Testosteroonaanvullings vir mans: Is dit iets wat hy moet oorweeg? deur Salomé Delport. Hooffoto: iStock/Likoper
Testosteroonaanvulling doen dit beslis vir mans verby die vyftig-merk.
En nie net vir daardie een ding nie.
Baie mans voel emosioneel goed. “Soos ek altyd gevoel het. My brein is skerp, en ek sien kans vir uitdagings,” soos iemand dit aan dr. Malcolm Sandler, Kaapse endokrinoloog gestel het.
Ná testosteroon ’n paar jaar gelede algemeen beskikbaar geraak het, was mans nogal geesdriftig oor hierdie bra seer inspuiting. Maar toe bars die bom: vroue op hormoonaanvulling het ’n effens hoër risiko op hartsiektes en borskanker.
Lees ook: 7 maklike maniere om jou hoë bloeddruk te verlaag
Sou testosteroon dieselfde risiko’s vir mans kon inhou, met prostaatkanker as die manlike ekwivalent vir borskanker? Oorhaastigheid met die vrouehormone is verruil vir groter versigtigheid, en verskeie ondersoeke het gevolg, soos die T Trials. Die uitslae hiervan het in 2017 in die New England Journal of Medicine en die JAMA verskyn.
Dit het die vraag verander van “wil hy?” na “durf hy?”
Lees ook: Wat mans by vroue oor seks wil weet en Wat vroue by mans oor seks wil weet
Aan die pluskant
Al die verskille was klein maar nogtans duidelik.
- Testosteroon help beslis vir libido, begeerte, gereelde aktiwiteit en ereksie.
- Mans op testosteroon is ’n bietjie fikser en sterker.
- Mans op testosteroon het energieker en positiewer gevoel, met minder tekens van depressie. Nogtans het testosteroon gemiddeld min invloed op breinfunksie en kognisie (geheue en verbale, visuele, uitvoerende en ruimtelike vermoëns) gehad.
- Testosteroon het vir meer as die helfte van deelnemers met anemie gehelp, en het hul rooibloedseltelling verbeter.
- Testosteroon het beendigtheid verbeter, veral van die heup en ruggraat.
Lees ook: 6 redes hoekom seks goed is vir jou
Maar kan sy hart dit vat?
Die groot bekommernis was aanvanklik prostaatkanker. Net drie uit die 790 mans – almal bo 65, en aanvanklik gesond, met geen hartsiekte of prostaatrisiko nie – het prostaatkanker ontwikkel.
Maar twee was op plasebo’s, en het juis nie testosteroon ontvang nie. Kan jy aflei dat testosteroon mans teen prostaatkanker beskerm? Dit tref immers eerder ouer mans wie se testosteroonvlakke tipies laer as dié van jonger mans is. Die navorsers sê die ondersoek het te kort geduur om enigsins so ’n afleiding te maak.
Maar die resultate vir hartrisiko’s was veel duideliker … en kommerwekkender. Binne ’n jaar was daar ’n merkbare opbou van plaak in die hartslagare van 170 mans. Dit kan dui op ’n groter risiko op hartsiektes, hoewel nie noodwendig nie. Stabiele plaak is gewoonlik oukei, maar as dit “lek” of groter raak en die are verstop, kan hy ’n hartaanval kry.
Lees ook: Hoe help jy jou man herstel na ’n hartaanval?
Kan jou man testosteroon waag?
Dit hang af van sy spesifieke gesondheidsprofiel, sê die navorsingspan. Vir iemand met ’n hartrisiko het testosteroon potensieel groot risiko. Vir ’n man met ’n gesonde hartprofiel maar met osteoporose of ’n gebrek aan energie en gedrewenheid kan dit ’n suksesvolle plus wees.
Lees ook: 11 maklike happies vir laer cholesterol
Dr. Sandler sê dit is presies hoekom mans nié sommer op hul eie testosteroonjels of aanvullers moet aanskaf nie.
“Sy dokter moet vooraf sy risiko op hartsiektes en prostaatkanker bepaal, en elke jaar monitor. Ek sal beslis nie testosteroon voorskryf vir mans met ’n effens hoër PSA-telling nie. (Dit dui op ’n risiko op prostaatkanker.)”
“Daarby kan hy en sy dokter nie sommer net aanvaar dat sy testosteroonvlak laag is omdat hy ouer is nie. Baie ouer mans het ’n normale testosteroonvlak. Dit moet vooraf getoets word sodat hy nie onnodig baie testosteroon gebruik nie.”
“Verder is testosteroon nie altyd die beste oplossing nie. As dit vir ’n man oor seks gaan, is viagra-tipe middels heelwat goedkoper en baie suksesvol.”
Lees ook: Hoe om beter oor seks te praat
“Maar testosteroon kan nuttig wees. Dit help sommige manlike diabete om hul gewig en veral midrifvet te beheer.”
Lees ook: Jaarlikse mediese toetse wat mans moet ondergaan
Wat kos dit?
Daar is twee voorskrifmiddels, albei inspuitings. Die duurder een word geleidelik vrygestel en hou die testosteroonvlak stabiel, terwyl die goedkoper een geleidelik uitwerk.
Saamstellingsapteke kan testosteroonjel, gegrond op ’n man se spesifieke testosteroonprofiel, opmaak.