The White Crow: Skitterende fliek oor Rudolf Nureyev deur Corlia Fourie. Foto’s verskaf.
Rolprent: The White Crow met Oleg Ivenko. Regisseur Ralph Fiennes
The White Crow vertel die verhaal van die legendariese Russiese balletdanser, Rudolf Nureyev, se kinderdae en opleiding in Rusland en die dramatiese dag toe hy in 1961 op die Paris Le Bourget-lughawe na die Weste oorgeloop het.
Die prent kan beslis aanbeveel word, want die ballet is pragtig, die Paryse tonele ook en die swart-en-wit- tonele van Nureyev se armoedige kinderjare in Oefa, Rusland laat ’n mens besef presies hoe ver die briljante danser gekom het.
Lees ook: Rusland, laag op laag soos ’n matrosjka-pop
Selfs sy geboorte was dramaties: Rudolf is op 17 Maart 1938 op die Transsiberiese trein naby Irkutsk, Siberië gebore toe sy ma op pad was om by sy pa, ’n soldaat, aan te sluit. Sy ouers was Tartaarse Moslems.
Nureyev, wat op 6 Januarie 1993 aan Vigskomplikasies oorlede is, word as die beste balletdanser van sy tyd beskou met die titel van “Lord of the Dance.” Met sy teenwoordigheid, sy passie en sy sierlike spronge het hy die manlike balletdanser net so belangrik soos die vroulike dansers gemaak.
In die rolprent is hy egter die Wit Kraai, ’n Russiese gesegde vir iemand wat eenkant, anders is. Hy word dan ook uitgebeeld as baie ernstig, eintlik obsessief oor sy professie, terwyl mens terselfdertyd aan hom dink as moeilik en selfsugtig.
Regisseur Fiennes het ’n regte jong balletdanser, Oleg Ivenko, ’n solo-danser van die Jalil Tatar-balletgeselskap, vir die hoofrol gekies. Ivenko dans lieflik en hy speel Nureyev as ernstig en broeiend intensief, maar ’n mens voel tog dat die danser dalk bietjie meer flambojant uitgebeeld kon word.
Regisseur Fiennes speel ook in die prent. Hy is die beroemde dansmeester Alexander Pushkin wat Nureyev se talent raaksien en hom met buitengewoon baie geduld afrig. Pushkin se vrou, Xenia (gespeel deur Chulpan Khamatova) stel ook in Rudolf belang, maar haar belangstelling is meer in hom as aantreklike sensuele jong man en sy nooi hom om by haar en haar man te kom bly en verlei hom uiteindelik. (En mens wil die geduldige dansmeester sommer ’n paar klappe gee om hom tot aksie aan te moedig, maar hy bly net passief vriendelik.)
In die fliek word die gebeure op die Paryse lughawe geweldig dramaties uitgebeeld wanneer die Kirov-dansgroep regmaak om na Londen te reis. Nureyev is tydens die groep se Paryse optredes deur die KGB-beamptes dopgehou wat agterdogtig geraak het oor sy gedrag (soos sy besoeke aan gay kroeë en sy vriendskap met die Franse glansvrou Clara Saint.) Toe die Russiese beamptes hom na Rusland wil terugstuur, skep dit vir Rudolf ’n geweldige krisis, want hy vermoed hulle wil hom in die tronk gooi terwyl hy ’n droom het om as balletdanser internasionaal op te tree.
Buiten die hoofrolspeler wat myns insiens ’n bietjie meer flambojant kon wees, is daar ook ’n probleem met die manier waarop die storie elke paar minute in ’n ander tydgleuf is – van Parys, terug na sy opleiding in Rusland, terug na sy kinderdae, weer Parys, ensovoorts. Die gebeure op die lughawe is so spannend dat ’n opbou daarheen kronologies kon verloop en minder verwarrend sou wees.
Die prent is nogtans, desnieteenstaande ’n besoek werd.
Hierdie film draai tans in fliekteaters.
Loer hier na die lokprent: