Deur Mariette Snyman. Foto’s verskaf en deur Bill Waters.
Wat het jou aangespoor om in Letters to Iris te fokus op demensie en die uitwerking wat dit op verhoudings het?
Ek sou nie sê demensie is die fokuspunt van my roman nie. Ek dink aan die fokuspunt van Letters to Iris as liefde. ’n Sterk vriendskap tussen twee vroue staan sentraal in die roman. Ek het die versorgingsoord waarheen Iris moes verskuif, gebruik om Tess en Gigi aan mekaar voor te stel omdat twee vroue van verskillende ouderdomme en in verskillende fases mekaar nie normaalweg sou ontmoet nie. Iris is Tess se geliefde ouma, en haar demensie beteken sy is in ’n sekere sin reeds vir Tess verlore. Dit skep misterie, frustrasie en hartseer. In ons samelewing ly al meer mense aan demensie, en hulle geliefdes moet die feit dat hulle stadigaan “wegraak”, verwerk. Ek moes toesien hoe my man albei sy ouers aan hierdie vernietigende siekte afstaan; ek het die tragiek daarvan eerstehands ervaar. Die tema het vir my relevant gevoel.
Vertel ons meer omtrent die titel van jou boek.
“Letters to Iris” verwys op die oog af na ’n bondel briewe wat verskeie mense aan Iris geskyf het toe sy baie jonger was. Die briewe word deur Tess ontdek en hulle gee Tess ’n begrip vir Iris wat sy nie vantevore gehad het nie. Hulle word ook ’n soort gids vir Tess se eie lewe. Daar is nog ’n betekenis aan hulle verbonde, maar jy moet die roman klaar lees om dit te verstaan, en ek wil dit nie vir jou bederf nie!
Ek het gelees jy begin graag ’n roman deur jou karakters te omlyn en die einde te skryf. Wil jy daarop uitbrei?
Ek skryf altyd vroeg in die skryfproses ’n einde. Dit verander later natuurlik weer, maar ’n “bestemming” vir my storie help my om op die plot te fokus en elke karakter te neem na waar hulle moet wees. Ek maak deeglike karaktersketse in my notaboek, wat ook help omdat elkeen later hul eie persoonlikheid aanneem en vir my byna soos regte mense word – asof hulle werklik vir my hul stories vertel. Ek hou daarvan om te dink dat dit hulle vir ’n leser ook meer werklik en oortuigend maak.
“Daar is dae wanneer jy eerder enigiets anders sal doen, en dan moet jy jou dwing om voor die skerm te sit en skryf”
Wat is jou grootste uitdagings wanneer jy ’n roman bedink en skryf?
Dit moet geskryf word! Daar is dae wanneer jy eerder enigiets anders sal doen, en dan moet jy jou dwing om voor die skerm te sit en skryf. In die tweede helfte van die roman is daar gewoonlik ’n punt wanneer die verhaal ’n eie momentum kry; dan is daar minder “vandag-moet-ek-myself-forseer“-dae. Altans, dis hoe dit vir my werk. Dan is daar ’n paar ander klein jakkalsies – ek haat dit om name vir karakters uit te dink, en ek vaar regtig sleg met titels.
En jou grootste vreugdes?
Partykeer skryf jy ’n hoofstuk of ’n toneel wat waarlik vir jou werk, en dan is dit ’n wonderlike dag. Of jy stryk ’n probleem uit wat ’n oponthoud veroorsaak het. Baie keer gebeur dit terwyl jy stryk of stort eerder as voor die rekenaar – en dít voel ook goed! En om ’n sug van verligting te slaak wanneer jy “Send” druk om die finale manuskrip weg te stuur; dis ’n ongelooflike gevoel. Dan kan jy jouself ’n oomblik van trots en bevrediging gun en ’n bietjie feesvier. Dis regtig lekker om jou roman op ’n rak in ’n boekwinkel te sien, maar die heel beste is wanneer iemand wat jy nie ken nie vir jou kom sê jy het hulle op een of ander manier aangeraak deur dit wat jy geskryf het. Dis magic.
Wanneer weet jy jy het jou beste werk gelewer?
My ambisie is dat my werk my leser moet aangryp. Die twee grootste komplimente wat ek kan kry, is (1) dat iemand my roman bêre vir ’n tyd wanneer hulle ononderbroke leeskans gaan hê, en (2) dat hulle dit vir iemand aanbeveel of gegee het om te lees. Dan voel dit vir my of ek gewen het!
Ervaar jy ooit writer’s block of die vrees dat jy nie meer iets sal hê om oor te skryf nie?
Verseker! Dis jare sedert ek my laaste roman gepubliseer het. Ek het die eerste sewe vinnig na mekaar geskryf, maar toe het ek ’n selfvertroue-krisis ervaar, en ek kon geen storie vind wat ek graag wou skryf nie. Ek was bang dit sou vir altyd so aanhou, maar toe maak Iris haar verskyning – dankie tog! Sy het daarop aangedring dat haar storie vertel word.
Hoe beskou jy die uitdagings wat vroue in die gesig staar?
Ek dink vroue het al baie ver gekom, en ek is bly daaroor. Maar dit beteken nie daar lê nie nog ’n lang pad vir ons voor nie. Gelyke regte, gelyke geleenthede, gelyke besoldiging, loopbaanopsies, alledaagse seksisme … daar is nog ’n lang lys kwessies wat aangespreek moet word. Ek hoop ek het my dogters grootgemaak met waardering en dankbaarheid vir dit wat reeds vermag is, en die begeerte om hierdie werk voort te sit. Ons is trots daarop om onsself feministe te noem.
Ek het my eerste sewe romans vinnig na mekaar geskryf, maar toe het ek ’n selfvertroue-krisis ervaar
Wat wens jy jou dogters toe?
Ek het net een wens: dat hulle goeie en gelukkige mense sal wees. Dit mag eenvoudig klink, maar ek dink nie dit is nie. “Happiness” is ’n komplekse woord, en die roete wat daarheen lei kan ’n kronkelpad wees – maar die soeke na geluk moet nooit ten koste van ander wees nie.
Watter veranderinge sou jy graag in die wêreld wou sien, en voel jy jou romans kan ’n positiewe rol speel?
Ek hou daarvan om te dink dat die veranderinge wat ek in die wêreld wil sien waarskynlik dié is wat die meeste mense sou wou sien: vrede, geregtigheid, regverdigheid, gelykheid en verantwoordelike omgang met die omgewing. Ek sou graag wou sien dat mense mekaar met welwillendheid, respek en verdraagsaamheid behandel. En met meer liefde. Ek probeer my lewe leef so goed ek kan. En wat my romans betref, hoop ek hulle is onderhoudend en ’n plesier om te lees!
Letters to Iris (Penguin Random House UK, 2018) is by goeie boekwinkels en aanlyn beskikbaar.