“Mamma, hoekom het julle in die ou tyd kaalvoet skool toe gegaan tot graad 7? Was daar nog nie so iets soos skoene nie?”
Ek bekyk die klein wysneus in die truspieëltjie onderweg skool toe en antwoord droogweg: “Sodat ons voete nie die donkies seer skaaf waarop ons moes skool toe ry omdat daar nog nie karre was nie.”
Ou tyd. Gmf.
Maar, die waarheid is dat ek vanoggend terselftertyd stokoud en ook baie jonk voel, want ek onthou presies hoe dit vir my op my eerste dag in graad twee en in die destydse standard twee gevoel het. Die vlinders in die graad tweetjie en haar graad vier-ouboet se maag, fladder ook in myne.
Ek dink elke ma se geheue het vakkies waarin elke “terug skool toe”-oomblik van elke kind liasseer word. Vir elke jaar is daar ’n vakkie waarin die geheuefototjie van elke kind kompleet met gekamde kuif en boksterte en linte en breë glimlag en die effense onseker kyk in die kinderogies oor die nuwe skooljaar, gebêre word.
Terwyl ek en die twee Genadetjies vanoggend oor die pad stap skoolhek toe, het ek skielik onwillekeurig deur die vakkies van elkeen die afgelope jaar of ses geblaai. Van die kordate kleuterlyfie met die groot, bont rugsak wat opgewonde aanmeld vir kleuterskool tot verlede jaar se “eerste dag in die groot skool” en “laaste dag in die grondslagfase”.
Ek onthou presies hoe elkeen se handjie in myne gevoel het op so ’n oggend en vanoggend het hoe groot hulle hande ewe skielik in myne voel, my behoorlik ’n knop in die keel gegee.
Die tannies wat kort na elkeen se geboorte gesê het “Geniet dit, voor jy jou oë uitvee, gaan hulle skool toe” was reg. Heeltemal reg. Maar, niemand kon my voorberei op hoeveel vininger dit van daar af gaan nie.
Ek staan verstom oor hoe die klein snip wat aan die begin van verlede jaar nog een sinnetjie per bladsy-boekies wou lees, oor die vakansie skielik haar Ouboet se Trompie-omnibus leen om te lees. Dit alles in net twaalf maande.
Ouboet het nog nou die dag die eerste keer leer menigvuldig en vanjaar maak ons gereed vir die eerste regte-egte skooleksamen. Ek onthou nog baie goed al die nuwe woorde van my standard twee-jaar: eksamen, opsommings, hersiening, vraestelle. En, ek verstaan maar té goed hoekom hy my die laaste week of wat aanmekaar uitvra oor presies hóé eksamen nou eintlik is.
Soos elke jaar hoop ek dat my kinders gelukkig sal wees en maklik sal aanpas by hulle nuwe juffroue. Dat die admin van ’n nuwe skooljaar nie hulle blonde ma sal ore aansit nie en dat ons gou in die nuwe roetine van ’n nuwe akademiese jaar en sport en kultuur en huiswerk kom. Dat hulle ou vriendskappe gekoester sal word en nuwe maats waarde sal toevoeg tot hulle lewens.
Bowenal hoop ek dat hulle sal groei in hulle menswees en dit sal geníét om nuwe dinge te leer.
In die té stil huis na die lang somervakansie, bid ek vanoggend dat ek vanjaar die wysheid sal hê om ook dié dinge die hoof te bied wat nie volgens plan verloop nie en genoeg energie sal hê vir al die uitdagings.
Vir terug skool toe op ons rype ouderdom en boonop ’n paar grade op ’n slag, het mens beslis draftekkies en ’n goeie sin vir humor nodig.
Sterkte aan al die mammas wat vanoggend weer saam met hulle kroos moes wegspring. Mag die nuwe jaar geen boelies, geen vergete huiswerkboeke en gesonde, gelukkige, gebalanseerde kinders inhou.