Die reën sak grys uit oor die koue stad. Stroewe motoriste toeter ongeduldig. Ons kruie (geduldig) verby droewe mynhope en grys geboue waaruit rook vaalblou bol. Later glip wintergeel grasvelde en rooi beeste by ons verby. Êrens kondig ’n verlate spoorwegbordjie ’n onsigbare “stasie” se naam aan: “Tuisbly”.
Kry vir jou, plekkie-langs-die-treinspoor, dink ek bly. “Tuisbly” is vir die volgende paar dae nie my tuiste nie. Ons mik vir Thornybush Game Lodge. Dis nou daar doer in die Bosveld, naby Hoedspruit, en neffens die Krugerwildtuin.
En wát ’n wonderlike en weelderige tuiste is dit nie. Argitektoniese vernuf, veld en bos loop hier hand aan hand. Indrukwekkend, maar nie opdringerig nie, staan die vyfster-lodge daar. Boonop skyn die son hier warm en ’n ongeskikte getoeter hoor jy ook nie (’n luide getrompetter dalk). Die gasvryheid en diens van die mense wat jou onthaal, eggo dieselfde onopgesmukte eerlikheid en warmte.
Wanneer jy die deur van jou suite oopstoot, voel jy byna oorweldig. Dis so mooi. En skoon. En ruim. Gaan jy onmiddellik op die groot wit bed neersak? Of eerder in die dekstoel op die balkon terugsit en son en veld inasem? Of moet jy in ’n skuimbad lê en deur die muurgrootte badkamervensters kyk hoe die diere in die droë rivierloop wei? Uiteindelik kon jy die nuwe houtdek by die hoofgebou met sy wye uitsig op die bos, rivierloop en ’n watergat nie weerstaan nie. Dié gedeelte is sag op die oog en die lyf: lieflike interieur onder die blou hemel, gemaklike stoele, kaggels (winteraande knyp die koue), ’n kroegie, en vriendelike mense wat vir jou warm koffie – of waarvoor jy ook al lus is – skink.
Die diere was net so gasvry soos die mense – van die twee njalas wat my op die stoepie van my suite verwelkom het, tot die apies wat soggens – tot ergernis van die personeel – ook vir ontbyt wou aansit. ’n Mens wil nou nie gasvryheid in die gesig vat nie, maar ek was elke keer maar dankbaar wanneer Maanhaar of Grootvoet my nie op my stoepie ingewag het nie. Toe ek hoor ’n luiperd het ’n vorige aand ’n veldwagter se plakkies op sy stoep lê en opkou, het die onrustigheid toegeneem.
Telkens wanneer ons op ’n wildrit gegaan het, het die diere sowaar ook hul beste vir ons voorgesit: ’n klomp leeus wat vetpens in die son lê en bak nadat hulle hulle aan ’n buffel vervreet het; welpies wat versigtig naderkruip om in die buit te deel; ’n luiperd wat sierlik in die middel van die pad staan en poseer en toe onelegant ’n hanetree van ons af in die sand neerplons; koedoes, buffels, seekoeie, voëls … ’n olifant wat teen die voertuig ’n boom staan en plunder. Die eerste keer het ek gesien ’n olifant het lang, báie lang en benydenswaardige wimpers . Nou moet ek darem byvoeg dat ons veldwagter en spoorsnyer, Ryno en Orlando, hulle brandbors geloop/hardloop het om die diere se spoor te sny. Dié manne ken hul storie en ontsien geen moeite om ’n vars spoor te vat en die ervaring vir besoekers besonders te maak nie.
Die lodge bied twintig losstaande suites, waarvan een reeds smaakvol en elegant oorgedoen is – suiwer weelde sonder om Afrika in te boet. Die ander suites behoort teen 2017 afgehandel te wees. Die biblioteek sorg vir leeslustiges; die spa vir almal wat die spanning uit die lyf wil kry; die swembad is vir mense, maar loop lig, want die diere eis dit soms as ’n drinkplek op.
’n Mens kan sowaar nie dink dat jy honger en dors kan word van niksdoen en nonsens praat nie. Maar Thornybush se mense weet van beter. Hulle ken hul klante en verrassing op verrassing wag op jou: Ná ’n skermerwildrit trek Ryno-hulle in die donker by ’n stukkie wildernis in. En toe is ons skielik op ’n ander planeet: rye kerse in bruinpapiersakke tussen die bosse, ’n vuur wat hoog en warm brand, die heerlikste versnaperinge, drinkgoed … En ons kuier en ons praat . Terug by die lodge wag aandete. En ons val sowaar as wragtag weer met oorgawe in. Jy vat tog nie ’n sjef in die gesig nie. Jy lê weg aan als wat wonderlik is: springbokskenkels, groente, nagereg, goeie wyn, goeie geselskap. ’n Volgende aand eet ons braaivleis in die mooiste lapa. Kerse en vure. Praat. Kuier.
’n Stukkie doringlose hemel in die Afrika-bos.
Thornybush Game Lodge is deel van die The Thornybush Collection – ’n natuurreservaat wat jou vele verblyfopsies bied. Kyk by: www.thornybushcollection.co.za