Tekens van harsingskudding wat elke ma moet ken. Deur Salomé Delport.
Hie’ kommie Bokke!
As daar een ding is wat jy kan doen vir daardie Springbokkie in jou huis wat oor die volgende wêreldbeker droom, is dit om seker te maak hy doen nie harsingskudding op die skoolsportveld op nie.
Hier is die tekens dat jou kind meer as net ’n stampie teen die kop weg het:
- Hy lê doodstil ná ’n harde hou of laagvat.
- Hy staar, asof hy niks sien en inneem nie, en lyk afwesig.
- Hy is verward. (Vra ’n paar eenvoudige vrae, soos waar hy is, en kyk of hy toepaslik antwoord.)
- Hy staan lomp op, is van balans af, loop strompelend en/of beweeg stadig.
- Hy gooi op.
Tekens wat ná die wedstryd kan kop uitsteek:
- Hy het erge hoofpyn.
- Hy is ongewoon slaperig.
- Hy voel duiselig of dronk in sy kop, en sukkel met balans.
- Hy voel drukking in sy kop.
- Hy kry ’n epileptiese aanval of ’n toeval.
- Hy het dubbelvisie.
- Hy is hipersensitief vir lig en/of geraas.
- Hy voel dof, sukkel om te konsentreer en is vergeetagtig.
- Hy is emosioneel – angstig, huilerig of geïrriteerd en gou kwaad.
- Hy bly moeg en voel asof iets skort.
– Bron: Boksmart
Indien jy hierdie simptome opmerk, maak so gou moontlik kontak met jou dokter of mediese praktisyn vir hulp.
Lees nog: Wat om te doen met disleksie