Volgens Globocan se kankernavorsing is borskanker die tweede mees algemene soort kanker wat daar is. Dit is verreweg die algemeenste soort kanker onder vroue. In 2012 is ’n geskatte 1.67 miljoen vroue met borskanker gediagnoseer. Verder is borskanker vyfde op die ranglys as dit kom by die oorsaak van dood. Hierdie syfers is skrikwekkend.
Ek stap by ’n oorvol wagkamer in. Daar is net een sitplek oor. Ek maak my tuis en bekyk my mede-kankerstryders onderlangs. ’n Polisievrou stoot ’n gevangene op ’n rolstoel by die wagkamer in. Kanker is nie kieskeurig nie. Anderkant sit ’n goedige oompie wat sy oog aan kanker afgestaan het.
Anders as in die chemoterapielokaal is die mense hier nou nie eintlik vrolik nie. Vreemd. Bestraling is nie so aardig soos chemoterapie nie en die newe-effekte is ook nie erg nie. Meeste van hulle is amper kant en klaar met die kankerbehandeling. Waarom dan die suur gesigte?
Is die lang gesigte dalk omdat die mense weet dat hulle binnekort sonder die troos van mediese personeel se onderskraging sal moet klaarkom? Vir my voel dit asof mens vinnig gespeen word van onderskraging hier in die bestralingseenheid. Die personeel skarrel. Hulle werk in skofte tot sewe-uur saans om by al die pasiënte se terapie uit te kom. Vyftig mense word elke dag deur die worsmasjien gestoot om moeg en seer anderkant uit te kom. En dit is net by hierdie eenheid. Daar is eenvoudig nie tyd vir mooipraatjies nie. Ziggy zap vir ’n vale.
Miskien is dit omdat mens na behandeling met die gewone, alledaagse lewe sal moet aangaan. Alles is dieselfde. Dinge by die kantoor het nie uitmekaargeval omdat jy minder produktief was nie, die gesin en vriende gaan jou weer soos die óú ma, suster, vriendin, kollega behandel – en jy weet dit. Dit is tog net natuurlik.
En tog is jy nie meer die persoon van voor die diagnose nie. Jy is deur ’n lewensveranderende ding en die emosionele nagevolge gaan waarskynlik nog vir jare met jou wees. Ander pasiënte vertel my van die paranoïa wat jou beetkry. Vir sommiges is dit blywend. Elke nuwe skeet veroorsaak glo ’n titseltjie vrees. Beteken dit dat kanker op ’n ander plek sy kop uitgesteek het? Gaan alles van voor af begin? Vir my is die aanduidings dat my estrogeenvlakke styg ietwat kommerwekkend. My kanker hou van estrogeen en progesteroon. Soveel soos wat ek deesdae weer van roomys hou. En, verdomp, kanker hou ook vreeslik baie van suiker.
Interessant hoe die mense wat na die bestraling (weer) begin met chemo vroliker lyk as dié wat nog net ’n paar dae se behandeling oor het. Vir hulle gaan die stryd miskien nog vir ’n wyle voort, maar daar is slim mense wat elke dag met bloedtoetse seker maak dat die kanker nie orig genoeg is om terug te kom / te groei nie.
Ek het gister gelees dat die spierpyne en dowwe kop sommige pasiënte nog vir jare na die afsluiting van behandeling lasgee. En die verswakte sig. En die uitputting. Deurentyd is daar ook die wete dat die chemo jou moontlik oor ’n paar jaar ’n ander soort kanker kan gee. In my geval is dit leukemie. As ek sou besluit om nie die hormoononderdrukkers ná die behandeling te gebruik nie, is daar ’n 72% kans dat die kanker sal terugkeer. As ek sou besluit om dit wel te gebruik, is ek verseker van aardige newe-effekte vir die volgende vyf jaar. Aan die ander kant – as ek die volgende vyf jaar kan oorleef, verminder my kans om weer kanker te kry dramaties.
What to do, what to do?
As die siekte terugkeer sal ek dit weer kaalvuis aanpak, dit weet ek. Al wat ek op hierdie dag vra is ’n ruskansie. Mens word moeg, al was jy bevoorreg genoeg om net ’n bors te verloor.