle eenvoudig meer kafeïne in, vertel Tanya.

Sy noem in die VSA, waar tieners reeds op 16 jaar ’n motorlisensie kan kry, dui navorsingsresultate op ’n hoër voorkoms van motorongelukke weens drowsy driving in hierdie ouderdomsgroep.

“In huise met tieners vind talle skermutselings oor skermtyd plaas. Selfone bly dikwels aangeskakel, en daar is moontlik ’n rekenaar of TV-stel in die slaapkamer.

“Dis algemeen bekend dat die blou lig verbonde aan elektroniese toestelle die vervaardiging van melatonien, wat tot vaakheid lei, kan inhibeer. Hierdie faktor speel in werklikheid ’n kleiner rol as die inhoud van flieks, sosiale media, ensovoorts. Gewelddadige reekse en videospeletjies of boeliegedrag op sosiale media kan tieners angstig maak. Enige werklike of verbeelde bedreiging aktiveer die veg- of- vlugreaksie deur die streshormoon kortisol vry te stel. Hoë kortisolvlakke werk die produksie van melatonien teë en iemand wat hiperwaaksaam is, kom moeilik tot rus.”

Lees ook: Hoe om ’n trae kind te motiveer

Tanya beantwoord nog vrae:

Is dit ’n goeie ding as tieners met musiek aan die slaap raak?

“Dis moeilik om hierdie vraag te beantwoord omdat musiek en slaap komplekse verskynsels is. Verskillende soorte musiek stel verskillende soorte klankgolwe vry. Slaap behels verskillende slaapsiklusse wat met ’n verskeidenheid breingolwe gepaardgaan. As jy na musiek luister terwyl jy slaap, verander die interaksie van die klankgolwe met jou breingolwe voortdurend. Dit verklaar hoekom navorsingsresultate nie ’n absolute antwoord kan gee op die uitwerking van musiek op slaap nie.

“As ons na ervaring-gebaseerde bewyse (anecdotal evidence) kyk, is die algemene konsensus dat ontspannende musiek kalmerend op die senustelsel kan inwerk. As dit die geval is, kan dit mense help om aan die slaap te raak. Dit gebeur nie wanneer die musiek die veg- of vlugreaksie prikkel nie! Individue verskil, maar sagte musiek sonder lirieke met ’n stadiger tempo is ’n verstandige keuse.

“Ek sou voorstel dat die musiek aan ’n tydmeganisme gekoppel word sodat dit ná ’n ruk afskakel – as dit naglank speel, kan dit die slaapsiklus nadelig beïnvloed.

“Om die kwessie van tieners en slaap op te som: Die tienerfase is presies dit – ’n fase wat verbygaan. Die belangrikste is dat ouers tieners se ontwikkeling en leefwêreld verstaan en hulle sover moontlik ondersteun.”

Tanya Muir is die eienaar van The Sleep OT-praktyk: www.sleep-ot.com

Lees ook: 10 wenke teen stres wat werk

Só kan tieners beter slaap

Hier is Tanya Muir se aanbevelings vir beter slaapgesondheid:

  • Gebruik die uur voor jy bed toe gaan om jou biologies op die oorgang van wakkerheid na slaap voor te berei. Skakel die skerms af, verdoof die ligte en doen iets rustig soos om te lees, te strek of ’n warm bad te neem. 
  • Die ideaal is om jou brein te leer om jou slaapkamer slegs met slaap te assosieer. Doen sover moontlik huis- en leerwerk elders en moenie TV-stelle, selfone of rekenaars in die slaapkamer toelaat nie. Wat kan werk, is om ’n huisreël te hê dat alle toestelle saans op ’n sekere tyd afgeskakel word en dat die héle gesin – ouers inkluis – hierby hou.
  • Anders as wat baie mense dink, kan ons nie slaap “inhaal” deur byvoorbeeld laat te slaap oor ’n naweek om vir laat nagte te vergoed nie. Dit werp net die sirkadiese ritme omver en veroorsaak social jetlag. ’n Middagslapie of nap moet beskou word as ’n hulpmiddel om slaapdruk te verlig en nie as ’n manier om verlore slaap in te haal nie.
  • Kafeïne, nikotien en alkohol kan ’n goeie nagrus verhinder. Hoewel individue verskil, is dit verstandig om gebruik ’n paar uur voor slaaptyd te staak.
  • Gesonde eetgewoontes en ’n vorm van fisieke oefening in die middag dra tot ’n goeie nagrus by.
  • Kry jou sirkadiese ritme in ’n roetine deur elke dag dieselfde tyd wakker te word én te gaan slaap. Navorsers stel voor dat jy selfs oor naweke nooit meer as twee ure van hierdie tye afwyk nie. As jy weeksdae om 05:00 opstaan, moet jy oor naweke nie later as 07:00 wakker word nie.
  • Melatonien is die hormoon wat die slaap-/wakkerwordsiklus reguleer. Melatonienproduksie reageer op die teenwoordigheid of afwesigheid van helder lig. Blootstelling aan veral sonlig en algehele donkerte op die regte tye help om ’n stabiele sirkadiese ritme te vestig.

Om tieners se natuurlike “geremde” slaapritme (delayed sleep-wake phase disorder) by vroeë skooltye aan te pas, is daar drie opsies:

  1. Helder ligterapie (bright light therapy) kan die ritme help aanskuif. Dié tegniek moet liefs met die hulp van ’n kenner toegepas word omdat dit ’n protokol met spesifieke skuiwe behels wat vir elke individu verskil. As dit nie korrek toegepas word nie, kan dit ondoeltreffend wees of selfs die toestand vererger. Die persoon word soggens toenemend vroeër aan helder lig blootgestel, byvoorbeeld deur die gebruik van SAD-ligte van 5 000 tot 10 000 LUX, en saans vroeër aan donkerte. (Tanya is opgelei in hierdie tegniek en bied dit in persoon of aanlyn aan. Dit behels vyf tot agt sessies omdat vordering deurgaans gemonitor moet word.)
  2. Chronoterapie behels die ingrypende verandering van ’n individu se slaapskedule en kan as ’n laaste uitweg toegepas word – altyd deur ’n kenner. Mense met ’n geneigdheid tot bipolêre siekte, depressie en ander geestesgesondheidstoetsande is nie goeie kandidate hiervoor nie.
  3. Melatonien, wat in Suid-Afrika slegs op voorskrif verkry kan word, kan ook gebruik word om die slaapritme te verskuif. Dit moet deur ’n kenner voorgeskryf word omdat kort- sowel as langwerkende melatonien beskikbaar is en die tydsberekening van toediening afhang van die individu, en of insomnia of ’n slaapstoornis betrokke is.

Lees ook: 14 redes hoekom jy sleg slaap en wat jy daaraan kan doen

Deel
Gepubliseer deur
Karlien Meiring

Onlangse plasings

10 redes waarom jy die September-uitgawe van rooi rose móét lees!

  Melinda hou aan groei    Die aktrise Melinda Viljoen het die afgelope paar…

1 day Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met Jacques Bessenger oor ‘Een keer om die son’ se lesse

Jacques Bessenger is vanjaar as beste manlike byspeler in ’n TV-drama (vir Hartklop) en beste…

1 day Gelede

Waarom dit nodig is om saam met ‘n werwingsagentskap in Suid-Afrika te werk vir besigheidsgroei

In die hedendaagse vinnig veranderende sakewêreld, staan Suid-Afrikaanse maatskappye voor toenemende druk om mededingend, buigsaam…

1 day Gelede

‘Diepe waters’ se Gys en Zelda: Ou liefde roes nie

Gys “Ek wil by jou wees, maar ons moet mekaar vergewe vir die verlede. Kom…

2 days Gelede

Die beste gebraaide broodjies denkbaar!

Jy het brooddeeg vir die resep nodig, maar as dit tyd knap is, kan jy…

2 days Gelede

Gluten- en eiervrye sjokoladekoekies

Bestanddele   125 ml (½ k) sagte botter 125 ml (½ k) suiker 110 ml…

2 days Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.