Teresa Coetzee oor Turkse badmeisies, slim seuns en harde werk deur Mariette Snyman. Foto’s verskaf
1. Jy is ’n joernalis by Beeld en Rapport wat op leefstyl, reis en vermaak fokus. Waaroor skryf jy die graagste?
So ’n klompie jare gelede het die werk my na een van die Absa Cape Epic se roetebekendstellings gestuur en terwyl ek daar na die video-materiaal sit en kyk het, het dit my asem letterlik weggeslaan. Tydens ’n onderhoud met die stigter van die Epic, Kevin Vermaak, het ek vir hom gesê ek wil ook die Epic ry en sy antwoord was nou maar toe, kom ry dit en skryf die storie! En nog voor ek eintlik bergfiets gery het, het ek ’n Epic inskrywing gehad, ’n toegangskaartjie tot een van die moeilikste maar gewildste bergfietsrenne in die wêreld. Dit was die begin van ’n splinternuwe rigting in my loopbaan. Intussen het ek vir Beeld en Rapport oor fietsry begin skryf en dit het my hele lewe verander, want deesdae is fietsry sommer ook deel van my werk.
Wat dit makliker maak, is dat ek self ry en nie net vanaf die kantlyn verslag doen nie. Fietsry het my die geleentheid gegee om op die wonderlikste plekke te kom, van die Alpe in Frankryk tot Mauritius, waar ek al die afgelope drie jaar aan die gewilde Mauritius Vets & Masters toer gaan deelneem en daaroor geskryf het. Ek was ook laas jaar saam met Ursula du Plooy en die Change a Life-liefdadigheidsorganisasie in Sardinië danksy fietsry. Ek ken en verstaan fietsryers en die industrie, wat dit maklik maak om daaroor te skryf.
Intussen is ek uitgenooi om aan bykans al die groot en gewilde fietsmarathonne in die land deel te neem. Ek het al sewe keer die gewilde Cape Pioneer Trek gery en elke keer was daar die wonderlikste nuwe stories waaroor ek kon skryf. Ek het al die Tour de Thuli, TransCape, Sani2C, Berg & Bush, Cradle Traverse, Tankwa Trek, Stormsrivier Traverse, Attakwas Extreme, Joberg2C, Wines2Whales en Y2Karoo gery – en dit alles vir my werk! Dis nou buiten die klomp Absa Cape Epics waaraan ek vir Beeld gaan deelneem het.
Enige ander fietsryer sweer ek het ‘n droomwerk, hoewel ek hulle altyd probeer oortuig dis baie harde werk om so te moet trap en dan nog te skryf ook.
2. Vertel hoe dit voel om interessante streke en lande as reisjoernalis te sien, en watter hoogtepunte jy onthou.
Die wonderlikste deel van my werk is die feit dat ek oor soveel verskillende goed kan skryf. Natuurlik is ek mal oor reisstories en dis heerlik om nuwe lande, stede en plekke te ontdek en so ’n bietjie van die hartklop van ’n plek te ervaar. As joernalis moet ek gewoonlik my sente omdraai en ek hou daarvan om winskopies uit te snuffel en vir mense daarvan te vertel, maar ook om hulle te help om die meeste uit hul volgende reis te kry en plekke te sien waarvan hulle andersins dalk nie sou geweet het nie.
Laasjaar was ek op ’n media-reis Turkye toe en ek het ’n paar dae aangebly in Istanbul omdat ek heeltemal verlief geraak het op die stad. Ek het bitter goedkoop verblyf op AirB&B gevind in Taksem, een van die gewildste dele in Istandbul, en letterlik met geen ekstra geld nie die stad gaan verken. Ek het ’n baie snaakse ervaring by ’n outydse Turkse Badhuis gehad (iets wat ’n mens moét doen) en bloos nou nog oor my Turkse badmeisie wat haar poedelkaal uitgetrek en elke aks van my lyf geskrop het dat die skuimbolle deur die lug trek!
Mauritius het ek op my fiets leer ken en daar is niks so wonderlik soos om deur die strate te ry en al die verskillende geure te ruik, soos die speserye van die inwoners wat kosmaak en die wierook wat hulle brand nie. Dít terwyl jy moet uitswaai vir honde, busse, tuk-tuks en voetgangers!
Ek was ook al twee keer saam met M-Net op die Survivor- eilande, een keer iewers in Maleisië en toe weer in die Filippyne. Wat ’n wonderlike ervaring, hoewel ek sekerder as ooit weet dat ek nie ’n dag as deelnemer sal oorleef nie.
3. Wat is die uitdagings wanneer jy vir jou werk reis?
Ek is verantwoordelik vir twee bladsye in Beeld elke Vrydag, en my redakteur, Barnard Beukman, is gewoonlik toegeeflik met my wanderlust, solank my werk gedoen is – of dit nou vanaf Timboektoe of ’n koffiewinkel in Melville is. Die uitdaging bly om spertye te haal en ek het al my werk vanuit ’n eenmanstentjie met power WiFi gedoen, terwyl my voete pyn en ek eintlik net my ogies wil toemaak en slaap.
Ek het gelukkig ’n wonderlike ondersteuningsnetwerk tuis. My man, Fredel, is my grooste ondersteuner en steunpilaar, en my ma help my ongelooflik baie met die kinders en tuis. En sonder my huishulp, Caroline, sal ek ook nie ten volle kan funksioneer nie.
4. En as jy reis om aan fietswedrenne deel te neem?
Hoewel ek eindelose pret het terwyl ek aan fietswedrenne deelneem, bly dit steeds my werk en soms moet ek ná ’n ren gaan sit en skryf oor die dag se gebeure. Dis harde werk, veral as al die ander mense lekker sit en rus of masserings kry. Ek moes al ná ’n uitmergelende skof tydens die TransCape ’n Afrikaanse toespraak help skryf vir een van my kinders, en selfs groot krisisse by die werk uitsorteer sonder behoorlike selfoonsein en WiFi.
Gelukkig is ek al gesout as dit kom by tasse pak en dit vat my so 15 minute om al my fietsgoed te pak – van valhelm, fietsryskoene, klere, handskoene, al jou aanvullings, sonblok en so. (Ek het eenkeer my sportbra’s vergeet, wat ’n dilemma!) Die uitdaging was aanvanklik om alles in een tas te kry, veral as jy nog jou beddegoed ook moet pak en dit in die hartjie van die winter is.
5. Wat is op jou bucket list?
Sjoe, dis moeilik. Ek het al soveel wonderlike goed deur my werk beleef, van ’n treinrit op die Desert Express, fietsry in die Alpe, lugballonvaarte en swem saam met dolfyne, tot ’n onderhoud met Sir David Attenborough en ’n olifantrit by Camp Jabulani. Op my bucket list is eenvoudig om meer tyd saam met my drie manne, Fredel, Xander en Benno, deur te bring. Al die bogenoemde ervarings sou soveel lekkerder saam met hulle gewees het en soms raak ek hartseer omdat hulle nie saam met my is nie.
6. Vertel meer van dié manne.
Buiten dat ek die lekkerste werk op aarde het, is ek boonop met die wonderlikste man op aarde getroud. Regtig! Fredel verstaan my soms beter as ekself, hy is die een wat my altyd aanhits om dinge te gaan beleef en avonture aan te pak. Hy is so ingestel op my en die kinders se behoeftes dat hy soms van sy eie vergeet. Ek is mal daaroor om saam met Fredel te reis en gelukkig kry ons dikwels die geleentheid om dit saam te doen. Dan neem hy sommer die rol as fotograaf oor, en hy is baie beter met beplanning as ek! Hy is ook die een wat ons koffer netjies hou, een van my grootste uitdagings. My twee seuns, Xander (16) en Benno (13), is my rolmodelle en leermeesters, my daaglikse vermaak en trots. Hulle is inherent baie ordentliker as ek en ek vermoed slimmer ook. Xander ry saam met my fiets en daar is min dinge so lekker soos dit. Benno verras my elke dag met sy insig en humor en wanneer my drie manne by my is, voel ek geborge, veilig en gelukkig. Ek het niks meer in my lewe nodig nie.
7. Hoe sien jy ma-wees se uitdagings?
Tydsbestuur is vir my baie moeilik en ek voel dikwels skuldig omdat ek so baie van die huis af weg is. Tog was albei my kinders verlede jaar top-presteerders by die skool en dit maak my baie trots omdat ek weet hulle is twee selfstandige kinders vir wie ek amper nooit help met skooltake en huiswerk nie. Ek bewonder hulle ingebore morele kompas.
8. Is jy ’n introvert of ’n ekstrovert?
Ek is beslis ’n ekstrovert en ek hou baie van mense. Ek put my energie uit ander mense se energie en ek hou so daarvan om passievolle, inspirerende en wyse mense te ontmoet. Ek is gek oor ’n lekker storie en ek glo elke mens het een. Ek kan nie wegbly van mense wat my laat lag nie.
Ek kan wel met groot gemak op my eie reis en ek was al op 21 stoksielalleen in New York. Ek hou soms daarvan om alleen te wees en het ook al ’n hele paar fietsritte as solo-ryer aangepak, soos die nege dag-lange Joberg2C, al die pad van Heidelberg tot by Scottburgh in Natal.
9. In ons podsending-gesprek gesels jy oor jou liefde vir bergfiets en padfiets ry. Wat is jou oogmerk met jou tweeweeklikste bergfietsrubriek in Beeld?
Ek wil myself nooit te ernstig opneem nie, selfs al neem ek aan groot goed soos die Absa Cape Epic deel, en daarom is dit vir my belangrik om steeds die lesers te vermaak met my alledaagse stories en vrese en dinge. Ek wil vir elke mens daarbuite wys, of jy nou fietsry of nie, dat enigiets moontlik is as jy bereid is om hard genoeg daarvoor te werk. En vir dié wat nie groot maratonne kan bekostig of die tyd het om dit te beleef nie, wil ek die bril wees waardeur hulle kan kyk. Ek hoop ek kry dit reg.
My oogmerk is regtig om fietsry toegangklik vir te maak vir ALMAL, selfs die mense wat net af en toe oor ‘n naweek vir die lekkerte uitkom en gaan ry. Ek wens so ek kan meer mense inspireer om fiets te ry, want dit het ’n splinternuwe wêreld vir my oopgemaak. Ek het al soveel wonderlike mense leer ken deur fietsry, die mooiste plekke gesien en boonop baie bewus geraak van ’n diepgewortelde krag binne my.
Luister nou na ons gesprek met Teresa – dis gratis!
10. Wat weet mense nie van jou nie?
Ek kan soms hard op myself wees en ek pak soms groot goed aan waarvoor ek baie bang is en nie eintlik kans sien nie, maar ek haat die idee om op te gee.
Luister gerus na ons podsendingsreeks, Tussen Ons – dis gratis