Noem my sommer Thuli
Advokaat Thulisile Nomkhosi Madonsela (53), ons gewilde openbare beskermer, is dalk die magtigste vrou in die land, een wat selfs die president ’n bietjie laat bewe, maar sy is beslis in die eerste plek ’n ma. Dis wat jy hoor en sien wanneer sy oor haar kinders, Wantu (27) en Wenzi (24) praat. Weg is die gereserveerdheid in haar stem, die taktvolle, diplomatiese antwoorde, die erns. Haar oë vonkel, haar stemtoon verander en sy lag spontaan. Die een oomblik is ons nog joernalis en Baie Bekende Persoon, die volgende oomblik net twee enkelma’s wat oor ons kinders gesels.
“Asseblief, noem my sommer Thuli,” sê sy.
Sy is al jare ’n enkelma. “Ek het gekies om nooit met hul pa te trou nie, maar ons het ’n langtermynverhouding gehad. Toe hy nog geleef het, was hy baie betrokke. Dit was beslis ’n geval van mede-ouerskap. Ná sy dood het hulle my verantwoordelikheid geword, maar familie het my darem nog altyd ondersteun.
Sy het ’n boodskap vir ander enkelouers. “Fokus op wat jy het, eerder as op wat jy dalk sou hê indien jy ’n lewensmaat gehad het. Kyk na alles waarmee God jou seën, en gebruik die ruimte tussen jou en jou kinders om die beste vir hulle te doen en humanitêre waardes oor te dra. Leer hulle om die mensdom lief te hê en ’n seën eerder as ’n las vir ander te wees. Maak hulle groot om in hulself te glo en om gelukkige mense te wees. Uiteindelik is die lewe waardeloos as jy glo jy is net op aarde om te ly. Ons kan nie kies watter pyn die lewe aan ons uitdeel nie, maar ons kan kies of ons net gaan ly of nie.”
Haar ouerskapfilosofie is op haar sterk Christelike geloof gegrond. “Ek glo jy moet jou kinders Christelike waardes leer. God eerste, wees lief vir jouself, wees lief vir jou naaste, moenie ander seermaak nie … Die manier waarop ek grootgemaak is, het natuurlik ook ’n invloed. My ouers was baie gemeenskapsgerigte, deernisvolle mense. Ek leer my kinders ook dat ons drie baie bevoorreg is en dat hulle dit moet gebruik om sover moontlik ander mense se lyding te keer of te beëindig.”
Wantu, wat eers teologie studeer het, studeer nou politieke wetenskap. Hy gee Saterdae by ’n laerskool in Tembisa ekstra klasse vir leerders wat met wiskunde, Engels en wetenskap sukkel. Wenzi, ’n regstudent, het haar eie liefdadigheidsorganisasie.
Thuli gun haar kinders die geleentheid om hul eie identiteit te hê, hul eie pad deur die lewe te kry. Sy het immers ook ervaring van die wye draaie waarop die lewe ’n mens soms neem.
“Glo my, jou kinders word uiteindelik soos jy – al ontken hulle enige ooreenkomste tussen ons en hulle”
Sy vertel sy het in ’n “super-gelowige huis” grootgeword waar die gesin soggens saam gebid en saans saam huisgodsdiens gehou het. Sy was ook in Christelike skole in Swaziland. As student aan die Universiteit van Swaziland het sy begin om alles in die Bybel te ondersoek. “Ek ken ’n klomp mense wat vandag ateïste is wat eers teologie studeer het. Ek het begin vrae vra oor die aard van God, hoekom Hy lyding toelaat. Weens alles wat ons onder apartheid beleef het en onder die invloed van een van my dosente het ek al meer na Marxisme geneig.”
Kort voor lank was sy ’n ateïs. In haar vroeë twintigerjare was sy selfs met die Sciëntologie-beweging deurmekaar. Daarna was sy agnosties.
’n Boek van die Christen-skrywer Louise Hay, You can Heal your Life, het haar lewe verander. Sy weet nou onteenseglik haar heil en al die antwoorde op haar vrae lê by God. Haar geloof het die anker in haar baie openbare lewe en hoëprofielloopbaan geword.
“My geloof gee my vreugde en vrede. Dit stel my in staat om dinge wat buite my beheer is, te laat gaan. Dit gee my ook die vaardighede om weer uit te kom by die deel van my lewe waaroor ek wel beheer het.”
Haar geloof het haar ook kalm gehou toe dit bekend word dat daar ’n aanslag op haar lewe beplan word. “My lewe is in God se hande. Hy alleen sal besluit wanneer ek sterf,” verklaar sy kalm.
Sy is ’n gebore sosiale aktivis. “Ek veg al vandat ek kan onthou vir maatskaplike geregtigheid, die oppergesag van die reg en menseregte. Dit sal altyd so bly, ongeag watter loopbaanrigting ek inslaan wanneer my termyn verstryk. Ons hele familie is so. My ouers was albei sosiale aktiviste, maar nie regtig polities nie. Hulle sou ongeregtighede in ons gemeenskap probeer regstel. Jy kan maar sê my ma was ’n informele maatskaplike werker, altyd besig om mense se dispute te probeer oplos en hul probleme onder die regte mense se aandag te bring.”
Thuli was in haar tienerjare by die struggle betrokke, later ook by die vakbondbeweging Cosatu. Sy het eers vir ’n B.A.-graad aan die Universiteit van Swaziland ingeskryf, en haar destydse sosiologiedosent, Pat McFadden, het ’n sterk sin vir sosiale geregtigheid by haar laat posvat.
“Ek dink almal wat met haar te make gekry het, het polities bewus geraak. Ek het besef ek is op ’n manier my spreekwoordelike broer en suster se hoeder.”
Daarna het sy regte aan Wits studeer en uiteindelik een van die opstellers van ons Grondwet geword.
Sy stel nie in politiek belang nie, al is sy voor 1994 gevra om parlement toe te gaan.
“Ek beskou politiek glad nie as my doel in die lewe nie. Ek wil mense help met raad, as bemiddelaar optree of mense help om hul regte uit te oefen. Myns insiens is een van die groot leemtes in ons samelewing dat mense nie weet wat hul regte is of om daarop te staan nie.”
Sy glo nie aan kla nie. “Ons kan in die donker sit en kla, maar onthou, wanneer jy ’n kers aansteek, verdryf dit die donker. Daar is geen hoeveelheid donkerte wat ’n kers kan blus nie.”
In onderhoude en op Twitter lyk en klink sy altyd positief maar sy erken dat daar soms moeiliker dae is. “My positiewe kant kom waarskynlik van my ma af. Sy was ’n huiswerker en my pa eers ’n arbeider en daarna ’n entrepreneur en taxi-eienaar. Ons was betreklik arm, maar aan ander standaarde gemeet, welaf. Tog, al was daar dae dat ons nie kos gehad het om te eet nie, het my ma ’n enorme kapasiteit vir vreugde gehad. Ondanks probleme op haar pad was sy nooit die klaerige soort nie. Sy het altyd gefokus op die dinge wat sy kon oplos. Maar ja, daar is beslis dae wanneer ek my moet dwing om weer te fokus.”
Dinge soos die mors van staatsgeld terwyl daar mense sonder kos, water en mediese versorging is, maak haar woedend.
“Sulke amptenare sal nooit hul eie geld so mors nie! As jyself vir iets moet betaal, wil jy dit mos op die goedkoopste manier doen en jy wil seker wees dit werk.” Haar simpatie lê by die slagoffers, of hulle “die wrede kant van die mensdom” ervaar het, of die traak-my-nie-agtigheid van die regering. “Ek vra myself altyd af: hoe kán mense dit aan mekaar doen? Maar dan moet ek my ook daaraan herinner dat die meerderheid van die mensdom werklik goeie mense is wat ook vir ander mense goeie dinge wil hê. Die mense wat ons samelewing ernstige skade berokken, is in die minderheid. Ons moet dit altyd onthou.”
Sy is beslis daaroor dat ons nie moed oor Suid-Afrika moet verloor nie, al het ons probleme. “Ons het nog genoeg dinge wat in ons guns tel: die grondwet, die goedheid van die mensdom, die oppergesag van die reg … Die meeste mense in Suid-Afrika het die behoefte om die wense te eer van diegene wat vir ons die weg na die nuwe Suid-Afrika gebaan het en die land te laat vooruitgaan. Ons het ook die vermoë om dit te doen.”
Tog beteken dit nie sy is nie krities nie.
“Ek kritiseer, ja, maar ek glo ons kan nog ’n klomp kerse in hierdie land aansteek – saam met die baie wat ek reeds aangesteek sien! Lig is altyd sterker as die donker – dis net ’n kwessie van tyd voor die lig oorneem.”
Wanneer haar opvolger teen die middel van Oktober haar amp as openbare beskermer oorneem, wil sy rus. Minstens ’n jaar lank. “Ek sien uit daarna. Ek sal die rus geniet maar beslis ook die adrenalien van die geveg teen korrupsie mis, en die warm gevoel wanneer jy al die Gogo Dhlaminis van die wêreld met hul probleme kan help.” Sy het nog geen vaste planne vir haar toekoms nie.
“Ek wil ’n akademikus wees, weer in die regswêreld werk, beslis ’n sosiale aktivis wees. Dalk doen ek nog iets internasionaals maar aan die ander kant voel ek tog daar is nog so baie werk om hier in Suid-Afrika te doen.”
Sy herhaal haar weersin in politiek. “Die Freedom Charter sê die mense sal regeer. Maar ’n mens regeer nie net deur ’n politieke amp nie, maar ook deur bewus te wees van hoe die politici ons kollektiewe hulpbronne en mag gebruik en wat daar in ons naam gedoen word. Ek sou graag wou hê dat daar ’n verenigde burgerlike beweging is wat nie aan enige politieke party verbonde is nie, wat mense in magsposisies verantwoordelik hou vir wat hulle doen en kyk of hulle hul beloftes nakom. Ons moet ophou fokus op this must fall, that must fall. Ons moet liewer kyk na wat behoort te gebeur en dit met ons grondwet en reg vergelyk. Wat moet ons doen om die verkeerde goed om ons te verander?”
En die verrassendste ding wat ek in die onderhoud agtergekom het? Sy dra ’n afskrif van die grondwet in haar handsak. Elke dag.
Hoe ontspan Thuli Madonsela?
Haar werksdag eindig nie as sy die kantoordeur agter haar toetrek nie. Sy reis dikwels vir haar ondersoeke en is ’n gewilde spreker, ook internasionaal. ’n Werkdag van twaalf uur of langer is nie uitsonderlik nie. Hoe ontspan sy? “Ek slaap! Wanneer ek die tyd het, slaap ek van ’n Vrydagaand tot sowat twaalfuur op ’n Saterdag. Maar ek het dit lank laas gedoen. Ek slaap sowat vier uur snags – ek probeer om teen elfuur te slaap en staan weer drieuur op.” Dis haar skryftyd. Sy skryf verslae, maar werk ook aan haar eie boeke, onder meer een oor inspirerende Suid-Afrikaanse vroue.
•
Gebed is vir haar ’n belangrike teenvoeter vir stres, “ook deur die dag wanneer dinge verkeerd loop”. Sy mediteer ook wanneer ’n dag te dol word. “Ek probeer oefen en het tot voor die waarskuwing van ’n moontlike sluipmoordaanval, graag gaan stap. Nou oefen ek maar binnenshuis.”
•
Sy speel ook graag bordspeletjies, kaart en skaak met haar kinders. Sy lag toe sy verduidelik hoe hulle 30 Seconds speel. “Hulle kla ek speel dit anders as hulle! Maar ek voel ’n mens moet tog iets leer ook. Nou sê hulle ek bederf die speletjie vir hulle.”
•
Haar werk vereis dat sy baie moet lees maar as sy vir ontspanning kan lees, kies sy – in hierdie volgorde – koerante, aanlynartikels oor veral leierskap, of iets met ’n godsdienstige strekking, asook tydskrifte. “Dis makliker as boeke, want dis korter en my tyd is min. ’n Lekker tydskrifartikel help my om af te skakel. En ek geniet mode-artikels!” As dit kom by boeke, lees sy graag biografieë.
•
Sy is baie gesteld op haar voorkoms en ook op wat sy eet en drink. (In albei my onderhoude met haar het sy net ’n glas kookwater met suurlemoensap gedrink.)